Skip to main content

1 Johannes 1 – Die vleesgeworde Seun van God reinig ons van elke sonde

Jesus is mens en God – vers 1-4

Elke keer as ek hierdie eerste hoofstuk lees, roer dié boodskap my diep binne-in my. Johannes moet die geloofsgemeenskap help om die invloed van die valse profete die hoof te bied.  Waarskynlik sluit dit sy gemeente in Efese in, as dié brief eintlik een van sy preke aan hulle was.  Hy kies daarom om in die eerste vier verse van hierdie brief terug te gaan na die basis van nie net sy persoonlike geloof nie, maar dié geloof wat hy en sy gemeente met die hele Christelike geloofsgemeenskap deel. 

Let op hoe hy aan die eenkant die fisiese kant van die vleeswording van Jesus beklemtoon – hoor, sien, bekyk, met die hande aangeraak.  Vier keer praat hy van sien, twee keer van hoor en een keer van aanraak (vgl. Thomas se behoefte om aan Jesus te raak). Johannes was ’n direkte ooggetuie van die vleesgeworde Jesus, dié Een wat saam met die ander dissipels deur die stofstrate van Jerusalem, Judea en Galilea geloop en die koninkryk van God verkondig het.  Die vleesgeworde Jesus het Johannes dus laat glo en daarvan getuig hy.

Maar, aan die ander kant, is dit vir hom net so belangrik om die geestelike kant van God self te beklemtoon, die kant van God wat in Jesus sigbaar geword het.  Daarom noem hy Jesus die Een wat van die begin af was, die Een wat die Woord van die Lewe is, die Een wat die ewige lewe wat by die Vader was aan ons kom verkondig het en wat ons aan God self, die Vader en sy Seun Jesus Christus verbind om met Hom gemeenskap te kan hê.  Die Woord van God, God self, het Johannes dus laat glo en daarvan getuig hy met net soveel gesag.  Dit is immers die basis van die geloof wat die Christelike kerk verkondig en waardeur elkeen wat dit glo aan dieselfde liggaam van Christus verbind word.

Die ooreenkomste met die proloog van Johannes se evangelie laat ’n mens onmiddellik besef dat dieselfde persoon besig is om dié dinge te verkondig. Jesus is waarlik mens.  Jesus is waarlik God.  Die ontkenning van enige een van dié twee stellings maak die ander ’n halwe waarheid.  Jesus is nie net ’n mens nie.  Jesus is nie net God nie.  Hy is albei.  Dit is in die twee nature van Jesus wat die krag van sy boodskap aan die wêreld geleë is, want Hy bring hemel en aarde, God en mense bymekaar uit.

Daaroor kan ’n mens net bly wees!

God is lig en suiwer ons deur die bloed van Jesus van elke sonde – vers 5-10

Die hart van die boodskap van hierdie vleesgeworde Seun van God is dat God lig is en dat daar in Hom geen duisternis is nie.  Dit is tegelyk die inhoud van die boodskap aan die geloofsgemeenskap asook die maatstaf wat aangelê kan word om die valse profete se boodskap te beoordeel.

Jy kan nie met God in gemeenskap leef en die duisternis lief hê nie, sê Johannes, anders bedrieg jy net jouself en ander.  Maar waar in verbondenheid met God en die geloofsgemeenskap geleef word, daar reining die Here Jesus ons van elke sonde.  Daarmee verbind Johannes heiligheid direk aan God se genade wat binne die geloofsgemeenskap werk.  Reinheid is nie iets wat ’n mens net êrens op jou eie beleef nie, maar iets wat binne die geloofsgemeenskap gestalte kry.

Dit beteken dat ’n mens déél van die geloofsgemeenskap moet bly, nie jouself moet mislei deur aan ander te verkondig dat jy sondeloos is nie en eerder eerlik jou sondes erken sodat die reinigende werk van die Here Jesus binne die geloofsgemeenskap ons van alle kwaad kan suiwer.  Dit is die belofte van die Here: “Hy is getrou en regverdig” en sal “ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad suiwer”, soos vers 9 direk vertaal kan word.

Waar ons egter ons sonde ontken, mislei ons onsself en maak ons God self tot leuenaar en is sy Woord nie meer aktief aan die werk in ons nie.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

1 Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda