Skip to main content

Tag: Wie is God?

Laat u wil geskied

Dit is die eindstryd van die Curriebeker op Nuweland. WP teen Noord-Transvaal. Die telling is gelykop. Die losskakel lê aan vir ‘n skop na die pale. As dit oor is, wen WP. As dit mis is, is dit gelykop. Die eindfluitjie gaan blaas. Die losskakel kom vorentoe, die bal trek reguit pale toe … en toe op ‘n onverklaarbare manier verander die bal van trajek, en die skop is mis. Die beker word gedeel.

Die storie is vir my vertel van wat daardie dag gebeur het. Drie spelers het bymekaar gestaan en gebid. Twee het gebid: “Here, ons sien al hoe daardie bal deur die pale trek!” En die bal het reguit pale toe getrek … totdat die derde speler afgesluit het met: “laat u wil geskied,” en die bal se trajek verander het. Die een se kommentaar was: “Jy met jou wil van die Here! Kyk nou daar! Dit kos ons die wedstryd.”

Hoe dink jy oor die wil van die Here? In my preek by Somerstrand gaan ek oor die derde bede in die Ons Vader praat aan die hand van Jesus se gebed in Getsemane. Jy kan dit daar lees.

Hier kan jy ‘n bietjie wyer lees oor God se wil:

Wat bid jy met die eerste drie bedes? – Die belydenisskrifte

1. Lees Heidelbergse Kategismus 122-124 en dink na oor die eerste drie bedes van die Ons Vader.

122 Vraag: Wat is die eerste bede?

Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken (a) en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter (b). Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word (c).

(a) Joh 17:3; Jer 9:24; 31:33, 34; Matt 16:17; Jak 1:5; Ps 119:105. (b) Ps 119:137; Luk 1:46, 47, 68, 69; Rom 11:33. (c) Ps 71:8;115:1.

123 Vraag: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).

(a) Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.

124 Vraag: Wat is die derde bede?

Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee (a) om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees (b), sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer (c) soos die engele in die hemel (d).

(a) Matt 16:24; Tit 2:11, 12. (b) Luk 22:42; Ef 5:10; Rom 12:2. (c) 1 Kor 7:24. (d) Ps 103:20, 21.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor die Ons Vader.

Wat bid jy met die eerste drie bedes? – Romeine 12:1-2

Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is. (NLV)

Verandering kom deur die werk van die Gees. ’n Wet kan jou nie verander nie, net ’n verhouding met God waarin die Gees ons lei om nee te sê vir die sonde en ja te sê vir God. Die belangrikste plek waar ons moet verander, is in ons denke. Let op, ons verander nie net in ons hart (geloof) en ons mond (getuienis) nie (Rom 10), maar ook in ons kop (nuwe denke). Ons moet leer om anders te dink oor die sondige wêreld sodat ons nie konformeer aan die manier van leef wat die media en vermaaklikheidswêreld aan ons opdis nie.

1. Wat is die verskille wat jy raaksien tussen die gedragspatrone van die wêreld en dít wat God behaag?

2. Wat is die dinge wat God tans vir jou help om as goed, aanvaarbaar en volmaak te onderskei?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die enigste sinvolle manier om God te dien – om Hom toe te laat om jou te omvorm tot ‘n beter onderskeiding van wat werklik goed, aanvaarbaar en volmaak is.

4. Jy kan later vanaand die verse weer lees in die konteks van Romeine 12 en my bydrae daaroor: Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig.

Wat bid jy met die eerste drie bedes? – Matteus 6:31-34

Moet julle nie bekommer en vra: “Wat sal ons tog eet?” of: “Wat sal ons drink?” of: “Wat sal ons aantrek?” nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge by voeg. Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.” (NLV)

Jesus is besig met lering oor die verdeelde lojaliteit wat kom as ‘n mens besittings najaag. Hy spel hiermee uit wat ‘n keuse om God te vertrou beteken vir ‘n mens se bekommernisse oor kos,  drank, en klere. As ‘n mens op God vertrou, kan jy soek na God se koningsheerskappy en dit wat voor Hom reg is (sy geregtigheid) en Hy sal vir ons al hierdie ander dinge byvoeg. In kort: belê in God se koninkryk en Hy sal sorg vir alles wat jy nodig het.

1. Hoekom is dit so belangrik om dit van God te glo – dat Hy sorg?

2. ‘n Mens sou kon sê dat as in God se pad kan kom met jou eie gierigheid en gehegtheid aan besittings en met jou bekommernis oor wat jy sal eet en wat jy sal aantrek, en so die gevaar loop om die voorsienings van die Here te mis! Hoe dink jy daaroor?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner dat God vir jou sorg en dat jy dit kan waag om Hom te vertrou vir alles wat jy nodig het terwyl jy doen wat voor God reg is.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Matteus 6 sowel as my bydrae daaroor: Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid.

Wat bid jy met die eerste drie bedes? – Johannes 17:1-3

Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. (NLV)

Hierdie gebed word op pad na Getsemane gebid, Jesus se finale gebed op aarde vir die dissipels. Hierna sou Hy as Hoëpriester gebede bid vir hulle in die hemel (1 John 2:1; Hebr 7:25; Rom 8:34).  Hy bid hier eers vir Homself dat Hy sy roeping kan voltooi (Joh 17:1-8), dan vir die dissipels (Joh 17:9-19) en dan vir die kerk (Joh 17:20-26).

1. Onthou dat verheerliking hier slaan op die kruisdood van Jesus wat Hy net hierna sou ondergaan. Maar ook dat Jesus God prys vir die volmag wat Hy het om die (ewige) lewe aan almal wat God vir Hom gegee het, te gee. Watter perspektiewe rondom die dood maak dit vir jou oop?

2. Let op dat die inhoud van die ewige lewe nie op die hemel as sodanig dui nie, ook nie op ’n ervaring van tydloosheid nie, maar op ’n onbelemmerde verhouding met God – om die enigste ware God en die gestuurde Jesus te ken. Hoe verander dit jou perspektief op die ewige lewe?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die wonder van die ewige lewe, dat jy die ware God en sy gestuurde Seun ken.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Johannes 17 lees en my bydrae daaroor: Johannes 17:1–26 – Jesus bid passievol vir eenheid in Sy kerk.

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.