Esegiël 16 – Jerusalem sal aan die mag van haar minnaars oorgegee word

Esegiël se boodskap aan Jerusalem neem interessant genoeg nie net die geskiedenis van die Godsvolk in ag nie, maar ook die hele geskiedenis van die stad wat al die volke wat daarmee verbind word, insluit. Erkenning word hier gegee aan Jerusalem se Kanaänitiese geskiedenis waarin spesifiek die Amoriete en Hetiete genoem word (16:3).
Die woord aan Jerusalem is egter in die eerste plek ‘n oordeelswoord: “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het.” (16:2). Die geskiedenis van God se verkiesing van Jerusalem as die plek waar Hy sy teenwoordigheid op ‘n besondere manier bekendgestel het, vorm dus die agtergrond vir sy veroordeling van hulle afgodery en politiekery.
Om hierdie boodskap oor te dra, word ‘n groot deel van die hoofstuk aan die uitgebreide metafoor van Jerusalem as ‘n verwerpte babadogter wat deur die Here gered is om uiteindelik sy vrou, sy koningin te word, gespandeer (vgl. hfst. 23 waar ‘n soortgelyke metafoor gebruik word).
Die Here het haar laat leef, laat groei, en laat vrugbaar wees. Sy het egter dié verbintenis versaak en haar aan ander minnaars oorgegee. Dít het die ellende van God se woede en haar minnaars – die Egiptenaars, Filistyne, en Assiriërs – se vyandskap oor haar gebring. Dieselfde lot as wat Samaria en Sodom getref het, is ook haar voorland.
Die gedeelte sluit wel in die tweede plek af met ‘n heilswoord, ‘n belofte van ‘n toekoms vir die stad en sy mense: “Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het.” (16:63).
Die vloei van die woord van die Here aan Jerusalem kan as volg ingedeel word:
- 16:3-14 – Jy het Myne geword
- 16:15-22 – Jy het egter syne geword
- 16:23-34 – Ellende wag vir jou
- 16:35-43 – Ek gaan jou straf
- 16:44-52 – Jy sal die skande en skaamte dra
- 16:53-63 – Ek gaan my met jou versoen ten spyte van alles

Onlangse kommentaar