Amos 1:1-2:16 – Die Here brul teen die nasies

prayer-shawlDie boek begin met ‘n paar detail opmerkings oor Amos en sy tyd om dit histories te veranker. Dit is min of meer die jaar 762 v.C., twee jaar voor die aardbewing (gebaseer op argeologiese getuienis), die tyd van Ussia van Juda en Jerobeam II van Israel. Amos, die skaapwagter (eerder as skaapboer) sien ‘n visioen van God (“woorde wat hy gesien het”) wat sy stem laat hoor soos ‘n leeu wat uit Sion brul.

In agt verwante profesieë word die Here se afgryse en veroordeling van die sosiale, nasionale en geestelike wanpraktyke van die omringende nasies uitgespreek:

  • die Arameërs (Damaskus – vandag Sirië – oor geweld teen vroue en kinders),
  • die Filistyne (Gasa – vandag Palestynse gebied – oor kontrakbreuk),
  • die Fenisiërs (Tirus – vandag in Lebanon – oor mensehandel),
  • die Edomiete (Teman, Bosra – vandag in Jordanië – oor ‘n gebrek aan broederliefde),
  • die Amonniete (Rabba – vandag deel van Jordanië – oor geweld teen vroue en ongebore kinders), en
  • die Moabiete (Kerijot – vandag deel van Jordanië – oor disrespek vir die dood).

By dié veroordeling word Juda, die suidryk (oor sinkretistiese afgodediens), ook ingesluit, maar die langste en wydlopendste veroordeling word aan Israel, die noordryk (oor sosiale ongeregtigheid én minagting van die Here), afgestaan. Daarop word ook verder in die volgende hoofdeel van Amos uitgebrei.

Die profesieë word telkens ingelei met die frase: “So sê die Here …”, waaraan ‘n idiomatiese uitdrukking gekoppel is wat God se afgryse van wat hulle doen, oor te dra: “Oor drie oortredings van (xxx – naam van nasie), ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie …” Dit is nie bedoel om ‘n presiese aantal oortredings aan te wys nie, maar net die herhalende aard van hulle oortredings en die onherroeplikheid van God se oordeel daaroor te onderstreep.

1:3-5 – Téén die Arameërs – oor geweld teen kinders en vroue

Die Arameërs word verkwalik vir koning Gasael se wrede optrede teen Israel by Gilead, gemik teen weerlose lede van die bevolkinge, d.w.s. geweld teen kinders en swanger vroue, waaroor die profeet Elisa só getreur het – iets waarvoor die Ammoniete ook later verkwalik sal word. Vgl. my bydrae oor 2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes. Die Here straf hulle deur hulle na hulle land van oorsprong, Kir in die oostelike dele van Meospotamië (vgl. ook Amos 9:7), in ballingskap weg te voer. Daarmee maak die Here eintlik hulle hele geskiedenis en ontwikkeling ongedaan. Dit is asof Hy hulle bestaan ongedaan en onbenullig maak. Hulle sal nie meer van enige betekenis wees nie. Bikat-Awen is onbekend en Bet-Eden waarskylik ‘n stad in die noorde.

1:6-8 – Téén die Filistyne – oor mensehandel

Die Filistyne en hulle vier stede, Gasa, Asdod, Askelon, en Ekron, word verkwalik vir hulle mensehandel, waarskynlik met mense van Juda/Israel, hoewel dit nie histories gespesifiseer word nie. Hulle het gewone landsburgers in ballingskap weggevoer en aan die Edomiete verkoop. Die vuur van God se toorn sal oor hulle losbreek. Dieselfde sonde word op verskillende maniere ook by die volgende twee nasies aangespreek.

1:9-10 – Téén die Fenisiërs – oor kontrakbreuk

Die Fenisiërs, en hulle stad Tirus, word vir ‘n soortgelyke sonde aangespreek, die sonde van mensehandel, maar met die klem op die kontrakbreuk wat hulle gepleeg het. Hulle het nie aan: “die ooreenkoms met sy bondgenote gedink nie.” Moontlik word hier gedink aan die verskillende kontrakte wat Dawid (2 Sam 5:11 – boumateriaal en die bou van sy paleis), Salomo (1 Kon. 5:1 – hulle het belasting aan hom betaal) en Agab (1 Kon. 16:31 – die troue met Isebel was deel van sy kontrak met die Fenisiërs) met hulle deur die eeue gesluit het. Die vuur van God se toorn sal ook oor hulle losbreek.

1:11-12 – Téén die Edomiete – oor ‘n gebrek aan broederliefde

Die deler is natuurlik net so goed soos die steler. Edom – die stad Teman word genoem – kom dus ook aan die beurt in die Here se veroordeling van hulle sonde. Hulle het mensehandel toegelaat en só die broederliefde met Juda en Israel verloën. Dit vorm natuurlik deel van die jarelange vete tussen dié twee nasies: “Tot vandag toe is is Edom in opstand teen die gesag van Juda.” (2 Kon. 8:22). Hulle word egter nie daarvoor verskoon nie. Die vuur van God se toorn sal steeds oor hulle losbreek weens dié gebrek aan broederliefde.

1:13-15 – Téén die Ammoniete – oor geweld teen vroue en kinders

Die Ammoniete, waarvan die enigste stad, Rabba, genoem word, word veroordeel vir dieselfde sonde as die Arameërs in Gilead – geweld teen swanger vroue en ongebore kinders. Daar is waarskynlik nie ‘n spesifieke historiese gebeure in die oog nie, want die stryd met Juda en Israel het eeue lank geduur. Lees die verhale in Rigters en Samuel om ‘n idee te kry van hoe langdurig en wreed hulle teenoor die Godsvolk opgetree het, spesifiek in die gebied van Gilead wat aan hulle eie gebied grens (Rigt. 3 – tyd van Ehud; Rigt. 10-11 – tyd van Jefta; 1 Sam. 11 – tyd van Saul; 2 Sam. 10 – tyd van Dawid). Die vuur van God sal in oorlog teen hulle uitbars soos ‘n storm of ‘n orkaan en hulle self in ballingskap laat wegvoer.

2:1-3 – Téén die Moabiete – oor disrespek vir die dood

Die Moabiete word vir hulle disrespek vir die begrafnisrituele vir gestorwe soldate, veroordeel, spesifiek die feit dat hulle die bene van die koning van Edom se koning tot kalk verbrand het. Daarmee het hulle probeer om simbolies enige hoop op ‘n hiernamaals vir die koning te ontsê. Dit getuig van die diepste moontlike minagting vir mense met wie hulle ‘n gemeenskaplike afkoms gedeel het. Moab was ‘n afstammeling van Lot, Abraham se broerskind. Edom was ‘n afstammeling van Isak (deur Esau), Abraham se eie kind. Dieselfde lot sal hulle tref as die Ammoniete, ironies genoeg, die naaste familie in terme van afkoms. Moab en Ammon was die twee broersvolke wat van Lot afgestam het.

2:4-5 – Téén Juda – oor sinkretistiese afgodediens

Die Here se gramskap ontvlam ook teen Juda, maar nie soseer oor hulle sosiale of nasionale oortredinge nie, maar ten diepste oor die feit dat hulle die voorskrifte van die Here, sy wet, verwerp het. Hulle sinkretistiese afgodediens laat die toorn van God ook oor hulle losbreek.

2:6-16 – Téén Israel – oor sosiale ongeregtigheid en minagting van die Here

Die groot vrot appel in die mandjie is egter die noordryk, Israel. Amos brei uit oor die omvang van hulle sondes: mensehandel, mishandeling van armes, verontregting van weerloses, en growwe onsedelikheid. Asof dít nie genoeg is nie, kom hulle steeds na die altare en die huis van die Here met die getuienis van hulle onreg by hulle – klere wat afgeneem is, wyn wat by ander gebuit is. Godsdienstige mense het dus nie geskroom om op ongodsdienstige wyse op te tree, en te dink dit maak nie saak vir die Here nie!

Die Here wys hulle dan op hulle geskiedenis waarin Hy hulle nie net uit Egipte verlos het nie, maar juis plek vir hulle gemaak het in die land van ander volkere. Net die Amoriete word hier genoem, hoewel hulle waarskynlik as ‘n sinoniem vir die Kanaäniete gebruik word, die plek waar die Israeliete histories hulle gevestig het (Stuart).

Die Here het boonop vir hulle toegang tot Homself gegee, profete wat as sy woordvoerders en intersessors kon optree, en nasireërs wat aan Hom toegewy kon lewe as voorbeeld vir die volk (vgl. Num. 6). God se begeleiding het dus nie net die Uittog en die Intog ingesluit nie, maar ook die begeleiding in hulle Vestiging in die land.

Dié toegang is egter belemmer deurdat die profete en nasireërs belet is om hulle werk te doen. Daarom sal die Here hulle nou aan hulle eie lot oorlaat. Niemand sal hulleself van God se toorn kan red nie. “Selfs die sterkste soldaat sal daardie dag kaal wegvlug.” Die dag van die Here sal dus niemand spaar wat Hom en sy leiding nie erken nie!

Boodskap

Die oordeel van die Here oor sosiale en nasionale ongeregtigheid sowel as afgodediens is brutaal en onherroeplik. ‘n Mens lees verniet vir ‘n sweempie van tegemoetkoming in hierdie eerste twee hoofstukke van Amos.

Dit is doelbewus. Die Here is téén alle wanpraktyke wat die geloofsgemeenskap sowel as die breër wêreldgemeenskap bedreig. In God se oë kan geen geweld teen vroue en kinders, geen onderlinge kontrakbreuk, geen mensehandel, geen gebrek aan broederliefde, selfs geen disrespek vir die dood ooit geregverdig en/of toegelaat word nie. Nooit en nêrens nie.

Uiteraard het Hy ook ‘n afkeer aan sinkretistiese afgodediens , maar die toppunt vir Hom is as ‘n mens dink jy kan sosiale ongeregtigheid en jou godsdienstige lewe kombineer. Die Here beskou dit as ‘n totale minagting van Homself, laat staan nog wat dit aan ander doen. Dít is die dinge waaroor sy toorn ontvlam, maak nie saak by wie dié dinge voorkom nie – by sy volk of by die nasies.

Amos sal wel later ‘n oproep maak tot bekering waaraan hy ‘n belofte tot herstel sal koppel (hfst. 5), en hy sal sy boek afsluit met ‘n profesie van ‘n lotsverandering in die toekoms. Maar hier aan die begin van sy boek wil hy sy hoorders onder geen illusies laat nie. Die Here eis onverdeelde trou aan Homself én aan die mense wat Hy gemaak het, maak nie saak wie of wat hulle is nie – vriend, vyand, man, vrou, groot, klein, dood of lewend – ALLE MENSE.

Amos


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (6)

  • Iemand het nou die dag vir my gesê dat hierdie stukkie oor die Moabiete wat gestraf sal word omdat hulle die bene van die koning van Edom tot kalk verbrand het, beteken dat God dit verbied dat ‘n mens jouself laat veras ná jou dood, en dat God jou sal straf indien jy dit doen. Mag ek asseblief vra wat u mening hieroor is? Baie dankie by voorbaat.

    • Dit gaan in dié gedeelte oor die Moabiete wat vir hulle disrespek vir die “Edomitiese begrafnisrituele” vir gestorwe soldate veroordeel word. Dit gaan nie oor ‘n algemene reël vir alle mense dat hulle nie veras mag word nie. In die Moabiete se geval het hulle simbolies probeer om aan die Edomiete enige hoop op ‘n hiernamaals vir die koning te ontsê. Wat natuurlik nie beteken dat hulle werklik dit sou kon doen nie, maar vir die Edomiete sou dit daardie betekenis kon hê. Net God kan immers oor die hiernamaals besluit. Die Here veroordeel die Moabiete dus vir hulle minagting van die Edomiete, al het die verassing geen werklike effek op die hiernamaals kon hê nie. Dit geld ook vir ons. Verassing is ‘n baie ou gebruik, eintlik meer wydverspreid as begrafnisse. Daar is geen Bybels-teologiese rede waarom ‘n mens nie veras kan word nie. Natuurlik geld dieselfde begrafnisse. Jy het net deel aan die ewige lewe in Christus, nie deur jou standpunt oor verassing of begrafnisse nie.

      • Baie dankie vir hierdie baie goed uiteengesette en helder geformuleerde antwoord! Ek gaan ‘n uitdruk daarvan maak en dit vir die betrokke person gee. Hopelik sal dit haar bietjie laat nadink.

        • Theunis de bruin

          mag ek dalk byvoeg; daar is nerens ‘n voorgeskrewe manier van begrafnis nie. Verassing, soos begrafnis handel oor die LIEFDEVOLLE HANTERING van ‘n oorledene se stoflike oorskot. Die opstandingsliggaam ‘s ‘n verheerlikte liggaam. Die God wat mens uit niks geskep het sal ‘n verheerlikte liggaam opwek ongeag die manier van die beskikking oor die stoflike oorskot.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: