Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat beveel God in die sesde gebod? – Matteus 5:21-26

Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: “Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.” Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê “jou gek”, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê “jou onnosel”, sal jy jou in die hel moet verantwoord. As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer. Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi. Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie. (NLV)

1. Jesus wys hoe radikaal die sesde gebod eintlik is. Dit gaan nie net daaroor dat jy iemand anders fisies doodmaak nie. Dit verbied jou ook om kwaad te bly vir iemand, of karakter-moord te pleeg. Dit gebied jou ook om vrede te maak. Hoekom? Watter boodskap het dit vir jou?

2. Verootmoedig jou voor die Here en bely jou aandeel aan verhoudinge wat verbrokkel het. Hoe kan jy dit regstel? Vra die Here vir die moed om vrede te maak, en gaan doen dit dan?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die belangrikheid van goeie verhoudinge binne die geloofsgemeenskap. Ook in die samelewing. Dink aan mense wat haaks is met mekaar en bid vir versoening.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Matteus 5 en my bydraes daaroor: Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid.

Vraag 12: Wat beveel God in die sesde en sewende gebod?

1. Wat beveel God in die sesde en sewende gebod (Eks 20:13-14). Wat sien jy raak? Watter boodskap het dit vir jou?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Ek moet mense nie doodmaak nie. Ek moet rein en getrou bly vir en in die huwelik. Ek mag myself en ander nie onteer, haat, beledig of doodmaak nie, selfs nie my vyande nie. Ek moet alle seksuele losbandigheid buite die huwelik tussen een man en een vrou kruisig, terwyl ek alle onrein gedagtes, woorde, begeertes en dade as ongetroude en getroude vermy.

3. Die sesde en sewende gebod van die wet fokus op die liefde vir jou naaste sowel as die liefde vir jou heel naaste, jou huweliksmaat. Verbeel jou ‘n wêreld waar niemand ooit doodgemaak word nie, en waar huweliksmaats altyd getrou bly aan mekaar. Hoe sal dit anders wees as nou? Hoe sal dit ‘n werklikheid word?

4. Lees die verhaal van die Dawid en Batseba in 2 Samuel 11. Wat tref jou?

5. Lees my opsomming van die boodskap daarvan en oordink dit.

Dawid was lui vir oorlog. Hy val toe vir die versoeking van die mooie Batseba. Toe sy swanger word, reël hy dat haar man, Urija, in die oorlog doodgemaak word. Hy wou sy sonde wegsteek. Batseba was baie hartseer. Dawid het egter met haar getrou. Die Here was baie ontevrede met dit wat Dawid gedoen het. Hy haat dit dat mense doodgemaak word en het Dawid gestraf. Na Dawid om vergifnis gevra het, het die Here hom weer geseën. God haat dit as ons by iemand anders as ons eie man of vrou slaap. Hy wil hê dat ons altyd rein en getrou bly vir en in die huwelik.

6. Die verhaal van Dawid en Batseba wys hoe hy beide die sesde as die sewende gebod oortree. Die een lei tot die ander. Oorweeg jou eie lewe in die lig van hulle verhaal. Waar jy gesondig het, vra die Here om vergifnis en vernuwing. Waar die Here jou nuut gemaak het, loof Hom daarvoor. Volhard daarin.

Die verhaal van twee seuns – Matteus 21:28-32

Dit is die laaste week van Jesus se bediening. Hy het as die “profeet van Nasaret” Jerusalem binnegery op ‘n donkie. Met die Hosannas van die skare in sy ore en die takkies wat wuif (Matt 21:1-11).

Sy missie? Om die tempel te reinig. Dit het ‘n rowersnes geraak wat net om die ekonomiese voorspoed van die leiers en handelaars gedraai het. Van egte godsdiens en gebed was daar nie meer sprake nie.

Soos Jesus vir die Joodse leiers sê: “Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?” (aangehaal uit Ps 8:3). Waarmee hy implisiet die Joodse leiers aanspreek dat hulle die Bybel nie reg lees nie. En dat hulle nie bid nie. Kinders, sê Jesus, doen dit wel, maar die Joodse leiers nie. Waarskynlik ‘n verwysing na Jesus se dissipels en die mense wat Hom volg wat gelees en gebid het (Matt 21:12-17).

Jesus het reguit vir die leiers gesê dat hulle soos ‘n vyeboom is wat nie vrugte dra nie. Daarmee hulle nie maar net ‘n mens verontagsaam nie, maar God self. Jesus het immers met die gesag van God self gepraat.

En Jesus gee ‘n omvattende belofte aan elkeen wat met geloof bid. Waar dit in lyn is met die wil van sy Vader, waar hulle nie net hoor wat God sê nie, maar doen wat Hy vra, sal hulle ontvang wat hulle in gebed vra (Matt 21:18-22).

Om dié boodskap in te skerp vertel hy dan ‘n gelykenis. Die verhaal van twee seuns.

Continue reading

Wat beveel God in die vierde en vyfde gebod? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Heidelbergse Kategismus en die Westminster Geloofsbelydenis hieronder. Wat leer jy van wat God van ons verwag in die vierde en vyfde gebod? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Heidelbergse Kategismus 103-104

103 Vraag: Wat gebied God in die vierde gebod?

Antwoord: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g).

(a) Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23.

104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).

(a) Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21

Continue reading

Wat beveel God in die vyfde gebod? – Efesiërs 6:1-4

Kinders, omdat julle aan die Here verbonde is, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees. Dit is mos die regte ding om te doen! “Eer jou vader en jou moeder” is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ’n belofte verbind is: “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe.” En pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra. (NLV)

1. Wat tref jou van Paulus se opdrag aan kinders en aan ouers?

2. Wat beteken die belofte wat die Here maak vir jou? Wat vra die opdragte hierin van jou?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan God se belofte en opdrag. Doen iets prakties vir jou ouers/kinders in gehoorsaamheid aan hierdie gedeelte.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Efesiërs 6 sowel as my bydrae daaroor: Efesiërs 5:21-6:9 – Ander se belange word eerste gestel in die huwelik, gesin en werkplek.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…