Skip to main content

Tag: Psalms

Psalm 132 – Here, laat u gesalfde se kroon skitter

Psalm132Met hierdie Psalm roep die pelgrims die geskiedenis van Dawid en die koningshuis in herinnering.  Hulle dink terug aan die passie van Dawid om ‘n tempel vir die Here te bou waarin die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, ‘n vaste rusplek kan kry – vers 1-9.  Hulle tree opnuut ook in vir die Dawidshuis dat die Here sy belofte van trou aan hom en sy nageslag sal nakom – vers 10-18.

Die twee name wat in vers 6 genoem word, Efrata en Jaär, help ‘n mens om die geskiedenis van die ark in herinnering te roep sowel as die tradisie van die Messias wat aan God se teenwoordigheid gekoppel is:

  • Efrata verwys na Betlehem, die plek waar Ragel oorlede is met die geboorte van Benjamin (Gen. 35:19). Dit is ook die plek waar die verhaal van Naomi en Rut afspeel.  Ook Samuel se pa, Elkana, se voorsate het van Efrata af gekom (1 Sam. 1:1).  Miga voorspel dat die Messias van Betlehem-Efrata afkomstig sal wees (5:1), die teks wat die Skrifgeleerdes in die NT oortuig het dat die sterrekenners die Christus in Betlehem moes gaan soek ( 2:6).
  • Die plek Jaär (Jaärsveld) verwys waarskynlik na die plek waar die ark vir ‘n tyd lank gehou is, Kirjat-Jearim. Dit was in die huis van Abinadab, waar sy seun Eleasar gewy is om na die ark om te sien (1 Sam. 6:21; 1 Sam. 7:1).  Ná Dawid Jerusalem ingeneem en as hoofstad gevestig het, was die eerste ding wat hy gedoen het om die ark terug te bring na die tabernakel in Jerusalem (2 Sam. 6:1 vv.; 1 Kron. 13:6 vv.).

Dit wil ook voorkom asof daar een of ander feestelike ritueel was waarin die ark ‘n rol gespeel het.  Die ark is immers tydens oorloë saam met die leër geneem (2 Sam. 11). Elke keer as hulle dan weer terugkom van die oorlog af, het hulle die ark op feestelike wyse in die stad ingeneem en in die tabernakel ‘n plek laat kry (2 Sam. 6:5,13).

Volgens hierdie Psalm – veral vers 8-9 – wil dit lyk asof die ark ook deel van ‘n feesliturgie was waarin God se voortdurende teenwoordigheid in die die stad wat Hy uitgekies het, gevier is (vgl. ook Ps. 24).   Salomo gebruik bv. dié deel van die Psalm amper woordeliks in sy gebed met die inwyding van die tempel (2 Kron. 6:41-42).

Here, onthou tog Dawid se opofferinge – vers 1-9

Dawid se passie om nie sy eie huis te bou nie, maar dié van die Here, word hier in herinnering geroep.  Hy wil eintlik op geen manier rus nie, totdat hy vir die Here ‘n plek gevind het, ‘n woning vir die Magtige van Jakob (vers 1-5).

In dieselfde gees buig die pelgrims dan in aanbidding voor die Here neer, terwyl die priesters hulle in ‘n feestelike liturgie begelei.  As getroue volgelinge van die Here juig hulle saam voor Hom in eerbied vir die plek wat Hy by hulle inneem (vers 6-9).

Daarmee vereenselwig hulle hulle natuurlik ook met dié passie van Dawid vir God se teenwoordigheid op aarde.  En soos hulle kan ons dié gebed bid vir ons eie belewenis van God se teenwoordigheid in ons geloofsgemeenskappe waar dit ook al mag wees.

Here, laat u gesalfde se kroon skitter – vers 10-18

Hulle fokus is egter nie net op die verlede en die herinnering aan wat God in die verlede gedoen het nie.  Hulle bid dat God se trou ook hierna sal manifesteer in die voortgang en bevestiging van God se gesalfde, dit is Messias.

Die gebed het in die eerste plek ‘n toepassing op die wyse waarop die Godsvolk regeer word.  Hulle tree veral in vir die koningshuis se gehoorsaamheid aan die verbond en sy bepalings (vers 10-12) en die seëninge wat daaraan verbind is (vers 13-18).  Dié seëninge sluit vier goed in:

  • God se voortgaande verkiesing van Sion as woonplek – d.w.s sy teenwoordigheid;
  • God se voortgaande voorsiening van voedsel, ook vir behoeftiges;
  • God se verlossende geskenk van oorwinning vir die priesters – onthou die ark is ook met oorloë gebruik;
  • God se voortgaande voorsiening van nasate om op Dawid se troon te sit, wat die Messiaanse verwagting lewend gehou het: “sy kroon sal op hom skitter”.

Dié Psalm nooi ons dus ook uit om met onvermoeide ywer vir die koms van die koninkryk te bid, in die kerk, sowel as regdeur die wêreld.

Psalm 131 – Groot dade en wonderwerke kom van God af

Psalm131Hierdie kort pelgrimslied bring ons terug aarde toe na die rus wat daar is in die wete dat God daar is vir ons: “van nou af en vir altyd.” Alles hang nie van ons af nie. Inteendeel.  Alles hang van God af.  Die groot dade en die wonderwerke is sy domein.

Nie dat dit altyd so maklik is nie!  Ons weet mos daar is altyd dinge wat ons gedagtes vashou en besighou, groot dinge, belangrike dinge, kritiese dinge.  Maar, ons weet ook uit ervaring dat dié dinge ons só kan vasvang dat ons óf hoogmoedig en verwaand raak en as’t ware bó ons vermoë met groot dade of wonderwerke probeer besig raak.  Óf dat ons só onrustig raak dat ons geen kalmte meer ken nie en selfs in ‘n donker gat van depressie kan wegsink.

Die Psalmis herinner ons dus aan twee goed.  Een, dat ons ons nie bó ons vermoë hoef te presteer nie.  God verwag nie meer van ons as wat ons kan gee nie.  Twee, dat God ons hoop is, niemand minder, niemand meer, en niemand anders nie.  Daarom die oproep: “Israel, vestig jou hoop op die Here, van nou en vir altyd.

Natuurlik neem die gedagtes nie die kompleksiteit van die lewe weg nie.  Dit beteken ook nie dat ons die komplekse vrae van die lewe kan of mag vermy nie.  Die Psalm: “pictures the simplicity on the yonder side of complexity, not on this side of complexity” (Shoemaker, aangehaal in Allen se Word kommentaar).

Maar vir die antwoorde op die kompleksiteite van die lewe, kan ons God vertrou.  Soos ‘n gespeende kindjie by sy ma – gewoonlik só op drie jaar oud – kan ons dus ons gemoed tot kalmte en bedaring bring.  Ons kan soos peuters, wat moeg gehardloop is, ons plek inneem by God, soos by ons ma, en op sy werk vertrou as dinge vir ons te veel raak.  Die groot dade en die wonderwerke kom in elk geval van Hom af.  Nou en vir altyd.  Soli Deo Gloria.

Psalm 130 – Uit die dieptes roep ek na U, Hoor tog my stem

Psalm130Ek onthou só goed die woorde waarmee Totius dié Psalm geskryf het:

“Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o Here, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor.”

Hier is die res van die beryming van Totius:

[widgetkit id=7462]

As kind het dié woorde sowel as die melodie my hart geroer en geïnspireer om selfs in die moeilikste omstandighede – “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan” – tóg die Here aan te roep en op Hom te vertrou.  Dit is juis wanneer dit voel asof die diep waters jou insluk en jy dreig om weg te sink dat hierdie gebed uit ‘n mens geskeur word in die hoop dat Iemand sal hoor.

En dít is presies wat die pelgrims met dié lied bely en gesmeek het.  Soos Psalm 119 bely het dat God se Woord ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet is – dat ons na Sy stem luister – só maak Psalm 130 staat op die feit dat God ook na ons stem luister, dat ons woord aan Hom vir ons vergifnis, ‘n antwoord en bevryding sal inhou.

VERGIFNIS: Want, inderdaad, wie kan staande bly as die Here nie met sy vergifnis ons sondeskuld uitwis nie?  Die Psalmis bely dat ons nie ‘n intrinsieke aanspraak op die Here het, asof ons Hom kan dwing nie.  Ons kan immers nie ons goeie dade teen ons bose dade laat opweeg en ongeskonde ander kant uitkom nie.  Ons het nodig dat die Here eenvoudig ons skuld uitwis, soos Hy in Jesus aan die kruis gedoen het. Ons kan ons net verlaat op die genade van die Here.

ANTWOORD: Soms is ons behoefte nie aan vergifnis nie, maar aan ‘n woord van hoop, ‘n woord wat klaarheid in ons binneste sal bring, wat vir ons die pad vorentoe sal aandui.  Die Psalmis wag met sy hele wese daarna, soos wat die wagte uitsien na die môre, ja, soos wagte na die môre.

BEVRYDING: Die fokus skuif weg van die persoonlike behoefte aan vergifnis en ‘n antwoord na die gemeenskap se behoefte aan bevryding.  Die Psalmis vestig die pelgrims se aandag op die Here se troue liefde en nooi hulle uit om hulle hoop op Hom te vestig vir bevryding, selfs al gaan hulle gebuk onder sondeskuld.  Die Here het die vermoë – en die liefde! – om in oorvloed te bevry.

Hierdie Psalm laat dus die behoefte van die gelowige en die geloofsgemeenskap oor mekaar skuif, want die een kan eintlik nie sonder die ander nie.  Verandering kom wanneer God sentraal staan in beide jou eie lewe as in dié van jou geloofsgemeenskap.  Bid dus vandag met volle oorgawe vir jouself sowel as vir die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is.  En vestig jou vertroue volledig op die troue liefde van die Here.  Hy sal vergewe.  Hy sal ‘n antwoord gee.  Hy sal bevry.

Bonus: Martin Luther het dié Psalm in 1523 berym: “Aus tiefer Noth schrei ich zu dir“.  Hy het dit ‘n Pauliniese Psalm genoem weens die wyse waarop oor die inhoud van vergifnis daarin gepraat word.  Hy het dit baie keer self gesing in situasies van aanvegting en by sy begrafnis in 1546 is dié Psalm ook gesing.

Dit is deur Catherine Winkworth as volg in 1863 vertaal:

“Out of the depths I cry to Thee;
Lord, hear me, I implore Thee!
Bend down Thy gracious ear to me;
I lay my sins before Thee.
If Thou rememberest each misdeed,
If each should have its rightful meed,
Who may abide Thy presence?

Thou grantest pardon through Thy love;
Thy grace alone availeth;
Our works could ne’er our guilt remove;
Yea, e’en the best life faileth.
For none may boast himself of aught,
But must confess Thy grace hath wrought
Whate’er in him is worthy.

And thus my hope is in the Lord,
And not in my own merit;
I rest upon His faithful Word
To them of contrite spirit.
That He is merciful and just,
Here is my comfort and my trust;
His help I wait with patience.”

Psalm 129 – Verlossing uit verdrukking; Verguising vir verdrukkers

Psalm129Hierdie pelgrimslied fokus op die teenstand wat gelowiges van goddelose moet verduur en prys die Here vir die verlossing wat Hy telkens bring.  Hy gebruik op innemende wyse ploeg – en oes metafore om aan die een kant ‘n prentjie van verlossing uit verdrukking en aan die ander kant verguising vir verdrukkers te skets.

VERLOSSING UIT VERDRUKKING: Die liturg in Jerusalem begelei die pelgrims – “laat Israel dit sê” – om hulle pyn te verwoord (vers 1-4). Hy skets ‘n prentjie van verdrukking wat waarskynlik die ballingskap as agtergrond het, maar ook op ander situasies van toepassing gemaak kan word.

Dié verdrukking was van hulle jeug af, maar hulle kan getuig dat die Here regverdig was, en hulle nooit volledig oorwin is nie.  Al het die aanvallers metafories soos ploeërs lang ploegvore oor hulle rug getrek, die Here het die harnas van die goddelose mense se toue waarmee hulle vasgebind was, losgesny.

Hier het hulle waarskynlik gedink aan al die verskillende oorloë wat teen Israel deur die geskiedenis gevoer is, waaruit die Here hulle telkens verlos het.  Maar, enigeen sou ook sy eie verdrukking hierin kon inlees en die Here vir verlossing kon prys.

VERGUISING VIR VERDRUKKERS: Die liturg in Jerusalem begelei tegelykertyd die pelgrims om die verguising wat God belowe vir verdrukkers te verwoord (vers 5-8).  Vir almal wat Sion haat – en hulle daarmee as God se teenstanders identifiseer – word beskaming en verydeling toegebid.  Met vier verdere oes metafore spel hy dié verguising uit:

  • Mag hulle wees soos gras op dakke, wat verdroog voordat dit uitgetrek word.” Selfs die belofte van ‘n oes moet nooit van hulle waar wees nie. Hulle moet verdroog voordat daar ‘n oes is.
  • Mag hulle … nooit die handpalm vul van een wat oes.”  Só vrugteloos moet hulle lewens wees dat daar nie genoeg van hulle lewens kom wat ‘n mens kan oes nie.
  • Mag hulle nooit … die vou van die kleed van een wat gerwe bind(, vul) nie.” Die koring is afgesny en gebêre in die sak voor in die klere wat hulle gedra het, totdat hulle dit in gerwe gebind het.  Dit bevestig die vorige gebed dat die nalatenskap van hulle lewens tot niks sal kom.
  • Die slegste uiteinde word gevra in die laaste vers: “Mag verbygangers nooit sê nie: ‘Die seën van die Here vir julle; ons seën julle in die Naam van die Here.’” Die gebruik was dat verbygangers die snyers seën – soos ons in Rut se verhaal lees dat Boas met sy snyers doen en hulle terug aan hom (Rut 2:4) – maar juis hierdie seën word die goddeloses ontsê, beide in terme van die gemeenskap as die Here self se seën.

Pelgrims kon hulle lewensreis voortsit met die wete dat God nie net hulle pyn en swaarkry raak sien nie, maar dat Hy ook regverdig is om die verdrukkers hulle verdiende loon te laat kry.

Paulus gaan in Romeine 12 nóg verder, en laat selfs die gebed vir verguising van Psalm 129 agter – Jesus het immers die moontlikheid van vergifnis selfs vir vyande gebring – maar steeds sê dat God se regverdigheid uiteindelik oor alles sal triomfeer: “17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.  18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.

Daarop kan ons staatmaak en goed bly doen, selfs vir ons verdrukkers: “20’As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.’ 21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Psalm 128 – Hoe gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg!

Psalm128Hierdie Psalm brei uit oor die geluk wat daar lê in ontsag vir en gehoorsaamheid aan die Here.  Dit is dié pelgrims: “wat sy paaie volg”, wat waarlik gelukkig is.  Die seën hiervan word ervaar in die vrug van jou handewerk, sowel as in die vrug van jou huis.

Aan die een kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle handewerk sal geniet.  Jy sal nie net gelukkig wees nie, maar dit sal goed gaan met jou in die konteks van jou werk en lewensroeping.

Aan die ander kant verklaar die Psalm dat elkeen wat die Here dien die vrug van hulle huis sal geniet.  Hulle sal nie net gelukkig wees in hulle intimiteit in die “binnekamers” van die huis nie – soos dit letterlik hier staan – maar ook die vrug van ‘n kroos van kinders geniet wat die vreugde aan tafel sal vergroot.

Die Hebreeuse woord benîm wat hier vir kinders gebruik word, word meer geredelik vir seuns in die OT aangewend, behalwe waar die konteks vereis dat dit op kinders dui, soos dit hier en op ‘n paar ander plekke in die OT die geval is (vgl. Gen. 3:16; 21:7 Eks. 21:5; 22:23 – Brown, F., Driver, S.R. & Briggs, C.A., 1977. Enhanced Brown-Driver-Briggs Hebrew and English Lexicon.).

Die pragtige metafoor van die vrugbare wingerdstok word gebruik vir die huweliksverhouding en die metafoor van die olyfboompies vir die kinders om die tafel.  Dít is die seën wat die Here gee vir mense wat vir Hom ontsag het en sy paaie volg.

Hieraan voeg die Psalmis vir die pelgrims die belofte by dat die Here hulle geestelik, polities en sosiaal sal seën.  Die seën uit Sion word geestelik-godsdienstig bedoel.  Die seën vir Jerusalem word polities-maatskaplik bedoel.  Die seën van die voorreg om jou kinders se kinders te sien, word sosiaal-familiaal bedoel.  Dit bly immers een van die grootste voorregte wat daar is om ‘n oupa of ouma te word!

Die laaste belofte: “Vrede vir Israel!” sê iets van die wyse waarop al drie hierdie laaste dimensies aan mekaar verbind is.  Waar Sion sy rol vervul, Jerusalem veilig is, en die pelgrims in hulle familielewe gelukkig is, dáár kan die hele Israel heelheid en oorvloed geniet.  VREDE!  Inderdaad.

Daar is ander Psalms wat die donker en uitdagende kante van die lewe belig.  Maar hierdie Psalm besing slegs die vreugdevolle kant van gehoorsaamheid en geluk.  Geniet dus vandag die belofte en verwagting wat dit in jou lewe skep.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…