In Matteus 6 fokus Jesus op die lewe van geregtigheid. Nadat Hy ses sleutel aspekte uit die wet in die stryd vir geregtigheid op die tafel gesit het, fokus Hy op hóé mens die lewe van geregtigheid beoefen.
En onthou, die
dele uit die wet omsluit eintlik almal met wie jy in ‘n verhouding is. Mense wat naby aan jou is soos huweliksmaats,
en mense wat jou teenstanders en
selfs jou vyande is. Mense wat jou kwaad
maak en ontstel met hulle dwaasheid en “nikswerdgeid”, sowel as jou verhouding met jouself, waarin dit belangrik is om reg
te kyk, reg te praat en reg op te tree teenoor dié wat jou kwaad (kan) aandoen.
Doen liefdadigheid in die geheim; die Vader sal jou beloon
Die eerste ding wat Jesus in hierdie deel van
sy toespraak doen, is om skynheiligheid in die nakom van godsdienstige pligte te
ontbloot. As jy dit doen net om gesien te word, het jy geen beloning by die
Vader in die hemel nie (vers 1).
Liefdadigheid, net soos gebed en vas, is deel
van jou lewe met God, wat wel mense se lewens aanraak, maar nie bedoel is om
jouself in die kalklig te stel nie. Dié
wat liefdadigheid ontvang moet God in die liefdesdaad raaksien. Dit moet nie
tot jou eie voordeel uitgebasuin word sodat mense jou kan prys nie (vers 2).
Jesus waarsku dus onomwonde teen die gevaar van
liefdadigheid ter wille van die
aansien wat dit die een gee wat ‘n liefdesdaad verrig. Die linkerhand moet nie weet wat die
regterhand doen nie. Jy moet ernstige stappe neem dat jou beuel nie geblaas
word vir jou goeie dade nie (vers 3).
Waar jy liefdadigheid in die geheim doen, is
daar die belofte van God wat jou sal beloon, want Hy sien in die verborge (vers
4).
Skynheiligheid is ‘n groter probleem as wat ons
baie keer besef. Selfs net om jou goeie dade só te doen dat ander jou kan
raaksien, is al skynheilig. Jou fokus moet wees op God self wat barmhartig is.
Jy moet vanuit jou verhouding met God uitreik en hulp verleen. Dit is die pad
van heiligmaking waar sy eer en heerlikheid jou lewe volmaak.
Lees Matteus 6:5-15
5“En wanneer julle bid, moenie wees soos die skynheiliges nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat hulle deur die mense gesien kan word. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het hulle beloning ontvang.
6Maar wanneer jy bid, gaan in jou kamer in en sluit jou deur en bid privaat tot jou Vader; en jou Vader wat dinge sien wat privaat is, sal jou beloon.
7En wanneer julle bid, moenie baie woorde gebruik soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle oor hulle baie woorde verhoor sal word.
8Moet dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.
9So moet julle dan bid:
Ons Vader in die hemel,
laat u Naam geheilig word.
10Laat u koninkryk kom.
Laat u wil op die aarde geskied,
soos in die hemel.
11Gee ons vandag die brood
wat ons nodig het.
12En vergewe ons ons sondes,
soos ons ook dié vergewe het
wat teen ons sondig.
13En laat ons nie in versoeking kom nie,
maar verlos ons van die bose. (‘n Aantal minder goeie manuskripte het ook nog want aan U behoort die koningskap en die krag en die heerlikheid vir altyd. Amen)
14Want as julle mense hulle oortredings vergewe, sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe.
15Maar as julle mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.”
6:5 Dieselfde as
wat vir liefdadigheid geld, geld ook vir die gebede. Jesus wys nie openbare gebede af nie. Dit was net dat die
skynheiliges die sinagoges en die straathoeke uitgekies het vir vertoon. Daarom
hierdie voorskrif. Gebed is nie ‘n vertoning vir mense nie, maar ‘n eerlike
toenadering tot God.
6:6 Jesus raai sy
volgelinge aan om eerder na hulle binneste kamer (tameion) te gaan. Dit
was waarskynlik die binneste kamer in die Joodse huise wat as pakplek gedien
het en nie vensters gehad het nie. Hulle
moet die deur toemaak en daar in die verborgenheid tot die Vader bid, want God
weet immers wat hulle nodig het en sal hulle privaat gebede beloon. Hulle kan
staatmaak op God se alwetendheid in gebed.
6:7-8 Jesus skryf
ook voor dat hulle nie met woorde moet mors soos die heidene nie, want God weet
wat hulle nodig het nog voordat hulle vra.
Weereens word God se alwetendheid as ‘n gerusstelling en aanmoediging
tot gebed gebruik.
Dan leer Jesus hulle hoe om te bid. Let op hoe
die gebed met God begin: met lofprysing, met verlange vir die koninkryk, en met
‘n aanvaarding van wat God begeer. Dit is eers dan wat die gebed fokus op ons
behoeftes aan kos, vergifnis en beskerming.
6:9 Die eerste
bede begin met die erkenning van God se Vaderskap wat tot die heiliging van
sy Naam moet lei. Ons vertroue is op Hom gerig. Hy sal immers veel eerder
antwoord as wat aardse pa’s dit sou doen. Dit is ook ‘n gebed dat God se eer bó
alles sal staan; dat daar ontsag vir Hom sal wees oor die hele aarde; dat mense
Hom sal ken soos Hy waarlik is; dat almal God sal heilig, roem en prys in al sy
werke.
6:10 Die tweede
bede fokus op sy Koninkryk wat moet kom, beide in terme van sy heerskappy
in die wêreld as in sy kinders se lewe. Dit is ‘n versugting dat dinge op aarde
reggestel sal word soos God dit van die begin af bedoel het (Rom 8:26) en dat
almal hulle al hoe meer sal onderwerp aan sy koningsheerskappy. God moet alles
en in almal wees.
Die derde bede fokus daarom op sy wil
wat op aarde moet geskied presies net soos Hy dit in die hemel besluit het (vgl Openb 4-5!); dat mense hulle sonder
teëpratery aan God se wil sal onderwerp, want sy wil alleen is goed. Dit
beteken natuurlik dat ‘n mens jou eie wil prysgee soos Jesus in Getsemane dit
gebid het: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt
26:39,42).
6:11 Die vierde bede: “Gee ons vandag die brood wat ons nodig het,” kan op verskillende
maniere verstaan word. Dit wentel om die verskillende betekenisse wat die
Griekse byvoeglike naamwoord “epiousio”,
wat normaalweg as “daaglikse” vertaal
word, kan inhou.
- Epiousio kan as “daaglikse”
brood verstaan word: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit is die normale
manier waarop dit verstaan word, en maak sin in die lig van ander uitsprake van
die Here wat sê dat ons ons nie oor die dag van môre moet bekommer nie. Dit is
ook soos die manna wat net vir die dag wat dit gegee is, vars gebly het,
behalwe op Vrydae wat dit ook tot die Saterdae gehou het.
- Epiousio kan ook “bestaan”
beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons bestaansbrood.” Dit maak
eweneens sin dat dit gaan oor die kos wat ons nodig het om van te lewe. Dit is
soos Peterson dit dinamies vertaal: “Keep us alive with three square meals.”
- Epiousio kan ook “die volgende
dag” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons brood vir môre.” Dit maak
ook sin as ‘n mens dit in die aand bid met die oog op die volgende dag.
- Epiousio kan ook “toekoms”
beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons brood vir/van die toekoms.”
Dit maak vir baie geleerdes sin, want dit beteken dat ons eintlik bid dat God
se beloftes vir die toekoms vandag waar sal word.
Die keuse is joune! Wat maak vir jou die meeste
sin?
Ons erken met hierdie gebed dat God die enigste
Bron is van alles wat goed is, en dat al ons inspanning en werk nie kan slaag
sonder God se gawes en seën nie. Ons stel daarom ons vertroue in Hom en sy
voorsiening alleen en nie in enige menslike voorsiening nie.
6:12 Die vyfde bede se laaste deel
is eintlik in die verlede tyd geskrywe. Ons bid dus dat God ons sal vergewe, soos ons ons skuldenaars vergewe “het”, dws reeds in die verlede
vergewe het. Dit is nogal belangrik in die lig van die waarskuwing in die
volgende verse dat God met ons sal maak, soos ons met ander doen, spesifiek in
terme van vergifnis. Die Griekse woord opheilēma wat met “sonde” vertaal is, dra die betekenis
van morele skuld oor.
6:13 Die sesde bede: “Laat ons nie
in versoeking kom nie”, kan ook vertaal word as: “Lei ons nie in (‘n tyd van)
toetsing nie” wat retories verstaan kan word as “laat ons
nie sondig nie”. Dit maak vir my baie sin, want God kan niemand versoek nie, en
die gebed gaan mos eintlik oor die feit dat ons van God vra om ons digby Hom te
hou, sodat ons nie afdwaal deur ons sonde nie.
Die frase: “verlos ons van die Bose,” is ‘n
beter vertaling as: “bewaar ons van die Bose”. Dit gaan oor die verlange dat
God finaal met die Bose sal klaarspeel. Die Bose (ponerou) kan ook onpersoonlik verstaan word, maar verpersoonliking
maak vir my hier beter sin weens die bepaalde lidwoord wat daarmee saam gebruik
word. Dit is ook hoe dit gebruik word in Matt. 5:39.
Die byvoeging “Want aan U behoort …” wat soms
in later manuskripte voorkom, is waarskynlik liturgies bygevoeg, en kom uit ‘n
aanhaling uit die OT, 1 Kronieke 29:11.
6:14-15 Daarby
lewer Jesus dan ‘n stukkie ekstra kommentaar op die vyfde bede waarmee Hy
daaraan ‘n belangrike prominensie verleen: As julle vergeef, sal die hemelse
Vader julle ook vergeef; as julle egter nie vergeef nie, sal die Vader julle
ook nie vergeef nie. Dit versterk die
idee van hoofstuk 5 dat ons lewe daarop gefokus moet wees om van vyande vriende
te maak. Geseënd is die vredemakers …
Boodskap en betekenis
Matteus gee hierdie ses aspekte van Jesus se
Ons Vader gebed weer wat as omvattende model vir ons “binneste kamer” gebed kan
dien. Dit is ‘n raamwerk wat regtig as
‘n omvattende raamwerk vir ons eie gebede kan dien.
Drie daarvan het met God self te make:
- Laat u Naam
geheilig word;
- Laat u
koninkryk kom;
- Laat u wil
geskied – op die aarde soos in die hemel.
Drie daarvan het met onsself te make:
- Gee ons
vandag ons daaglikse brood;
- Vergeef ons
ons sondes – omdat ons ook hulle vergeef het
wat teenoor ons gesondig het;
- Laat ons nie
in versoeking kom nie – maar verlos ons van die Bose.
Leer dié gebed uit jou kop uit in ‘n vertaling
wat jy verkies, en bid dit gereeld.
Hier is
‘n pragtige voorbeeld uit The Message (Peterson):
Our Father in heaven,
Reveal who you are.
Set the world right;
Do what’s best—
as above, so below.
Keep us alive with three square meals.
Keep us forgiven with you and forgiving others.
Keep us safe from ourselves and the Devil.
You’re in charge!
You can do anything you want!
You’re ablaze in beauty!
Yes. Yes. Yes.
Onlangse kommentaar