Skip to main content

Tag: Psalms

Psalm 119:153-160 – RESJ – Die hoofsaak van u woord is waarheid

Psalm119-resjDie waarde van Psalm 119 lê ten diepste in die herhaalde onderstreping van belangrike eienskappe van die openbaring van God:

  • Dat God se beloftes en beslissings lewend maak en daarom getuig van God se troue liefde (119:154,156, 159);
  • Dat die hoofsaak van God se woord waarheid is: “Die hoofsaak van u woord is waarheid, en elkeen van u beslissings is vir ewig.” (119:160).

Let op hoe ‘n mens hierin iets sien van God se liefde wat nie sonder sy waarheid tot sy volle reg kom nie.  God se liefde en die liefde vir God bly altyd binne die raamwerk van die waarheid wat Hy geopenbaar het.  Die omgekeerde is natuurlik ook waar.  God se waarheid word binne die raamwerk van die liefde verwerklik.

Let ook op hoeveel erns hy maak met die openbaring van God (positief gestel), want dit is die waarheid:

  • Hy vergeet nie God se wet nie (119:153).
  • Hy bestudeer God se voorskrifte, anders as die goddeloses (119:155).
  • Hy wyk nie af van God se bepalings nie, al word hy agtervolg en teengestaan (119:157).
  • Hy onderhou God se woord, en daarom vul dit hom met weersin as hy sien dat die ontroues dit nie doen nie (119:158).
  • Hy het God se opdragte lief, en wil hê die Here moet dit raaksien (119:159).

Die ding wat egter vir my vandag uitstaan in hierdie twintigste deel van Psalm 119 – wat deur die herhaling onderstreep word – is die feit dat die beloftes en beslissings van God IN die ellende van regsake, in die agtervolging en teenstand van goddeloses en ontroues gegee word.  Dit is IN die smeltkroes van snedige spotters wat die Psalmis vashou aan die lewe wat uiteindelik kom deur die einste woord wat deur die teenstanders vertrap word.

Daarom dat die Psalmis se gebed is dat die Here sy ellende sal raaksien en hom sal red van die regsaak teen hom – waarskynlik vanweë sy vashou aan die waarheid – in die hoop dat sy vashou aan God se beloftes en beslissings en sy weiering om daarvan af te wyk, deur die Here raakgesien sal word.

Ek dink ons vergeet dit net te maklik. Ons word daarom net te maklik mismoedig as ons vashou aan die Woord van God vir ons lyding en swaarkry inhou.

Dit is ook nie anders in die NT nie.  Dit is ontsettende insiggewend om te kyk na die beklemtoning van die waarheid in die Johannes evangelie juis in die konteks van teenstand:

  • Jesus noem Homself die Waarheid in die konteks van die naderende verraad van Judas en die verloëning van Petrus (Joh. 14:6). Die waarheid lok altyd teenstand uit.
  • Jesus getuig juis oor die waarheid as Hy deur Pilatus in die onregverdige verhoor ondervra word, net voor die uiteindelike verguising van die kruis: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” (Joh. 18:37).
  • Die Heilige Gees word (onder andere) met die titel van Gees van waarheid bekendgestel (Joh. 14:17) in die konteks van die wêreld wat dié waarheid nie kan ontvang nie, trouens dit met stokke en swaarde sal beveg. Hy is immers ook die Trooster, dié een wat in teenstand kan vertroos.
  • Jesus begelei ons deur die Gees op soortgelyke wyse in die volle waarheid (Joh. 16:13) in die konteks van die teenstand van die wêreld. Die Here Jesus bid nie dat ons uit die wêreld weggeneem sal word nie, maar wel van die Bose bewaar sal word (Joh. 17:15 – dit is ook die rede waarom Hy dié gebed in die Ons Vader ingesluit het).
  • Let op dat Jesus spesifiek sy Vader namens ons vra: “Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.” (Joh. 17:17). Dit kon netsowel ‘n opmerking oor Psalm 119 gewees het!

Laat ek dit dus helder stel:

Daar is dus geen innerlike stryd tussen die Waarheid as Persoon – Jesus, die vleesgeworde Woord van God – en die waarheid van die woorde van God nie – die Bybel, die skriftelike Woord van God. 

  • Dat die Bybel deur mense geskrywe is met die taal en kennis van hulle konteks is onteenseglik só. Dat ons die Bybel in daardie konteks moet lees en uitlê, is onteenseglik ook só.
  • Maar, die Bybel is ook die Woord van God, waarin ons God se stem hoor. Dié mense is deur die Gees van God geïnspireer en het onder die leiding van die Heilige Gees van God die woorde van God neergepen.
  • Die Bybel is daarom nie net in die algemeen die Woord van God nie. Dit is ook in die spesifieke uitsprake daarin die Woord van God. Dit bevat ook, en is ook, die woorde van God.

Dít is waarop ek my lewe bou, in die nougesette lees, luister en leef van die Bybel as die Woord van God.

Psalm 119:145-152 – KOF – Op u woorde wag ek

Psalm119-kofDit is duidelik in hierdie negentiende deel van dié Psalm, waarvan elkeen van die 8 versreëls met die Hebreeuse letter kof begin, dat die teenwoordigheid van die Here in sy geskrewe openbaring beleef word.  Dit is wanneer ‘n mens nadink oor wat die Here reeds gesê het, dié dinge wat reeds bekend is, dat daar nie net nuwe insigte opdaag nie, maar die verlossende krag van die Here aan die werk kom om dié openbaring van God na te kom en uit te voer.  Dit is van ewige waarde (119:152).

Laat ek dit helder sê.

  • God is naby ons deur dít wat skriftelik aan ons oorgelewer is, die Bybel. Ons beleef God se teenwoordigheid in die voorskrifte, bepalings (2x), woorde (dâbâr se meervoud), woord (‘imrâh – waarskynlik in die sin van ‘n belofte), beslissing, wet, en gebooie van sy openbaring.
  • Ons beleef God se teenwoordigheid in die beweging wat die Bybel in ons aan die gang sit. Die Psalmis wys vir ons hoe die skriftelike openbaring ons innerlike mens in beweging moet bring: “Ek roep met my hele hart.”  Hart sluit hier ons gevoelens, gedagtes en wil in (119:145).  Hy wys vir ons ook hoe die Bybel ons uiterlike mens, d.w.s. ons nougesette gehoorsaamheid in gedrag, in beweging moet bring: “U voorskrifte wil ek nakom!” (119:146).

God is natuurlik ook in die Skepping teenwoordig en dit is ongelooflik wonderlik (Ps. 19).  Hy is ook in die lewe teenwoordig in alles wat met ons gebeur (Ps. 42:5).  Hy is immers die bron van ons lewe, soos die Psalmis vroeër bely: ”U is my lewe.” (Ps. 16:5).  Hy is ook in ons midde waar gelowiges die wil van die Here soek en probeer onderskei (Matt. 18:20).

Maar dit is juis deur die lig wat Hy vir ons gee uit sy geskrewe openbaring wat ons op die beste manier tot insig kom en die lig vir ons pad kry (Ps. 119:105).  Dít is waarom dit so belangrik is dat God se skriftelike openbaring die belangrikste plek in ons lewe moet inneem.  Dit moet ook van ons waar wees, soos die Psalmis op ‘n ander plek sê: “U woord is my hele lewe.” (Ps. 40:9).  Dit is immers waarom die Psalmis vroeër ook kan skryf dat hy ‘n vriend is van almal wat vir die Here ontsag het en sy opdragte nakom (Ps. 119:63).

Ons lees hieroor van vroeg af in die verhale van die Bybel.  Toe Josua op dieselfde direkte manier die Here se teenwoordigheid soos Moses wou beleef, het dit nie gebeur op die manier wat hy verwag het nie (Eks. 33:11), hoewel die Here tog later iets van sy direkte teenwoordigheid aan hom geopenbaar het (Jos. 1).  Die Here het hom egter telkens na die geskrewe openbaring wat Moses begin neerpen het, verwys as die rigsnoer vir sy lewe. Dit was in die Here se plan vir Josua se lewe ‘n baie belangriker manier waarop hy God se teenwoordigheid kon ervaar:

  • Eks. 17:14 waar die opdrag vir Moses gegee is: “Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor.” Trouens, Josua is later gebruik om self by dié woorde sy eie by te voeg (Jos. 24:26). Watter voorreg! Jy kan hier meer daaroor lees.
  • En kyk veral na Josua 1:7-9 waar die Here Josua versterk vir sy opdrag om die Beloofde Land binne te gaan: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Let op hoe die Psalmis daarom met sy hele hart na die Here se voorskrifte roep, dat hy reeds voor die oggendskemer al op God se woorde wag (119:147), trouens in die nag al oor God se woord nadink (119:148 – die nagwaak waarna hier verwys word, is waarskynlik die tyd tussen 2 en 6 uur in die oggend).

Die Psalmis luister ook nie net nie.  Hy vra dat God na hom sal luister en hom sal verlos en bewaar van mense wat slinkse planne het.  Dit is immers wat God se Woord doen.  Dit roep om ‘n antwoord van ons; dit roep om ‘n gesprek met ons, sodat ons nie net met vreugde God se woorde kan ontvang nie, maar met blydskap dit kan gehoorsaam.

Dit is in hierdie lees en luister na God se Woord en woorde wat ons met oorgawe en oorvloed kan leef.  Die Woord is inderdaad ‘n huis waarin ons kan woon.

Psalm 119:137-144 – TSADE – My ywer vir u woorde verteer my wanneer my teenstanders dit vergeet

Psalm119-tsadeDit is net ongelooflik hoe hierdie Psalm my woorde gee om my ervarings op die oomblik te verwoord.  Ek is onlangs gekonfronteer met die teologiese stelling dat die Bybel God se Woord is, maar nie God se woorde nie.  D.w.s. dat die Bybel as ‘n boek geïnspireer is deur God, maar dat dieselfde nie van elke woord daarvan gesê kan word nie.  Die Bybel is mense se woorde oor God, nie noodwendig in elke detail daarvan God se woorde aan ons nie.

Hoe anders praat Psalm 119 nie hieroor nie!  En veral in hierdie agtiende deel van die Psalm.  Let op hoe vier die Psalmis juis die fynste detail van God se beslissings, bepalings (verordeninge), woord (‘imrâh) en woorde (dâbâr se meervoud devarîm)!, opdragte (bevele), wet, en gebooie soos dit in sy openbaring beskrywe word.  Dit is in die detail van God se openbaring wat die Psalmis die lig vir sy pad ontdek.   Dit is in God se beskrywing van wat regverdig is, wat hy homself verlustig, nie maar net in sy eie verwoording of interpretasie daarvan nie.

Daarom kan hy sê: “My ywer vir u woorde verteer my wanneer my teenstanders dit vergeet.” (119:139).  Hoekom?  Want: “U woord is volkome gelouter en u dienskneg het dit lief.” (119:140 – gelouter kan ook met suiwer vertaal word, soos in die NAV).  Woord sowel as woorde.  Daarom sal hy God se bevele nie vergeet of verontagsaam nie, want hy weet God se regverdige optrede, ook in die gee van sy openbaring, is billik en betroubaar (119:142).

Al oorval benoudheid en angs hom weens die minagting van sy teenstanders wat God se woorde in die wind slaan, sal hy steeds in God se gebooie sy vreugde vind, want dít is die lewe, al word hy deur ander verguis.  Hoe besonder baie bevestig dié woorde nie net my eie ervaring nie, ook weer gister in gebed, maar inspireer dit my ook in my hernude vasgryp aan God se Woord in die detail van die woorde soos dit in die Bybel aan ons oorgelewer is.

Dié Psalm onderstreep dus vir my wat die Nederlandse Geloofsbelydenis ook sê oor die boeke van die Bybel as die Woord van God: “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself …” (artikel 5).

Sedert die eerste keer wat ek God se stem in standerd 5 by huisgodsdiens in Romeine 8:14-16 gehoor en in trane uitgebars het weens die roering in my hart, só is dit vandag nog en sal dit vir altyd wees. En ek wil vanuit die diepste dieptes van my hart vir die Here dankie sê vir die betroubaarheid van Sy stem in die Bybel. Aan Hom behoort my hele lewe.  Sy boodskap is vandag nog net so gesagvol en betekenisvol as wat dit ooit in die loop van die geskiedenis was.

Ek wil dit vir jou ook deurgee vir jou eie lewe as boodskap.  God is regverdig en sy Woord wil niks anders doen as om ons in trou en regverdigheid voor Hom te laat lewe nie.  Soos Peterson sê: “He manufactures truth and justice; All his products are guaranteed to last—Never out-of-date, never obsolete, rust-proof. All that he makes and does is honest and true.”  (Ps. 111:8).

  • Dit is waar van die Woord en die woorde van God in die boeke van die Bybel. Die Woord het nie ‘n vervaldatum nie.  God se woorde in die Bybel het ook nie ‘n vervaldatum nie.  Dit is vandag nog geldig en genoegsaam vir ons geloof en ons lewe. Daarop kan jy staatmaak.
  • Dit is waar van die Gees wat ons help om die Woord reg te interpreteer. Die Gees is ook nooit van verbygaande aard nie. Soos Hy met my gepraat het as kind, só praat Hy met my as volwassene, en sal Hy by my wees, selfs as ek nie meer kan praat nie.  Dit sal ook só wees vir jou.
  • Dit is waar van die kerk wat vir mekaar gegee is om saam te onderskei wat die Woord van die Here vir ons wil sê, selfs oor die moeilikste dinge waaroor ons moet en kan nadink. Die kerk sal ook nooit vergaan nie.  Dit is ook waar van die geloofsgemeenskap waar jy jou ook al mag bevind.  Selfs al verander ons gemeentes van gedaante, selfs al skuif ons na ‘n ander woongebied, of selfs na ‘n ander wêrelddeel, of al verander ons denominasie, die breë geloofsgemeenskap waarvan ons deel is as die liggaam van Christus, sal nooit ophou bestaan nie.

Sela.

Psalm 119:129-136 – PE – As u woorde oopgaan, gee dit lig

Psalm119-peNá die pynlike insig wat in die vorige deel van die Psalm verwoord is, verwonder die Psalmis hom in die sewentiende deel van Psalm 119 oor die lig wat God se woorde in sy lewe aansteek: “As u woorde oopgaan, gee dit lig.” (119:130). Dit is waarom die Psalmis nie omgee om God se bepalings na te kom nie, want dit is – ten spyte van die pyn van gehoorsaamheid – uiteindelik “wonderlik” (119:29), want dit gee vir eenvoudiges (onervarenes) insig (119:130).

Daarom bly hy met sy hele wese smag na God se gebooie, want dit is vol van genade. Dit getuig van God se omarming van ons.  Hoor net hoe pragtig sê hy dit in sy gebed: “Draai na my en wees my genadig, soos U gewoonlik maak met hulle wat u Naam liefhet.” (119:132 – BDV).  Genade is God se Gewoonte teenoor Gelowiges!  ‘n Mens kan ‘n lewe lank oor die betekenis van hierdie vers nadink!

God se woord doen nog meer as net om genade uit te deel.  God se woorde maak ‘n mens se treë ferm, sê die Psalmis, sodat geen onreg oor ons kan heers nie (BDV), of die kwaad oor ons die oorhand kry nie (NAV), sodat ons uiteindelik van onderdrukking of verontregting deur mense verlos kan word, en enduit aan God se opdragte kan vashou (119:133-134).

Gehoorsaamheid aan die woord is dus God se manier om ons pad in die lewe te beveilig, soos Psalm 1 ook sê: “die Here sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddelose mense loop dood.” (1:6).  Dit laat die lig van God se teenwoordigheid oor sy diensknegte skyn sodat God se voorskrifte in sy lig geleer kan word (119:135 – BDV).

Die donker kant in hierdie deel van die Psalm is dat daar egter steeds mense is wat – al is die lig in God se voorskrifte te vinde – God se wet nie onderhou nie, tot groot verdriet van die Psalmis: “Strome water vloei uit my oë, omdat mense nie u wet onderhou nie.” (119:136).

Die openbaring van God gee die Psalmis dus beide vreugde as verdriet – vreugde oor die betekenis daarvan vir hom; verdriet omdat daar mense is wat die betekenis mis, omdat hulle hulle nie daaraan hou nie.

Psalm 119:121-128 – AJIN – Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid

Psalm119-ajinDie kumulatiewe gewig van die getuienis van Psalm 119 dat God se openbaring saak maak, begin in hierdie sestiende deel van die Psalm my bewussyn só diepsinnig binnedring dat dit vir my voel asof die Psalmis se ervarings en gebede my eie raak.

  • Aan die een kant oorrompel die geheelboodskap van die Psalm my dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here. “Hoe strelend is u woorde teen my verhemelte, selfs strelender as heuning vir my mond … U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (119:103,105).
  • Aan die ander kant is ek net so intens bewus van die pyn en verguising wat saamgaan daarmee om die openbaring van die Here onwrikbaar en sorgvuldig na te kom (119:128). En bid ek ook die gebed van die Psalmis: “Ek doen wat reg en billik is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie.” (119:121).

En kan ek vandag elkeen van hierdie verse van harte bid: “Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie.” (119:122). As dit dan só is dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here, soos die Psalm sê, waarborg dit dan vir my; sorg dat dit vir my in vervulling laat gaan; sorg dat die goeie my nie verbygaan nie …

  • My oë smag na u verlossing, na u belofte van geregtigheid.” (119:123).
  • Handel met u dienskneg volgens u troue liefde.” (119:124a).

Die oplossing vir die pyn van dissipelskap lê egter nie in die vermyding van die pyn van gehoorsaamheid nie, maar in die omhelsing daarvan, om IN die pyn te leer wat God se voorskrifte is.  Want, dit is dié wat ly wat gehoorsaamheid leer ken, wat deur God geleer word, hoe nou verder. Dit is die punt van dié Psalm.  Ons is God se diensknegte beide in die ervaring van sy troue liefde as in die ervaring van die pyn van gehoorsaamheid.  Daarom, steeds die versugting, selfs en veral in die pyn van navolging: “en leer my u voorskrifte …” (119:124b).

Ek het altyd gewonder wat presies dit beteken dat Jesus gehoorsaamheid geleer het deur sy pyn, tot ek Hebreërs 2 vroeër bestudeer het en agtergekom het dat die pyn van gehoorsaamheid jou verlos van jou vrees vir die dood.  Trouens, die deelkry aan die “littekens van Jesus” is ons “handelsmerk” as kinders van die Here.  Paulus gebruik dié beskrywing in Gal. 6:7 waar hy verwys na die wonde wat hy in sy navolging van die Here opgedoen het.  Die wonde het hom “gekenmerk” (die Griekse woord stigma word gebruik) as ‘n volgeling van Jesus.  Die wonde was nou sy “handelsmerk”.

Lyding in gehoorsaamheid het egter nie net die effek dat dit jou vrees vir die dood wegneem nie, maar dit verdiep ook jou vreugde om een met die Leidsman en Voleinder van ons geloof te wees, as jy ook deel in sy lyding.  Daar is ‘n ongekende diep vreugde – iets wat jy net leer ken as dit gebeur – in ‘n mens as jy bevoorreg genoeg is om vir die Here te ly, soos die verhaal van Dmitri ons ook geleer het.  Lyding oortuig jou op ‘n vreemde, maar diepsinnige manier, dat jy deel is van sy heilige familie!

Dié woorde kom diep uit my hart, omdat ek die afgelope tyd iets hiervan begin ervaar het, sonder om op die detail daarvan in te gaan.

Daarom is my behoefte vandag dieselfde as die Psalmis s’n: “gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken.” (119:125).  Want, ek leer hier dat kennis nie net met verklaring te make het nie, hoe belangrik dit ook al is.  Kennis het met insig te make, en dié insig kom baie keer eers tot jou as jy pyn in jou gehoorsaamheid van God se openbaring ervaar.  Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid.

Daarmee saam bid ek ook dat die Here in sy regverdigheid sal optree, omdat dit net só duidelik is vir my vandag dat mense rondom ons die openbaring (wet) van God kragteloos maak met hulle oortredings daarvan. (119:126).  Soos dit in die Psalmis se tyd was, só is dit ook vandag.

Daarteenoor moet die Psalmis natuurlik homself aan God se bevele en opdragte oorgee om dit sorgvuldig na te kom, soos dit ook gevra word van elkeen van ons (119:128a). Daarom sê die Psalmis, het hy God se bevele lief: “ja, meer as goud, as suiwer goud.” (119:127).  En die omgekeerde is net so waar: “En elke pad van bedrog haat ek.” (119:128b).

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…