Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is die Christelike kerk? – Matteus 16:15-18

Jesus sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie.’” (NLV)

Jesus se identiteit is nou al op verskillende wyses geïdentifiseer deur die loop van die evangelie, ook as die Seun van God. Petrus se belydenis is egter ’n fundamentele standpuntinname oor Jesus.  Dit is ’n dieptepunt in die evangelie en het die belydenis van die vroeër kerk beslissend beïnvloed.  Jesus is nie maar net nóg ’n geneser cum demoon uitdrywer nie.  Hy is die Seun van die lewende God.

Let op dat dié belydenis steeds iets is wat op God se openbaring aan Petrus berus.  Maar, dan is dit ook ’n belydenis wat die fondasie word van die kerk, die vergadering van die geroepenes, wat die boodskap regoor die wêreld gaan uitdra.  Saam met die belydenis kom daar groot verantwoordelikheid.  Mense se ewige saligheid hang van dié belydenis af.

1. Wat sou jou antwoord wees as Jesus vir jou vra: “Wie sê jy is Ek?”

2. Dink na oor hoe jy tot hierdie oortuiging gekom het. Hoe kan jy die oortuiging aangee?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van hierdie belydenis oor Jesus, dat Hy die Messias is, die Seun van die Lewende God.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Matteus 16 lees en my bydrae daaroor: Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap.

Wat is die Christelike kerk? – Efesiërs 4:11-16

Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op. (NLV)

Let op dat in hierdie sleutelteks oor die kerk Paulus klem lê daarop dat die genadegawes aan almal gegee is, omdat alle gelowiges één is.  Sommige gelowiges is selfs gawes – die begin van ons ampsbeskouing – in terme van hulle rolle: apostelsprofeteevangelisteherders en leraars.  Die eerste 3 kategorieë van gawes was mense wat baie keer gereis het om die evangelie te bring (hoewel sommige evangeliste hulleself ook gevestig het [Hand 21:8]), en die laaste 2 was baie keer meer gevestig in ‘n spesifieke werkkring.

Maar, hulle almal het net een doel, en dit is om die liggaam van gelowiges toe te rus vir die gebruik van hulle gawes, sodat die kerk in sy doel kan slaag, om in alle opsigte te groei na Christus toe.  Soos elkeen sy funksie vervul, bou die liggaam homself op in liefde.

1. Dink terug oor gelowiges wat God gebruik het om jou toe te rus. Loof die Here vir die rol wat hulle gespeel het. 

2. Dink aan die gawes wat God jou gegee het. Hoe is jy besig om daardie rol te speel? Waar wil die Here jou nog gebruik?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat God jou gebruik om sy kerk te bou.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Efesiërs 4 sowel as my bydrae daaroor: Efesiërs 4:1-16 – Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe.

Vraag 46: Wat is die Christelike kerk?

1. Wat is die Christelike kerk?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

 Die Christelike kerk word deur God uit die hele menslike geslag tot die ewige lewe uitverkies, beskerm en onderhou. Deur wedergeboorte en geloof behoort ek aan die een, heilige, algemene en apostoliese kerk, die liggaam van Christus. Alle gelowiges is verplig om plaaslik daarby aan te sluit om die Here saam te aanbid. God stuur die kerk om die evangelie te verkondig in getuienis en diens.

3. Lees Handelinge 13:44-52. Wat tref jou?

4. Lees my opsomming van die boodskap daarvan. Help dit jou om die Christelike kerk beter te verstaan? 

Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword

Paulus het op ’n Sabbatdag aan byna die hele stad Antiogië in Pisidië die woord van die Here gepreek. Die Jode het egter jaloers geword en Paulus teengestaan. Daarmee het hulle gewys dat hulle die ewige lewe nie werd is nie. Paulus-hulle kon nou die boodskap van verlossing vir alle nasies bring. Toe die nie-Jode dit hoor, was hulle baie bly. Hulle het die woord van die Here toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het deur daardie hele streek versprei. Die gelowiges was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

5. Help hierdie teks jou om die verband tussen die uitverkiesing en geloof beter te verstaan?

Vertrou op die kragtige hand van God

Die bydraes hervat weer die 30ste September 2019.

Simon Petrus

Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer.  Hierdie dissipel en apostel van die Here Jesus Christus  word in die Bybelteks as ‘n oop en eerlike, selfs effens driftige mens geteken.

Petrus het alles wat hy gedoen het met passie aangepak, selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer, ‘n paar keer heel letterlik van die skuit in die see!  In die proses het hy soms foute gemaak en soms bitterlik gehuil oor sy beperkinge.  Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk. 

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd.  Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad.

Hy het tegelykertyd baie gedoen om die uiteenlopende diversiteit van die groeiende uitbreiding van die kerk te hanteer, onder andere deur self grense oor te steek en gelowiges uit die heidene in te sluit, soos ons in die verhaal van Kornelius lees.  In die proses het Petrus dit reggekry om die geloofsgemeenskap van die vroeë kerk oor alle grense heen as ‘n eenheid te bewaar, waarin sy twee briewe ‘n belangrike rol gespeel het.

Continue reading

Wat bid jy met die laaste drie bedes? – Die belydenisskrifte

Heidelbergse Kategismus 125-129

125 Vraag: Wat is die vierde bede?

Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is (b), en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie (c). Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel (d).

(a) Ps 145:15; 104:27; Matt 6:26. (b) Jak 1:17; Hand 14:17; 17:27. (c) 1 Kor 15:58; Deut 8:3; Ps 37:16; 127:1, 2. (d) Ps 55:23; 62:11; 146:3; Jer 17:5, 7.

126 Vraag: Wat is die vyfde bede?

Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie (a). Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe (b).

(a) Ps 51:3; 143:2; 1 Joh 2:1; Rom 8:1. (b) Matt 6:14

127 Vraag: Wat is die sesde bede?

Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie (a). Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel (b), die wêreld (c) en ons eie sondige natuur (d), nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie

beswyk (e) nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal (f).

(a) Joh 15:5; Ps 103:14. (b) 1 Pet 5:8; Ef 6:12. (c) Joh 15:19. (d) Rom 7:23; Gal 5:17. (e) Matt 26:41; Mark 13:33. (f) 1 Tess 3:13; 5:23.

128 Vraag: Hoe sluit jy jou gebed af?

Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee (a) sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word (b).

(a) Rom 10:12; 2 Pet 2:9. (b) Joh 14:13; Jer 33:8, 9; Ps 115:1.

129 Vraag: Wat beteken die woord Amen?

Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer (a).

(a) 2 Kor 1:20; 2 Tim 2:13.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die Ons Vader.

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm