Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 29. Wat leer jy oor die onderskeid tussen die ware en die valse kerk? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK

Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die onderskeid tussen die ware en die valse kerk.

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk? – 2 Timoteus 1:9-14

Dit is God wat ons verlos en gekies het om ’n toegewyde lewe te lei. Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy genade aan ons te bewys deur Christus Jesus. En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaak deur die koms van Christus Jesus, ons Verlosser, wat die mag van die dood verbreek het en aan ons, deur die Goeie Nuus, die weg gewys het na die onverganklike lewe. En God het my gekies om ’n prediker te wees, ’n apostel en ’n leermeester van dié Nuus. Dit is waarom ek hier in die tronk ly. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms. Hou vas aan die maatstaf van gesonde lering wat jy van my geleer het. En onthou om te lewe in die geloof en liefde wat jy in Christus Jesus het. Bewaar met die hulp van die Heilige Gees wat in ons woon, die kosbare skat wat aan jou toevertrou is. (NLV)

Paulus skryf in sy laaste brief aan Timoteus oor die noodsaak van getrouheid aan die evangelie. Timoteus moet homself herinner aan dié dinge wat Paulus hom geleer het, sodat hy sy getrouheid kan versterk en die passie van sy roeping soos ‘n vuur kan aanblaas in afhanklikheid van die Heilige Gees. Hy moet vashou aan die maatstaf van die gesonde lering wat hy ontvang het. Dan sal hy nie skaam wees om die evangelie te verkondig nie, en sy deel van die ontberings dra vir die evangelie, met die krag wat God gee. Dié getrouheid moet volgehou word in die konteks van mense wat juis die teenoorgestelde doen (Figelus en Hermongenes). Gelukkig is daar ook die  getroues soos Onesiforus wie se onbaatsugtige ondersteuning van Paulus in die tronk as voorbeeld en motivering kan dien.

1. Watter impak het beide die teenstanders van die gesonde leer as die voorstanders daarvan op jou eie geloof en lewe?

2. Paulus spel drie riglyne in die laaste drie reëls uit – Hou vas aan die gesonde lering, lewe in geloof en liefde, en bewaar die skat van die evangelie deur die Heilige Gees. Dink ná oor elke aspek en oorweeg hoe jy dit kan navolg.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan jou opdrag om vas te hou, in geloof en liefde te leef en die evangelie te bewaar.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van 2 Timoteus 1 en my bydrae daaroor: 2 Timoteus 1:1-18 – Getrou aan die evangelie.

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk? – Titus 1:10-2:1

Want daar is baie wat opstandig is teen die regte onderrig; hulle is praatjiesmakers en mislei mense. Dit is veral waar van dié uit die Jodedom. Hulle moet tot swye gebring word. Deur hulle verkeerde leer laat hulle hele gesinne van die waarheid afwyk – en dit vir skaamtelose winsbejag. Een van hulle eie mense, ’n profeet uit Kreta, het van hulle gesê: “Die Kretensers is almal leuenaars; hulle is wilde diere en lui vrate.” Dit is waar. Berispe hulle dus so streng moontlik om hulle weer gesond in die geloof te maak. Hulle moet ophou om na Joodse mites en na die opdragte van mense te luister wat hulle rug op die waarheid gedraai het. Enigiets is rein vir dié wie se harte rein is. Maar niks is rein vir hulle wat korrup en ongelowig is nie, want hulle gedagtes en gewetens is besoedel. Sulke mense gee voor dat hulle God ken, maar hulle lewe weerspreek dit. Hulle is verwerplik en rebels, ware deugniete wat tot niks goeds in staat is nie. Maar jý moet die soort leefstyl bevorder wat die gesonde leer weerspieël. (NLV)

Paulus wil hê dat die gemeente teen dwaalleraars optree (1:11). Hulle monde moet ook nie net gesnoer word nie, maar hulle moet gehelp word om gesond in geloof te word, deur die gesonde leer aan te hang. Die dwaalleraars bevestig mense in hulle eie sondigheid. Só kan jy egter nie ‘n gemeenskap verander nie! ‘n Gesonde geloof kan net deur ‘n gesonde leer tot ‘n gesonde lewe lei. Met gesonde leer bedoel hy nie soseer die sistematisering van die Christelike geloof wat ‘n mens aan ‘n kweekskool of universiteit sou leer nie, maar eerder die praktiese toepassing van die geloof, waarin hulle deur Paulus onderrig is.  ‘n Mens sou ook van die gesonde leer as dissipelskap kon praat, as’t ware die praktiese implikasies van jou geloof in Jesus Christus.

1. Waar sien jy in jou konteks opstand teen die regte onderrig uit die Skrif raak? Hoe raak dit jou?

2. Hoe kan jy help dat die soort leefstyl in jou konteks bevorder word wat die gesonde leër weerspieël?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat jou eie leefstyl die gesonde leer moet weerspieël.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Titus 1-2 sowel as my bydrae daaroor: Titus 1:1-16 – Gesonde geloof en Titus 2:1-15 – Gesonde leer.

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk? – 1 Timoteus 4:1-5

Die Heilige Gees leer ons duidelik dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom. Hierdie dwaalleraars is skynheiliges en leuenaars. Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood. Hulle sal sê dit is verkeerd om getroud te wees en verkeerd om sekere kosse te eet. Maar God het daardie kosse geskep om met danksegging geëet te word deur mense wat die waarheid ken en glo. Aangesien alles wat God geskep het goed is, moet ons nie enigiets daarvan verwerp nie. Ons moet dit met blydskap ontvang, met dankbare harte. Want ons weet dit word deur die woord van God en gebed aan God toegewy. (NLV)

Paulus beskou die plaaslike gemeente as “die draer en beskermer van die waarheid” (3:15).  Dit dui nie net op die waarheid van die evangelie nie, maar op die waarheid van Jesus Christus. Die gemeente is (letterlik vertaal): “die pilaar en grondslag van die waarheid” van Jesus Christus. Dit beteken alles en almal in die gemeente moet meewerk om die evangelie van Jesus Christus aan hierdie wêreld op ‘n egte en outentieke manier bekend te stel. Die waarheid van God se openbaring is op die spel.

1. Paulus wil hê dat die waarheid gekoester word, omdat die gevaar van afvalligheid so groot is.  Hy help ons verstaan dat wat die dwaalleraars as ‘n diep waarheid verkondig– om jou van die huwelik en sekere kossoorte te weerhou – skynheilige misleidings blyk te wees. Dit is verdraaiings van die waarheid.  Die gemeente moet hulle nie daardeur laat meesleur nie. Hoe sien jy dit raak in jou eie konteks?

2. Die bron van die dwaalleringe oor die huwelik en kos word as leerstellings van bose geeste uitgespel wat deur dwaalleraars verkondig word. Hoekom dink jy word die onsigbare geestelike kant van die dwaalleringe beklemtoon?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat jy as deel van die gemeente ‘n draer en beskermer van die waarheid in die Skrif moet wees. Wees prakties in jou nadenke hieroor en dink oor hoe jy dit kan uitleef.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van 1 Timoteus 3-4 lees en my bydrae daaroor: 1 Timoteus 3:14-4:16 – Die gemeente as draer en beskermer van die waarheid.

Wat is die onderskeid tussen die ware en valse kerk? – Galasiërs 1:6-9

Ek is verstom oor wat julle gedoen het. Hoe kon julle so gou julle rug op God draai? Op Hóm wat julle deur Christus se genade na Hom toe geroep het! Julle het julle ore uitgeleen vir ’n ander “Goeie Nuus”. Maar daar is geen ander Goeie Nuus nie! Al wat daar is, is ’n paar mense wat julle deurmekaarmaak, ja, wat die Goeie Nuus van Christus wil verdraai. Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ’n boodskapper uit die hemel wees. Ek herhaal: Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het! (NLV)

Let op dat Paulus hierdie brief nie soos gebruiklik met ’n dankie-sê begin nie.  In al sy vorige briewe  is daar ’n dankwoord vir die gemeente.  In sy brief aan die Tessalonisense dank hy God vir hulle geloof, hoop en liefde en aan die Korintiërs vir hulle gawes.  Trouens in al sy ander briewe is daar ’n dankwoord vir die gelowiges van een of ander aard: vir hulle geloof (Romeine), vir hulle samewerking in die evangelie (Filippense), vir liefde en trou (Filemon), vir hulle geloof en liefde wat vrug dra (Kolossense, Efesiërs).

Paulus begin hier in sy brief aan die Galasiërs egter onmiddellik met sy bekommernis oor hulle dat hulle so gou afvallig geword het en ’n ander evangelie aangeneem het.  En hy spreek ’n dubbele vloek uit oor enigiemand wat ’n ander evangelie verkondig as hy. 

1. Hoekom dink jy is Paulus só skerp en onverbiddellik in sy brief aan die Galasiërs?

2. Wat dink jy is die kern van die evangelie – die Goeie Nuus? Beleef jy ‘n konflik met ander wat ‘n “ander evangelie” verkondig? Wat doen dit aan jou? Hoe hanteer jy dit?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat daar net een evangelie is en dat jy geroep is om daaraan getrou te leef.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Galasiërs 1 sowel as my bydrae daaroor: Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef.

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!