Skip to main content

Tag: Esegiël

Esegiël 20:45-21:27 – Die koning van Babel kom

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

In drie perikope word die nabye oordeel oor Juda en Jerusalem verder uitgespel.

  • In die eerste perikoop word die metafoor van ‘n bosbrand gebruik – 20:45-49. Esegiël vra egter dat die Here duideliker moet praat, want die mense sê hy praat in raaisels. Soos Peterson dit vertaal: “‘He just makes up stories.
  • In die tweede perikoop word die metafoor van ‘n swaard gebruik – 21:1-17. Dit is ontstellend dat almal wat leef daardeur getref word, “dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen.” Geen wonder dat Esegiël in opdrag van die Here hieroor bitterlik moet kreun nie. Dié slagting sal eers bedaar as die Here sy hande inmekaar slaan en sy toorn tot bedaring bring.
  • Die derde perikoop identifiseer die koning van Babel as die swaard van die Here wat die leiers sowel as die volk gaan straf weens hulle opstandigheid – 21:18-27.

Continue reading

Esegiël 20:1-44 – ‘n Woord teen die leiers oor die verset teen die verbond – 591 v.C.

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Dit is Woensdag 14 Augustus 591 v.C. Esegiël is nou al net meer as twee jaar besig om die woord van die Here aan die volk deur te gee. Min of meer ‘n jaar gelede het ‘n aantal leiers van Israel (in ballingskap) na Esegiël gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het waarskynlik ‘n verwagting gehad dat die terugkeer na Israel naby was, omdat sommige profete dit voorspel het.

Dié hoop was moontlik onder andere gegrond op profesieë, soos dié van die profeet Gananja wat ‘n twee-jaar ballingskap voorspel het reeds in 594 v.C. Jeremia het hom sterk teëngestaan (vgl. Jeremia 28), maar die leiers het waarskynlik gehoop dat Gananja eerder as Jeremia reg sou wees. Die leiers moes by dié geleentheid egter onverrigter sake weggaan. Die Here wou hulle nie eers te woord staan nie (Esegiël 14 – ‘n Woord teen die leiers – selfs voorbidders sal julle nie help nie).

Hulle kom egter nou weer ‘n jaar later voor Esegiël sit in die verwagting dat daar tóg ‘n woord van die Here sal wees. Dit het waarskynlik begin duidelik word dat mense soos Gananja vals profete was, omdat die voorspelling van ‘n twee-jaar ballingskap nie waar geword het nie. Maar, die vraag was waarskynlik steeds, is daar nie tog hoop nie? Moet ons regtig sewentig jaar wag, soos Jeremia voorspel het?

Die Here antwoord Esegiël in vers 1-3 egter weer onomwonde dat Hy Hom nie deur hierdie leiers sal laat raadpleeg nie. Die vorige keer (hfst. 14) het die Here vir Esegiël immers gewaarsku om nie eers namens dié leiers met Hom te praat nie, want die Here sal nie en wil nie na hulle luister nie, weens hulle afgodediens. Hulle moet eers tot bekering kom, vóór die Here sal luister.

Hierdie keer gee die Here vir Esegiël egter tóg ‘n opdrag in vers 4-44 om as profeet met hulle in gesprek te gaan. Die Here vra van hom om die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het vir hulle uit te spel. Hy vra dat Esegiël vir hulle inderwaarheid ‘n geskiedenisles sal gee in die afgodery en afvalligheid van die volk, selfs nou hier in die ballingskap, om hulle oë oop te maak vir die voortgaande verbreking van die verbond. Daardeur hoop die Here dat daar tóg insig sal kom. Hy hoop dat hulle die dwaasheid van verset teen sy voorskrifte vir die lewe sal insien, selfs hier in ballingskap. En dat hulle die hoop op ‘n terugkoms op God se terme sal omhels.

‘n Mens kan die geskiedenisles as volg opsom:

  • 20:4-9 – Verset van die uitverkore geslag deur afgodery in Egipte
  • 20:10-17 – Verset van die eerste generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn
  • 20:18-26 – Verset van die tweede generasie deur afgodery en afvalligheid in die woestyn
  • 20:27-29 – Verset van die volk deur afgodery in die Beloofde Land
  • 20:30-31 – Verset van die volk deur afgodery selfs in ballingskap!
  • 20:32-39 – God oordeel die opstandiges selfs in ballingskap!
  • 30:40-44 – God sal sy eer beskerm deur ‘n goedgunstige terugkeer na die land

Continue reading

Esegiël 19 – Twee treurliedere oor die konings van Israel

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël vervolg met twee treurliedere oor die konings van Israel. In die eerste verwys hy na die onverkwiklike regering van twee van die onlangse konings van Juda: Joahas en Jojakim. Hulle koningskap is onderskeidelik deur Egipte en Babel beëindig. In die tweede verwys hy na die soortgelyke onverkwiklike regering van die huidige koning van Juda: Sedekia. Sy koningskap sou deur die Galdeërs van Babel onder leiding van Nebukadnesar beëindig word.

Tog hoor ‘n mens geen leedvermaak in die beskrywing van hulle termyne nie. Al het die konings onder die oordeel van die Here gestaan weens hulle ongehoorsaamheid aan Hom, bly die toedrag van sake tragies. Dit is ‘n klad op die naam van die volk van Juda. Trouens, hierdie woord van die Here is twee treurliedere wat bedoel was om gesing te word. Vandaar die beeldende metafore van ‘n leeuwyfie en haar welpies, en ‘n wingerstok met haar sterk lote wat die lot van hierdie konings beskryf.

Continue reading

Esegiël 18 – God seën mense wat persoonlik verantwoordelikheid neem

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Esegiël hanteer in hierdie hoofstuk die moeilike vraagstuk van die verband tussen kollektiewe en persoonlike verantwoordelikheid.

Aan die een kant was dit duidelik dat die ballingskap ‘n kollektiewe strafmaatreël van die Here is. Soos Hy vir hulle as volk verkies en in ‘n verbond aan Hom gebind het, hulle die beloofde land ingebring en daar versorg het, só het Hy hulle nou met die strawwe van daardie verbond getref. Die vorige hoofstuk het dié aksie van God met die gelykenis van die wingerdstok aan hulle misplaaste verbintenis aan die “ander” arend, Egipte, gewyt. Die hele volk is dus kollektief deur dié ongelukkige en dwase keuses, in dié geval veral van die leiers, getref.

Maar, aan die ander kant was daar egter ook min mense wat regtig hulle hande in onskuld kon was, soos Esegiël verskeie kere uitgewys het. Hulle het immers saam skuld gehad aan die magsmisbruik en afgodery, hetsy deurdat hulle eie toedoen óf deurdat hulle hulle nie daarteen verset het nie (vgl. hfst. 7). Die individuele lede van die volk het dus in mindere of meerdere mate ook persoonlik ‘n aandeel gehad in die kollektiewe afvalligheid van die volk as geheel.

Die mense wat nou in ballingskap was, het hulle eie verantwoordelikheid boonop nog verder probeer minimaliseer deur die volgende spreekwoord op hulle van toepassing te maak: “Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp.” (vgl. Jer. 31:30). Hierdie verontskuldiging en verplasing van alle blaam op die voorvaders, kon maklik lei tot ‘n totale fatalisme – die lewe is nou eenmaal só en ek kan daaraan niks verander nie – en ‘n algehele ontduiking van persoonlike verantwoordelikheid om die Here te dien en aan Hom gehoorsaam te lewe.

Daarom kom die woord van die Here na Esegiël en spreek dié situasie aan. Die ballinge was vir Hom nie net kosbaar nie, hulle lewe en lewenstyl het vir Hom saak gemaak. Hy doen dit as volg:

  • 18:1-4 – Al die mense behoort aan My
  • 18:5-20 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur die geslagte
  • 18:21-29 – Elkeen sal die vrugte van sy eie lewe pluk regdeur sy eie lewe
  • 18:30-32 – Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees

Continue reading

Esegiël 17 – Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Hierdie eerste “fabel, ‘n gelykenis” van die twee arende, sowel as die sedertakkie (Jojagin) en wingerdstok (Sedekia) in vers 3-10 handel oor die komplekse verhouding van die Galdeërs en Egipte met die konings van Jerusalem in hierdie tyd. Die uiteinde daarvan was die beleg en verwoesting van Jerusalem en die dood van koning Sedekia, soos Esegiël se uitleg in vers 11-21 dit duidelik maak.

Esegiël gee daarmee ‘n helder interpretasie van die gebeure wat besig was om in Jerusalem te ontvou, soos die geskiedenis dit inderdaad in die volgende vyf jaar bevestig het.

Aan hierdie boodskap word ‘n tweede gelykenis gekoppel in vers 22-24 wat die boodskap dra van God wat in weerwil van die toegevalde hede tóg ‘n toekoms sal oopsluit vir die volk. Hy sal self ‘n sedertakkie plant wat lewe en beskerming sal gee, en God se heerskappy sal bevestig. Dit is duidelik ‘n Messiaanse belofte.

Die twee gelykenisse en die uitleg vorm daarom ook die drie dele van die hoofstuk.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda