Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat verwag God van jou in sy wet? – Romeine 8:1-4

Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem. Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood. Die wet van Moses kon ons as gevolg van ons sondige natuur nie verlos nie. Daarom het God sy eie Seun met ’n menslike natuur soos ons sondige menslike natuur na ons toe gestuur om as offer vir ons sonde te dien. Daarmee het Hy afgereken met die sonde in ons menslike bestaan, sodat ons kan voldoen aan die vereiste van die wet – ons wat nou nie meer volgens ons sondige natuur lewe nie, maar volgens die Gees. (NLV)

1. God het ons aan die Here Christus Jesus verbind om ons deur die Gees vry te maak van die greep van die sonde. Dink spesifiek na oor wat die wet nie kan doen nie, sowel as wat ons deur die Gees nou in staat is om te doen met die wet.

2. Loof die Here dat daar nou geen veroordeling is vir dié wat in Christus Jesus is nie. Verbind jou aan die lewe volgens die Gees sodat jy aan die vereistes van die wet kan voldoen.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van die Gees se werk in jou lewe.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Romeine 8:1-17 en my bydrae daaroor: Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

Wat verwag God van jou in sy wet? – Matteus 5:17-20

Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is. As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk. Want Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie. (NLV)

1. Jesus wy uitvoerig in die Bergrede (Matt 5-7) uit oor die blywende betekenis van die wet. Wat staan vir jou uit van sy beskrywing van die wet in Matteus 5:17-20? Wat leer jy daaruit?

2. Wat is die ware bedoeling van die wet? Loof die Here dat Hy so duidelik sy wil vir ons gee en ons seën sodat ons die wet kan nakom.

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat juis Jesus jou aanspoor om die wet na te kom.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 5 en my bydraes daaroor: Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid.

Vraag 9: Wat verwag God van jou in sy wet?

1. Wat verwag God van jou in sy wet soos Hy dit in die Tien Gebooie vasgestel het? Hoe sal jy dit opsom? Is die wet steeds geldig? Hoe hou die wet verband met die genade van die evangelie?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Dat ek God sal liefhê bó alles en my naaste soos myself. Wat God verbied, mag ek nooit doen nie. Wat God gebied, moet ek altyd doen. God verwag persoonlike, volkome, noukeurige en volhardende gehoorsaamheid aan die wet. Die wet is in ooreenstemming met die genade van die evangelie. Die Gees van Christus stel my in staat om te voldoen aan die vereistes van die wet.

3. Die voorskrifte van die wet verskaf ‘n netwerk van vertikale en horisontale riglyne wat oorvloed in die lewe moontlik maak. Hoe help hierdie verklaring jou om die blywende waarde van die Tien Gebooie en die res van die OT raak te sien?

4. Lees Jesus se opsomming van die wet in Matteus 22:34-40. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

’n Wetsgeleerde het Jesus gevra: “Leermeester, wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?” Jesus se antwoord was: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en belangrikste opdrag.” Dit vat die eerste vier van die Tien Gebooie saam. Jesus sê toe: “Die tweede, ewe belangrike opdrag is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit vat die laaste ses gebooie saam. Jesus som dit só op: “Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

6. Wat beteken dit dat alles in die wet en die profete op hierdie twee gebooie “berus”? Een manier om dit beter te verstaan, is om enige gedeelte van die OT te vat en na te dink hoe dit verband hou met die liefde tot God en die liefde tot die naaste. Byvoorbeeld: jy mag geen ander gode náás God aanbid nie – dit “berus” op die liefde vir God. Óf: jy mag geen valse verklarings aflê nie – dit “berus” op die liefde vir jou naaste. Dink self aan ‘n klomp voorbeelde en maak die verbintenis met die dubbele liefdesgebod (bv offers, reinheid, heiligheid, selfs gehoorsaamheid aan moeilike opdragte soos ‘n “heilige oorlog” of die aanvaarding van “ballingskap”).

Wat is die wet soos God dit in die Tien Gebooie vasgestel het?

Ons het verlede week Hervormingsondag gevier. Dié dag waarop ons nadink oor ons Protestantse erfenis. Ons kon die baanbrekerswerk van die Waldense, Johannes Hus van Boheme, Maarten Luther van Duitsland, John Wycliff van Engeland, Johannes Calvyn van Genève, en talle ander hervormers in herinnering roep.

Ons kon nadink oor die vrug van hulle werk wat ‘n neerslag in ons Gereformeerde geloofsbelydenisse gevind het: Guido de Bres se Nederlandse Geloofsbelydenis (1561), Olevianus en Ursinus se Heidelbergse Kategismus (1563) en die bril waarmee ons dié belydenisse lees, die Dordtse Leerreëls (1618-19).

Waarmee hulle ons gehelp het, is om terug te beweeg na die Skrifte, om teenoor die kerktradisie die primêre plek van die Skrifte te beklemtoon (sola Scriptura). Om teenoor die aflaatstelsel die primêre plek van Christus wat sy genade deur geloof in ons lewens aan die werk sit te beklemtoon (solus Christus, sola gratia en sola fide). En oorhoofs vir ons te leer om tot God se eer te lewe (soli Deo Gloria).

Ek wil egter vandag ‘n bietjie verder terug gaan in die geskiedenis, na die basis van die belydenis van Sola Scriptura. Na die eerste gawe van God se Woord aan ons. Na die wet wat God op Sinai in sy eie handskrif aan ons gegee het.

Na die Tien Gebooie.

Continue reading

Wat is die wet soos God dit in die Tien Gebooie vasgestel het? – Die getuienis van die Nuwe Testament

1. Lees die aanhalings uit die Nuwe Testament hieronder. Wat leer jy van die rol van die wet in die NT? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Daar is die wanpersepsie by sommige gelowiges dat Jesus die wet tot niet kom maak het. Dat Hy die werk van God in die OT kom vervang het met ‘n nuwe gebod wat niks met die ou gebod te make het nie. Lees die volgende gedeeltes en oorweeg wat die waarheid is.

Jesus in Matteus

17Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. 19Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. “Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” (Matt 5:17-20)

21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”(Matt 7:21-23)

11“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. 12Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. 13Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. 14En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” (Matt 24:11-14)

Paulus in Romeine en Handelinge

 “14Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself ’n wet al het hulle nie die wet nie. 15Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan.” (Rom 2:14-15)

“Nou weet ons dat ons nie deur die wet gered kan word nie. Ons word deur ons geloof in Jesus Christus gered. Maar sê Paulus: ”31Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.” (Rom 3:30b-31)

4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.” (Rom 8:4)

“Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan.” (Hand 24:14)

“Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus.” (Hand 28:23).

Jakobus in sy brief

25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen. (Jak 1:25)

Johannes in sy briewe en in die Openbaring

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. (1 Joh 3:4)

17En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” (Open 12:17).

 12Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” (Openb 14:12)

14Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. (Openb 22:14).

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid, insig en toekoms wat die wet, die Tien Gebooie, jou gee.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…