Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat is die Christelike tug? – Kolossense 2:6-10

Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle geleer is, en loop oor van dankbaarheid. Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleeptou neem met ’n leë, misleidende filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie. Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag. (NLV)

Hierdie gedeelte is die hart van die boodskap van hierdie brief.  Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk. Dit is dus nie net die mense self – dwaalleraars – wat aangevat word nie.  Hy vat primêr hulle idees en praktyke aan.

Paulus beklemtoon dat ander mense in die Kolossense se lewenswandel moet kan sien dat hulle die Here aangeneem het en verbonde aan Hom lewe. Hulle geloof en gedrag, hulle leer en lewe, moet ooreenstem. Dit beteken onder andere dat hulle versigtig moet wees vir leë filosofieë en leringe wat slegs op menslike tradisies berus het. Dit sluit selfs die Joodse reëls oor die besnydenis en feeste in. Hulle moet die gesonde leer van Christus aanhang soos dit aan hulle oorgelewer is.

1. Watter leë filosofieë en leringe wat slegs op menslike tradisies berus sien jy raak in jou omgewing? Watter invloed het dit op Christene wat jy ken?

2. Hoe kan jy help dat ander die slegte invloed van sulke leringe kan raaksien en vermy?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat jou geloof en gedrag net op die Christelike boodskap in die Bybel gebaseer mag wees.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Kolossense 2 sowel as my bydrae daaroor: Kolossense 2:6-23 – Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou.

Wat is die Christelike tug? – Romeine 16:17-20

Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak en Christene se geloof ondergrawe deur dinge te verkondig wat bots met dit wat julle geleer het. Vermy hulle. Sulke mense dien nie vir Christus ons Here nie, maar hulle eie persoonlike belange. Deur hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle naïewe mense. Almal weet egter van julle gehoorsaamheid aan die Goeie Nuus. Ek verheug my oor julle en ek wil graag hê dat julle duidelik sal besef wat goed is en dat julle nie slim sal wees wat die verkeerde betref nie. Die God van vrede sal Satan binnekort onder julle voete verpletter. (NLV)

Baie mense lees tereg die klem op die aanvaarding van mekaar wat Paulus in Romeine 14-15 beklemtoon. Sy motivering daarvoor is dat soos Christus nie aan Homself gedink het nie, moet dié wat sterk is in geloof die swakhede verdra van dié wat nie sterk is nie.  Hy dink aan dinge soos verskille oor kos en drank.

Maar, sulke mense lees nie verder in hoofstuk 16 nie. Daar beklemtoon Paulus dat swakhede in geloof verdra kan word, maar nie verdeeldheid oor die leer van Christus nie. Waar mense dinge verkondig wat bots met dit wat aan hulle oorgelewer is – Paulus dink hier aan beide sy eie leringe as aan dié van die ander apostels – moet sulke mense vermy word. Trouens, ‘n mens moet op die uitkyk wees vir dwaalleringe sodat jou geloof nie daardeur ondergrawe word nie.

1. Wat sien jy vandag raak van hierdie tipe dwaalleringe wat verdeeldheid veroorsaak en Christene se geloof ondergrawe?

2. Wat doen jy om sulke leringe uit te wys en mense te vermy wat sulke leringe verkondig?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat jy ‘n onvervreembare plig het om die geloofsgemeenskap te help om getrou te bly aan die boodskap van die Bybel.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Romeine 16 te lees en my bydrae daaroor: Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het.

Wat is die Christelike tug? – Matteus 16:13-19

Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” “Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.” Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie. Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’” (NLV)

Jesus se identiteit is nou al op verskillende wyses geïdentifiseer deur die loop van die evangelie, ook as die Seun van God, maar Petrus se belydenis is ’n fundamentele standpuntinname oor Jesus.  Dit is ’n dieptepunt in die evangelie en het die belydenis van die vroeër kerk beslissend beïnvloed.  Jesus is nie maar net nóg ’n geneser cum demoon uitdrywer nie.  Hy is die Seun van die lewende God. En dit is belangrik dat die dissipels dít van Jesus snap vóór Hy die pad van die kruis begin loop.  Dit is immers as die Messias, die Christus, wat die kruisdood vir die dissipels en vir almal wat in Hom glo, vir die wêreld, sin en betekenis gaan hê.  Anders is dit net ’n tragiese verhaal van wat kon gewees het. Let op dat dié belydenis steeds iets is wat op God se openbaring aan Petrus berus.  Maar, dan is dit ook ’n belydenis wat die fondasie word van die kerk, die vergadering van die geroepenes, wat die boodskap regoor die wêreld gaan uitdra.  Saam met die belydenis kom daar groot verantwoordelikheid.  Mense se ewige saligheid hang van dié belydenis af.

1. Wie is Jesus vir jou?

2. Hoekom koppel Jesus die sleutelmag van die koninkryk toe aan diegene wat Hom bely as die Seun van God? Wat beteken die oopsluit en toesluit in die praktyk? Watter rol speel dit in die ewigheid?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat saam met die belydenis van Jesus as die Seun van God kom die verantwoordelikheid van die sleutelmag van die koninkryk van God.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Matteus 16 sowel as my bydrae daaroor: Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap.

Vraag 48: Wat is die Christelike tug?

1. Wat is die Christelike tug?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Die Christelike tug is een van die sleutels wat die koninkryk van die hemel vir gelowiges oopsluit en vir ongelowiges toesluit. Die ander sleutel is die verkondiging van die evangelie. Mense wat ’n onchristelike leer of lewe handhaaf, word as teken hiervan uit die geloofsgemeenskap uitgesluit ter bemoediging en bekering. Daarom word hulle terugverwelkom wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys.

3. Lees Matteus 18:15-20. Wat tref jou?

4. Lees my opsomming van die boodskap daarvan. Help dit jou om die Christelike tug beter te verstaan?

Ons moet mekaar terugwen deur met mekaar te praat Jesus wil hê dat ons foute sal regstel deur mekaar terug te wen! As iemand iets verkeerds teen jou gedoen het, praat eers alleen. As dit nie slaag nie, neem nog mense saam. As dit nie slaag nie, sê dit vir die gemeente. Jesus verseker ons: “As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen. Waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar.” Hierdie saampraat is een van die sleutels wat die koninkryk van die hemel vir gelowiges oopsluit en vir ongelowiges toesluit.

5. Watter dinge is vandag ‘n onchristelike leer of lewe?

6. Hoe moet ons mense help ter bemoediging en bekering?

7. Wat moet ons doen as mense nie luister nie?

8. Hoe kan ons mense terugverwelkom wanneer hulle verbetering beloof en bewys?

Om die Bybel te ondersoek, maak die evangelie vir ’n mens oop – Handelinge 17:1-15

Op Paulus se tweede sendingreis stig hy die eerste gemeente op Europese bodem, die gemeente in Filippi. Vandaar reis hy na Tessalonika, die hoofstad van Masedonië en ’n baie invloedryke stad. Lukas het agter gebly in Filippi.

In Tessalonika het Paulus drie weke gebly en moeite gedoen om “die Skrifte” uit te lê en daaruit die boodskap van Christus te verkondig. Hy het spesifiek gedeeltes in die OT gebruik wat aantoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en dit met Jesus verbind.

Sommige Jode en ‘n groot menigte Grieke is oortuig en het by die nuwe Christelike beweging aangesluit. Die Jode was egter afgunstig en het ‘n klomp leeglopers gebruik om die stad teen Paulus-hulle op te sweep.

Van die gelowiges het vir hulle opgekom voor die owerhede – Jason word spesifiek genoem en werk hierna saam met Paulus (Rom 16:21) – en só is Paulus-hulle beskerm sodat hulle kon ontsnap.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm