Esegiël 25 – ‘n Woord teen die Ammoniete, Moabiete, Edomiete en Filistyne

Esegiël rig soos ‘n hele paar van die ander profete ook ‘n paar oordeelswoorde aan die omringende nasies, interessant genoeg, sewe nasies in getal.
In ‘n geografiese spiraal fokus Esegiël in hoofstuk 25 opeenvolgend op die Ammoniete in die noord-ooste, die Moabiete in die ooste, die Edomiete in die suid-ooste, en die Filistyne in die weste. In hoofstuk 26-28 kom Tirus en Sidon in die noorde aan die beurt – met ‘n kort heilswoord vir Israel aan die einde daarvan – voor hy die grootste deel van sy oordele in hoofstuk 29-32 – sewe profesieë in getal – teen Egipte in die verre suide uitspreek.
Daarmee getuig Esegiël van God se soewereine aanspraak op al die mense van die aarde. Hy bepaal die wel en weë van almal, selfs dié wat Hom nie aanbid nie. Hy wys ook duidelik uit dat die leedvermaak en minagting van die omringende volke op niks sal uitloop nie. Veral die eerste vier nasies sal hulle selfstandigheid verloor, terwyl Juda (Israel) weer hulle selfstandigheid sal herwin.
Babilonië word geïgnoreer, moontlik weens beide die feit dat hulle God se instrument van oordeel teen Jerusalem is, sowel as die gevaar wat dit sou kon inhou om hulle te direk aan te spreek. Sommige geleerdes sien in die uitgebreide beskrywing van Tirus en Sidon ‘n verskuilde boodskap aan Babilonië, maar die oordeel teen die twee nasies maak in elk geval sin, weens Nebukadnesar se uitgebreide veldtog net ná die inname van Jerusalem teen hulle.
Dit is redelike eenvoudige stof wat in die geval van die eerste vier nasies ook in ‘n eenvoudige formaat gegiet word. Die Here gee telkens vir hulle die redes vir sy oordeel en kondig dan die oordeel self aan.
Onlangse kommentaar