Skip to main content

Tag: Wie is God?

Wat beteken Jesus Christus se opstanding en hemelvaart vir jou? – Johannes 14:1-3

Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou. In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is. (NLV)

1. Die dissipels was ontsteld oor die lyding wat vir Jesus voorgelê het in Getsemane, sowel as oor hulle eie toekoms as sy volgelinge. Jesus besweer hulle ontsteltenis met die visie op ‘n vaste woonplek in die huis van sy Vader. Dink na oor die betekenis wat hierdie boodskap van ‘n woonplek by God ook vir jou het.

2. Jesus belowe hier dat sy hemelvaart deur sy wederkoms opgevolg sal word. Hy kom terug en sal hulle na God toe neem. Hoe laat dit jou voel dat dit jou ook beskore is?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van ‘n woonplek by die Vader wat Jesus vir jou voorberei. Hy sal weer terugkom om jou daarheen te neem.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Johannes 14 en my bydrae daaroor: Johannes 13:31–14:31 – Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle lief gehad het.

Wat beteken Jesus Christus se opstanding en hemelvaart vir jou? – Efesiërs 2:4-7

God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is! Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien. (NLV)

1. Die wonder van die opstanding van die Here Jesus Christus is dat God ons saam met Hom geestelik lewend gemaak het. Ons is uit die geestelike dood opgewek. Hoe laat dit jou voel oor jouself?

2. Die wonder van die hemelvaart van die Here Jesus Christus is dat God ons saam met Hom ‘n sitplek in die hemel gegee het. Ons sal eendag ook liggaamlik opgewek word om vir ewig saam met God te wees. Hoe laat dit voel oor die toekoms? Hoe laat dit jou anders kyk na hierdie lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die geskenk van geestelike lewe sowel as die ewige lewe wat Jesus vir jou verwerf het met sy opstanding en hemelvaart.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Efesiërs 2 lees en my bydrae daaroor: Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges.

Vraag 31: Wat beteken Jesus Christus se opstanding en hemelvaart vir jou?

1. Wat beteken Jesus Christus se opstanding en hemelvaart vir jou?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

 Jesus Christus sit aan die regterhand van die Vader. Hy berei vir my ’n plek voor en bid voortdurend vir my. Hy begelei die verlossing en vernuwing van elke deel van die gevalle skepping totdat Hy terugkeer. Hy het sy Gees vir my gestuur as waarborg van my eie opstanding uit die dood sowel as die ewige lewe.

3. Lees die verhaal van die hemelvaart wat Jesus ná sy opstanding in Handelinge 1:1-11. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

Jesus word weggeneem die hemel in

Jesus het ná sy opstanding by verskeie geleenthede aan die apostels verskyn. Hy het op baie maniere aan hulle bewys dat Hy regtig lewe. Hy het belowe dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom om mense eerstehands van Hom te vertel. Terwyl Hy dit sê, is Hy in die hemelruim in ’n wolk opgeneem terwyl hulle toekyk. Skielik het daar twee mans in wit klere by hulle gestaan. Die twee sê toe: “Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so  terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

5. Lees die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 49 oor die nut van die hemelvaart van Christus en dink na oor die betekenis daarvan vir jou.

49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).

(a) 1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.

Is dit hoe jy oor die hemelvaart dink en wat jy ook van Jesus Christus glo?

God woon in die gemeenskap van gelowiges – Efesiërs 2 tot 3

Paulus begin sy brief aan die Efesiërs met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed. In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (Ef 1:3-14). In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (Ef 1:15-23).

Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur. ‘n Mens kan dit so opsom:

  1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – Ef 2:1-10;
  2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – Ef 2:11-18;
  3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – Ef 2:19-22.
  4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – Ef 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – Ef 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Hier is ‘n paar verhelderende opmerkings oor hierdie vier gevolgtrekkings van Paulus sowel as sy gebed.

1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – 2:1-10

Paulus eggo weer die refrein wat ’n mens in hierdie gevangenskap briewe raaksien, dat God aan ons saam met Christus ’n plek in die hemel, dws in Sy teenwoordigheid gegee het. Hy doen dit uiteraard ter wille van ons, omdat ons Sy kinders in Christus Jesus is. Maar Hy doen dit ook om aan die wêreld sy geweldige groot genade ten toon te stel as getuienis van sy goedheid wat vir almal bedoel is. Hy maak van mense wat sy vyande was, sy vriende.

’n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.” Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe. Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie. Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.

Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4:34).

2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – 2:11-18

Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was. Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ’n mens ’n muur sou afbreek. Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – 2:19-22

Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges: 1) medeburgers, 2) huisgesin, 3) gebou, 4) tempel, 5) geestelike huis. Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring. Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel. Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ’n kerk nie.

Wat my besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ’n plek word waar God woon. Soos Hy vir ons ’n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ’n plek by ons, in ons teenwoordigheid. En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word). Die kerk, as liggaam van Christus, is in ’n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen 1:26). ’n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – 3:1-13

Let op dat Paulus die gelowiges uit die heidene nie net bemoedig van vers 2 af nie, maar dit in ‘n konteks van ‘n gebed doen: “Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie …”. Dit is vanuit sy perspektief op wie God is en wat Hy doen, dat Hy die boodskap van insluiting bring. Hy wil hulle dus aanmoedig om nie te luister na mense wat moontlik ‘n ander boodskap aan hulle bring, dat hulle tweedehandse burgers van die koninkryk, of nog erger, steeds buite die koninkryk is nie.

Die geheimenis wat aan Paulus openbaar is, is die goeie boodskap wat hy aan hulle verkondig: in Christus kan alle mense deel word van die Godsvolk. Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef. Let op hoe hy die boodskap ook fundeer in God as Skepper van alle dinge (3:9) en dat dit ‘n boodskap is wat selfs aan elke mag en gesag van die kosmos bekend gemaak moet word.

Paulus wil hulle verder bemoedig om nie moedeloos te word, omdat hy om hulle ontwil ly en in die tronk sit nie. Hulle moet dit eerder as ‘n eer beskou. Die agtergrond hiervan is dat Paulus juis nou in die tronk is weens die aanklag dat hy die tempel in Jerusalem ontheilig het deur ‘n Griek saam met hom daarheen te neem (Hand 21:27-29). Hoewel dit onwaar was, het dit waarskynlik die Efesiërs ontstel, want dié Griek was Trofimus, wat juis van Efese afkomstig was. Paulus wil hulle bemoedig deur hulle te wys daarop dat in die uitvoering van sy opdrag gebeur het, en dat hulle God se hand daarin moet raaksien.

Mag Christus in julle harte woon, gewortel en gegrondves in die liefde – 3:14-21

Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word. Hy sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tusen hulle gesmee het, te handhaaf. Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges praat. Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken. Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde. Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21.

En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het. Hy spel dit in ses bedes uit:

  1. Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou.
  2. Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  3. Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  4. Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in. Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit. Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  5. Maar insig is nog nie alles nie! In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, dws dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  6. En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in 1:23.

En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer!

Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid.

Wat beteken die vergifnis van al jou sondes vir jou? – Die belydenisskrifte

1. Lees die aanhalings uit die Heidelbergse Kategismus 34, 36, 37, en 56 en die Westminster Geloofsbelydenis 17. Wat leer jy oor die vergifnis van al jou sondes? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Heidelbergse Kategismus

34 Vraag: Waarom noem jy Hom ons Here?

Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).

(a) 1 Pet 1:18, 19; 2:9; 1 Kor 6:20; 1 Tim 2:6; Joh 20:28.

36 Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is (a), en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek (b).

(a) Heb 7:26, 27. (b) 1 Pet 1:18, 19; 3:18; 1 Kor 1:30, 31; Rom 8:3, 4; Jes 53:11; Ps 32:1.

37 Vraag: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?

Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf (d).

(a) Jes 53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6. (b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7; 1 Joh 2:2; Rom 3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal 3:13; Kol 1:13; Heb 9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor 5:21; Joh 3:16; 6:51; Heb 9:15; 10:19.

56 Vraag: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord: Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie (c).

(a) 1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh 3:18; 5:24.

Westminster Geloofsbelydenis 17

The Perseverance of the Saints

1. Those whom God has accepted in his Son and has effectually called and sanctified by his Spirit can never completely or finally fall out of their state of grace. Rather, they shall definitely continue in that state to the end and are eternally saved.1

1. Phil 1.6, 2 Pt 1.10, Jn 10.28-29, 1 Jn 3.9, 1 Pt 1.5,9, Jb 17.9, Jer 32.40.

2. This endurance of the saints does not depend on their own free will but on God’s unchangeable decree of election, flowing from his voluntary, unchangeable love.2 It also depends on the effectiveness of the merit and intercession of Jesus Christ,3 on the indwelling Spirit and indwelling seed of God in the saints,4 and on the nature of the covenant of grace.5 All these establish the certainty and infallibility of their preservation.6

2. 2 Tm 2.18-19, Jer 31.3, Eph 1.4-5, Jn 13.1, Rom 8.35-39.

3. Heb 10.10,14, 13.20-21, 9.12-15, Rom 8.32-39, Jn 17.11,24, Lk 22.32, Heb 7.25.

4. Jn 14.16-17, 1 Jn 2.27, 3.9.

5. Jer 32.40, Heb 8.10-12.

6. Jn 10.28, 2 Thes 3.3, 1 Jn 2.19, 1 Thes 5.23-24, Heb 6.17-20.

3. Nevertheless, the temptations of Satan, the world, and their old carnal nature, along with neglect of the means of their preservation, may lead believers to commit serious sins and to continue in them for a time.7 They consequently displease God8 and grieve his Holy Spirit,9 have some of the fruit of God’s grace and his comforts taken away from them,10 have their hearts hardened11 and their consciences wounded,12 hurt and offend others,13 and bring temporal judgments on themselves.14

7. Mt 26.70,72,74, Ps 51.Title and verse 14, 2 Sm 12.9,13.

8. Is 64.5,7,9, 2 Sm 11.27.

9. Eph 4.30.

10. Ps 51.8,10,12, Rv 2.4, Sg 5.2-4, 6.

11. Is 36.17, Mk 6.52, 16.14, Ps 95.8.

12. Ps 32.3-4, 51.8.

13. 2 Sm 12.14, Ez 16.54.

14. Ps 89.31-32, 1 Cor 11.32, 2 Sm 12.10.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die vergifnis van al jou sondes.

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.