Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission
Dit neem ses maande vir die nuus van die val van Jerusalem om by Esegiël en die ander ballinge uit te kom. Uiteindelik op Woensdag 9 Januarie 585 v.C. kom iemand wat die tragedie in Jerusalem ontsnap het daar aan en vertel vir hom dat dít wat Esegiël voorspel het, inderdaad gebeur het. Jerusalem is op Woensdag 18 Julie 586 v.C. ingeneem, ses maande tevore.
Onthou dit was in die jare voor TV en selfone, ook voor die tyd van die radio, en die Kedarrivier was 800 km te voet van Jerusalem af! Esra het ‘n paar eeue later vier maande geneem vir dieselfde reis (Esra 7:9).
Dit ontlok twee kort profesieë by Esegiël, die een gerig aan die grypsugtige agtergeblewenes in Jerusalem en Juda (33:23-29), die ander gerig aan die selfsugtige ballinge in Babel (33:30-33). Sy tong is weer vry.
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission
Waar Esegiël tot hier toe gefokus het op die onafwendbare val van Juda en Jerusalem en die redes daarvoor, begin sy profesieë van hier af fokus op die toekoms wat die Here belowe ná die ballingskap. Hy hak hier aan by twee vorige profesieë – oor sy eie persoonlike opdrag as wag vir die volk (hfst. 3) en die noodsaak vir die volk om persoonlike verantwoordelikheid te neem vir hulle lewe (hfst. 18) – en brei verder daarop uit, veral omdat dit begin lyk asof daar ‘n kentering by die volk kom en hulle verantwoordelikheid begin neem vir wat gebeur het: “Ons opstandigheid, ons sonde rus swaar op ons, ons vergaan daaronder, hoe kan ons nog lewe?” (33:10).
Daarom beklemtoon die Here dat die profeet persoonlike verantwoordelikheid moet bly aanvaar om as wag vir die volk op te tree, én dat die volk eweneens persoonlike verantwoordelikheid moet bly aanvaar vir hulle lewe voor die Here, soos hulle dit inderdaad nou begin doen. Dit word in twee profesieë aan Esegiël duidelik uitgespel:
33:1-9 – “Ek het jou die wag vir Israel gemaak”
33:10-20 – “Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie”
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission
Die vier profesieë teen Tirus en Sidon word deur ‘n nóg langer reeks van sewe profesieë teen Egipte opgevolg. Al die profesieë, behalwe een, word gedateer in ‘n 16 jaar tydperk tussen 587 en 571 v.C., d.w.s net vóór die ballingskap van Jerusalem en net ná die beleg van Tirus voltooi is in 572 v.C. Hulle word min of meer in datum volgorde geplaas, behalwe die tweede profesie – wat eintlik die laaste in die reeks is – wat tweede geplaas word, omdat dit verband hou met die eerste profesie en dít opdateer en uitbou.
Die fokus op Egipte herinner ons aan die feit dat die kleiner koninkryke soos Juda en Jerusalem uitgelewer was aan die magspel van die wêreldmagte. Hulle moes dus rekening hou met die impak wat die omringende nasies op hulle uitgeoefen het, waarvan Babel en Egipte die grootste magte van dié tyd was.
Die versoeking was altyd groot om ‘n alliansie met een van hulle te sluit ter wille van beskerming, hoewel die Here altyd daarteen gewaarsku het. Hulle keuses was aan die een kant immers telkens dwaas – hulle het konsekwent die verkeerde mag ondersteun – en aan die ander kant, en baie meer onrusbarend, hulle het daarmee hulle verhouding met die Here in gedrang gebring. Hulle het sy waarskuwende woorde in die wind geslaan.
Met dié profesieë teen Egipte herinner die Here dus die Jode daaraan dat Hy in beheer is, en dat hulle veiligheid nie van ‘n wêreldmag afhang nie, maar van hulle verhouding met die Here. Waar Egipte in die vergetelheid sal versink, sal dit nie waar wees van die Godsvolk nie, soos die tweede helfte van die boek sal belowe. Daarop kan hulle staatmaak.
Sekondêr is dit natuurlik ook ‘n woord aan Egipte. God se oordeel kan deur bekering afgewend word, soos hoofstuk 33 almal sal herinner.
Die sewe profesieë is as volg:
29:1-16 – Farao, die groot krokodil, sal weggegooi word in die woestyn – 587 v.C.
29:17-21 – Nebukadnesar sal Egipte plunder – 571 v.C.
30-:1-19 – Egipte se mag sal gebreek word
30:20-26 – Farao se mag sal gebreek word – 587 v.C.
31:1-18 – God het die seder, Egipte, verwerp weens sy hooghartigheid – 587 v.C.
32:1-16 – Esegiël moet treur oor die val van die farao – 585 v.C.
32:17-32 – Esegiël moet ‘n begrafnislied sing oor hulle eerlose dood – 585 v.C.
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission
Aan die boodskap van oordeel vir Tirus en Sidon in hoofstukke 26-28 word ‘n boodskap van hoop vir Israel gekoppel. Dit antisipeer die volgende fase van Esegiël se boodskap van heil wat in die tweede helfte van sy boek aan die orde sal kom.
Die hoop vir Israel bly stewig gevestig op God se ingrype, nie op hulle eie meriete nie: “Wanneer Ek Israel bymekaarmaak onder die volke uit waar hulle verstrooi is en Ek hulle voor die oë van die nasies laat besef dat Ek die heilige God is, sal Israel weer kom woon in die land wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het. Hulle sal veilig in die land woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek al die buurvolke gestraf het wat vir Israel met soveel minagting behandel het. Israel sal besef dat Ek die Here hulle God is.”
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission
Die profesieë teen die nasies word voortgesit met ‘n meer uitgebreide reeks van vyf profesieë teen Tirus en Sidon, die Fenisiese tweeling stadstate aan die kus in die gebied wat ons vandag as Libanon ken, net noord van die grens van die noordryk van Israel (26:1-28:24). Daaraan word ‘n laaste kort profesie van hoop vir Israel gekoppel (28:25-26).
Tirus veral word veroordeel vir sy arrogante uitbuiting van die ander nasies, omdat hulle die leidende ekonomiese mag in die tyd van Esegiël was (Stuart). Só ook Sidon wat met ‘n hawemuur aan Tirus – wat eintlik op ‘n eiland naby die kus geleë was – verbind was. Hulle word veroordeel vir hulle minagting van die verbintenisse wat hulle met Israel en Juda gehad het.
Saam was die twee stadstate immers bekend vir hulle uitgebreide handeldrywende netwerke wat nasies kommersieel aan mekaar verbind het. Tirus en Sidon het onder andere uitgebreide handelsbetrekkinge met Dawid en Salomo gehad veral met die bou van hulle paleise en ook die tempel (vgl. 1 Kronieke 22; 2 Kronieke 2). Dieselfde het die res van die bekende wêreld gegeld.
Die jaar van die profesieë teen Tirus en Sidon word aangedui as 586 v.C., die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap. Die presiese maand van die profesieë word egter nie gegee nie. Dit moes egter in die eerste helfte van die jaar gewees het, d.w.s voor Woensdag, die 18de Julie 586 v.C., want dít is die dag waarop Jerusalem geval het.
Die profesieë beslaan drie hoofstukke:
26:1-21 – Die Here vee die beroemde stad Tirus plat
27:1-36 – Esegiël treur oor dit vir altyd klaar is met Tirus
28:1-10 – Die Here oordeel die hooghartigheid van die koning van Tirus
28:11-19 – Esegiël treur oor die koning se gewelddadige handelsbedrywigheid wat tot sy val gelei het
28:20-24 – Die Here tree teen Sidon op weens sy minagting van Israel
originalblizzard19aaa84c56onPsalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
sparklybc467b2e69onPsalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
originalblizzard19aaa84c56onPsalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
sparklybc467b2e69onPsalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
sparklybc467b2e69onPsalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
sparklybc467b2e69onPsalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
sparklybc467b2e69onPsalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
sparklybc467b2e69onPsalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
Chris van WykonPsalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
sparklybc467b2e69onPsalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
sparklybc467b2e69onPsalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
Loading Comments...
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.
Onlangse kommentaar