Skip to main content

Tag: Esegiël

Esegiël 38-39 – God vernietig Gog, simbool van al die vyande van die Godsvolk

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Om sin te maak van die boodskap van dié twee hoofstukke, hfst. 38-39, is dit belangrik om in die eerste plek die struktuur daarvan te begryp.

  • Na die eerste twee verse waarin die Here sy opdrag aan Esegiël gee, rig Esegiël ses profesieë aan Gog van Magog, telkens ingelei met die formule: “So sê die Here my God” (38:3; 10, 14, 17; 39:1, 17). Dit beslaan die leeue-aandeel van die stof in dié twee hoofstukke: 38:3-39:24.
  • Daarná kom die sewende profesie aan die beurt, met dieselfde formule, dié keer gerig aan die hele Israel: hfst. 39:25-29.

Dit help ‘n mens om vanuit die breë prentjie van die indeling die boodskap van die gedeelte te verstaan.

  • In die eerste rondte belowe die Here op paradoksale wyse dat ná Israel se hervestiging in die land Hy hulle sal beskerm teen die toekomstige gevaar van hulle omringende vyande. ‘n Sewe-tal vyande word beskrywe:
    • Mesek en Tubal (= die land Magog – die NAV vertaal verkeerdelik Magog as ‘n sinoniem vir Gog), Gomer en Bet-Togarma is in die noorde,
    • Persië in die ooste,
    • Kus en Put in die suide.
  • In die tweede rondte herhaal die Here sy belofte dat die hele Israel sal terugkeer, soos Hy dit in hfst. 37 gedoen het. Hy fokus dus hulle aandag, anders as in die eerste ses profesieë, op die nabye toekoms, en bevestig die terugkeer na die land as die logiese uitvloeisel van die uitstorting van sy Gees op Israel (39:29 – vgl. 37:5,14).

Continue reading

Esegiël 37 – Ek herstel julle as my herenigde volk in die land Israel

Michael Buesking: Ezekiel Joining Two Sticks - with permission
Michael Buesking: Ezekiel Joining Two Sticks – with permission

Op soortgelyke wyse as wat Esegiël aan die begin van sy bediening na ‘n vallei geneem is – hfst. 3:22 – neem die mag van die Here weer van Esegiël besit, waarskynlik so 10 jaar ná die eerste gebeure, en bring hom deur die Gees van die Here uit en sit hom neer in ‘n laagte.  Dit is waarskynlik dieselfde plek, omdat dieselfde Hebreeuse woord gebruik word.

Waar met die eerste besoek aan die plek die Here vir Esegiël ‘n gesig van Homself gegee het wat hom op die grond laat neerval het, gee die Here hier vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle.  Waar Esegiël die eerste keer nie enigiets mag gesê het vir die “weerbarstige” volk nie, word hy dié keer ‘n opdrag gegee om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat in opdrag van die Here om op tree (37:1-14).

Soos die vorige keer beveel die Here hom ook om ‘n simboliese handeling uit te voer, as kragtige verbeeldingryke metafoor, hierdie keer deur op twee stukke hout te skryf en hulle tot een stuk in sy hand saam te voeg (37:15-28).  Daarmee hou die Here die droom van eenheid onder dié wat Hom aanbid, lewendig.  Die ou verdelings tussen noord en suid sal verdwyn in die fokus op die Here se teenwoordigheid.

Continue reading

Esegiël 36:16-38 – Ek herstel julle ter wille van Myself

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die herstel wat God bring sal nie net die geskenk van ‘n messiaanse leier en ‘n getransformeerde land insluit nie, maar ook ‘n getransformeerde volk om dié nuutgemaakte ruimte te betree en beleef.

Die diepste motivering daarvoor is egter nie – soos ‘n mens sou kon verwag – dat die Here die volk jammer gekry het en daarom hulle lot verander het nie – hoewel dit op ander plekke tog ‘n rol speel. Esegiël is egter skerp in sy oordeel oor die volk: “Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie.  Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.” (36:32).

Die diepste rede vir God se herstel is enkel en alleen ter wille van Homself: “Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie, Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat deur julle oneer aangedoen is onder die nasies waar julle gekom het.” (36:22).

Continue reading

Esegiël 35-36:15 – ‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel”

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

Die volgende profesie is gemik op die herstel van die land.  Dit beslaan twee dele:

  • Aan die een kant verkondig die Here verwoesting oor Edom, die bergland van Seïr (die dorpie Petra is in dié streek geleë), wat hulle vergryp het aan beide Israel en Juda se grondgebied in hulle ballingskap: “Jy het gesê: ‘Altwee volke en altwee lande is nou myne, ons gaan daardie land vat.’” (35:1-15).
  • Aan die ander kant verkondig die Here dat Israel weer die land in besit sal neem as hulle eiendom. Die “Berge van Israel” sal nie weer sy bewoners afskud nie! (36:1-15).

Continue reading

Esegiël 34 – Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder

Michael Buesking - Drawing Jerusalem - with permission
Michael Buesking – Drawing Jerusalem – with permission

“UITEINDELIK … werksdruk het verlede kwartaal sy tol geëis en toe het my verlof aangebreek.  Hier is dus die eerste van nege laaste aflewerings in my saamlees van Esegiël met jou.  Alle beplanning natuurlik Deo Volente.  Geniet!”

Gegewe die vorige hoofstuk se geweldige negatiewe beoordeling van beide die agtergeblewenes en die ballinge, sowel as al hulle leiers, is dit geen wonder nie dat hierdie volgende boodskap na Esegiël toe kom.

  • Die Here beveel Esegiël om as profeet op te tree teen die ”herders” wat net vir hulleself sorg en die “kleinvee” laat wegdwaal en oor die aarde laat verstrooi. Die Here maak ‘n end aan dié herders (34:1-10).
  • Die Here belowe Hy sal self sy kleinvee se herder wees. In verbondstaal belowe die Here: “Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God.” (34:11-31).

Continue reading

Onlangse kommentaar