Skip to main content

Tag: Psalms

Psalm 137 – Jerusalem bly my grootste vreugde

Psalm137Hierdie Psalm is ‘n roerende herinnering aan die pyn en ontworteling van die ballingskap.  Die Psalmis is waarskynlik in Jerusalem ná die terugkeer uit ballingskap en skryf die Psalm om die geloofsgemeenskap te help om die verlede te verwerk, sowel as om die nuwe situasie in Jerusalem te omarm en skouer aan die wiel te sit om die geloofsgemeenskap te herbou.

Die Psalm is daarom meer as ‘n klag oor die verlede.  Dit gebruik die herinnering aan die pyn as die basis vir ‘n nuwe verbintenis in die hede en sluit twee bedes aan God in om reg en geregtigheid te laat geskied ten opsigte van beide Edom, wat hulle in die steek gelaat het, en Babel, wat hulle weggevoer het in ballingskap.

Dit leer ons dat die verlede, selfs in die grusame pyn wat dit vir ‘n mens kan inhou, hetsy weens persoonlike skuld of weens omstandighede buite jou beheer, steeds die basis kan bly om in die hede jouself aan God te verbind en van Hom ‘n herstelde toekoms af te bid.  Aan God se liefde is daar immers geen einde nie, soos Psalm 136 so oorvloedig beklemtoon het.

Continue reading

Psalm 136 – Want vir ewig duur sy troue liefde

Psalm136Psalm 136 was waarskynlik bedoel as wisselsang tussen ‘n liturg of tempelkoor en die geloofsgemeenskap in die tempel.  Die liturg of koor het die eerste reël van elke vers gesing en die gemeente het geantwoord, telkens met dieselfde frase: “want vir ewig duur sy troue liefde” (BDV) of soos in die NAV: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Dieselfde tipe teologie as in Psalm 135 word ook hier verkondig: God is goed; God is groot in die skepping en in die geskiedenis; God sorg vir sy volk in die gawe van die land sowel as vir almal met sy voorsiening van kos: “wat kos gee aan alles wat leef”.

Wat die Psalm egter laat uitstaan is die fokus op die hêsêd van die Here wat 26 keer herhaal word – sy troue liefde.  Só word by die geloofsgemeenskap die hart van die Godsbegrip ingeskerp, dat God liefde is, nie net ‘n liefde wat ‘n reaksie is op hulle gehoorsaamheid nie, maar ‘n liefde wat ten spyte van omstandighede voortgaan en hou.

Die volk sou hieruit ook kon aflei, al is was dit nog asof deur ‘n spieël in ‘n raaisel, dat God se troue liefde nie net iets is wat vir ewig duur in terme van hulle tydsbegrip nie.  Sy troue liefde deurstaan ook die toets van die tyd.  Dit verander nie.  Dit bly altyd dieselfde.  Dit bly waar regdeur die geslagte, en regdeur die geskiedenis.  ‘n Mens kan altyd op God se liefde staatmaak.  God is immers liefde, soos die NT in Jesus Christus later so helder sou bely (1 Joh. 4:8).

Continue reading

Psalm 135 – God is goed; God is groot; God sorg vir sy volk

Psalm135Psalm 135 is waarskynlik ‘n lied wat by verskeie van die feeste van Israel gebruik is, en pas dus aan die einde van die reeks van Pelgrimspsalms.  Dit is tegelykertyd ‘n liturgie van lof waarin God se goedheid besing word sowel as ‘n liturgie van verwondering waarin God se grootheid in die hemel en aarde sowel as in die geskiedenis besing word. Dié werklikheid kom veral na vore in sy sorg vir sy volk waarin Hy hulle help om die verleiding van die afgode te kan trotseer.

Continue reading

Psalm 134 – Mag die Here jou seën uit Sion

Psalm134Hierdie Psalm is nie om dowe neute aan die einde van die reeks van 15 Pelgrimspsalms geplaas nie.  Dit is ‘n wisselspraak tussen die pelgrims – vers 1-2 – en die tempelpersoneel – vers 3.  Dit simboliseer die afskeid wat onvermydelik kom met die einde van ‘n dag se feesviering en uiteindelik met die terugreis na die eise van die normale lewe.

Die hele gemeenskap van pelgrims roep dus aan die einde van die dag/besoek die verantwoordelike tempelpersoneel op om die Here te seën of prys (bârak) in die heiligdom terwyl hulle voortgaan om hulle diens deur die nag daar te verrig (letterlik staan).  Dit verwys waarskynlik onder andere na die Levitiese hoofwagte en poortwagte en ander funksionarisse wat vir die gladde verloop van die tempeldiens sowel as vir die beveiliging verantwoordelik was (vgl. 1 Kron. 9:10-34).

Die tempelpersoneel reageer daarop deur op wederkerige wyse die seën (dieselfde woord bârak word gebruik as in vers 1) van die Here uit Sion op elkeen van die pelgrims (vgl. die enkelvoud jou) uit te spreek.  Een só ‘n voorbeeld vind ons in die seënbede van Num. 6:24-26:

24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”  Waaraan die belofte gekoppel is: 27“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”

Dié seën word hier ook spesifiek aan die Here wat hemel en aarde gemaak het, verbind.  D.w.s., God sal hulle seën waar ook al hulle in sy skepping beweeg.

Die boodskap is dus duidelik.  Die gereelde aanbidding by die tempel het die pelgrims in kontak gebring nie net met die lewensveranderende teenwoordigheid van die Here, maar sy omvattende seën vir die lewe ontsluit.

Tye het verander, maar God se seën waar die geloofsgemeenskap bymekaar kom, is steeds ‘n werklikheid.  Soos Jesus self sê:

19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”(Matt. 18:19-20).

Psalm 133 – Kyk hoe goed, hoe mooi is eensgesindheid onder gelowiges

Psalm133Die ideaal van broers uit dieselfde uitgebreide familie wat eensgesind saamwoon op hulle gesamentlike erfporsie word hier gebruik as metafoor om die viering van die eenheid van die pelgrims van die verbondsgemeenskap in Jerusalem te beskryf: “Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon.

Waar hulle uit alle rigtings bymekaar kom in Jerusalem en saam die Here in die verskillende feestelike liturgieë dien, illustreer hulle die onlosmaaklike band wat hulle in die Here met mekaar deel.  Dit is die gom wat hulle dan ook weer saambind as hulle elkeen in sy eie rigting teruggaan na hulle eie stukkie van die grondgebied van Israel.

Dié eenheid is aan die een kant ‘n geestelike een wat beskryf word met die kosbare reukolie wat van die kop af in die baard van Aäron, die hoëpriester, tot op sy klere afloop.  Dit verwys na die bevele van die Here in dié verband wat Aäron en sy seuns in hulle diens aan die Here gesalf het  (Eks. 29:7; 30:23–25, 30; Lev. 8:12).  Dieselfde het natuurlik ook by die salwing van die konings gebeur wat hulle roeping geestelik bevestig het.

Oral waar gelowiges dit dus regkry om hulle eenheid te bevestig het dit ‘n geestelike impak, nie net vir hulleself nie, maar ook vir hulle geloofsgemeenskap.

Dié eenheid is aan die ander kant ook iets wat ‘n impak op die gewone lewe het, soos uitgedruk met die metafoor van die spreekwoordelike oorvloedige dou van die Hermonberg – ‘n berg in Sirië noord van Israel – wat ook op die berge by Sion sal val.

Dit beteken dat die seën van eenheid het ook ‘n impak op die wyer gemeenskap.  ‘n Mens kan selfs hieruit ekologiese en ekonomiese seën aflei.

Die punt is, waar mense dit regkry om eensgesind te leef met mekaar is daar ‘n ongelooflike seën, geestelik en andersins.  Trouens, dit is iets wat jou eintlik ‘n voorsmakie van die ewige lewe gee, die lewe wat God aan ons skenk.

Dié Psalm gee dus ‘n ongelooflike beeldryke ondersteuning vir die NT ideaal van eensgesindheid soos Paulus bv. aan die Filippense skryf: “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing—2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Fil. 2:1-4).

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…