Skip to main content

Tag: Beloftes

Miga 4:14-5:8 – God seën ons om tot ‘n seën te wees

19 Desember

Miga 4:14-5:8 – God seën ons om tot ‘n seën te wees

4:14Sny jouself maar stukkend, strydlustige vrou! Ons word beleër en die regter van Israel word met ‘n stok op die wang geslaan! 5:1“Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.” 2Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir ‘n swanger vrou om geboorte te skenk. Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete. 3Hy sal optree en as herder lei deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God. Hulle sal veilig gevestig wees, want dan sal hy magtig wees tot aan die uithoeke van die aarde. 4“Hierdie een sal ongedeerd wees. Wanneer Assirië ons land binnekom, sy voete in ons vestings sit, sal ons sewe herders, ja, agt stamhoofde uit die mense teen hulle opstel. 5Hulle sal die land Assirië met die swaard kaalstroop, die land van Nimrod met dolke. Hy sal ons van Assirië red wanneer hulle ons land binnekom en ons grense oorsteek. 6Die oorblyfsel van Jakob sal tussen al die nasies wees soos dou wat van die Here kom, soos sagte reën op gras, wat niks van ‘n mens verwag nie, geen hoop op mense vestig nie. 7Die oorblyfsel van Jakob sal tussen die nasies, te midde van baie volke, soos ‘n leeu tussen wilde diere wees, soos ‘n jong leeu onder ‘n trop kleinvee: As hy verbygaan en vertrap en verskeur, is daar niemand wat red nie. 8Mag jy die oorhand hê oor jou teenstanders; ja, al jou vyande – laat hulle uitgeroei word!

Ons fokus op die vierde Sondag in Advent op die profeet Miga. Hoofstuk 4-5 van Miga vorm die hart van die boek se boodskap as ‘n noodsaaklike kontrapunt met die oordeelsuitsprake van hoofstuk 1-3. Die belofte van hoop word as volg opgebou. Miga 4:1-8 – Aan die einde van die dae sal Jerusalem ‘n blywende ontmoetingsplek vir die nasies wees. Miga 4:9-13 – Die Here sal die vermorseling van die ballingskap verander en sy volk die oorhand oor die nasies gee. Miga 4:14-5:8 – Die Here sal ‘n sterk leier, ‘n heerser, gee om hulle te red tot seën van die nasies. Miga 5:9-14 – Die Here sal alle afvalligheid van Hom beëindig ook onder die nasies.

In direkte kontras met die vasgevaldheid van hulle beleëring en ballingskap sal die Here Iemand stuur wat tot hulle redding sal verskyn. Hy kom uit Bethlehem-Efrata en sal bekend wees as iemand wat aan die Here behoort. Trouens: “Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.” Daarmee verwys Miga waarskynlik na die begin van die Dawid geslagslyn, hoewel dit uit die NT toepassing hiervan duidelik op Jesus dui, en daarom op sy Goddelike bestaan kan dui (Matt 2:1-6). Miga het natuurlik nie dié konnotasie gemaak nie, en het verwag dat dit in sy tyd al ‘n effek sal hê om die Assiriërs die loef af te steek, iets wat onder die heerskappy van Hiskia gebeur het (vers 4 – vgl Jes 36-37). Hierdie Heerser sal die volk lei deur die krag wat die Here hom gee. Hy sal sorg dat sy volk tot ‘n seën van die nasies sal wees, presies wat God met hulle van die begin af wou doen.

God se droom vir sy mense is van altyd af dat Hy só ‘n werklikheid vir hulle sal wees dat hulle ‘n ontmoetingsplek sal wees vir die nasies met Hom. Die patroon is en was nog altyd: God seën ons om tot ‘n seën te wees. Dit is sy onwrikbare verbintenis en belofte aan ons. Dit is ook uit daardie hoek wat ‘n mens die hele bediening van die Here Jesus Christus moet verstaan. Hy is die regeerder-leier wat na vore gekom het en sy volk lei deur die krag wat die Here Hom gegee het. Hy is die een wat uit ‘n maagd gebore is, wat vrede gebring het, en steeds besig is om dit te vestig in sy koninkryk.

Lees meer: https://bybelskool.com/miga-41-514-die-here-bring-verlossing-vir-die-hele-wereld-onder-sy-heerskappy/

Titus 2:11-15 – Die hoop op die ewige lewe voed ons op om godvresend te kan leef

18 Desember

Titus 2:11-15 – Die hoop op die ewige lewe voed ons op om godvresend te kan leef

11Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, 12en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp, 13terwyl ons uitsien na die salige hoop en glansryke verskyning van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus – 14Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom ‘n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen. 15Praat oor hierdie sake met volle gesag, bemoedig en wys tereg. Moenie dat iemand op jou neersien nie.

Let op dat Paulus in vers 11 sê dat die verlossende genade van God – dit is die Here Jesus, die Verlosser, soos Hy in vers 13 genoem word – aan alle mense verskyn het. Soos dit in sy aardse bediening in Judea was. So is dit nou regdeur die wêreld. Daar is haas nie meer enigiemand op hierdie wêreld wat nie weet van Jesus nie. Elke Kersfees word alle mense herinner, al is dit net met die verwagting wat die geskenke om die Kersboom in almal wakker maak. Trouens, selfs ons jaartelling herinner ons aan Hom. Regdeur die wêreld. Maar, bekendheid bring nie bekering nie. Die feit dat almal weet, beteken nog lank nie dat almal glo nie. Nie almal het plek in die herberg van hulle harte vir Jesus nie.

Dit is egter nie al werklikheid nie. Let op dat Paulus regdeur praat van “ons”. Van dié mense wat wel in Hom glo. Hulle, sê Paulus, het Jesus losgekoop. En dit is vir hulle die begin van die ewige lewe. Hierdie belofte van Jesus, sê Paulus, het ‘n groot effek op ons. Dit “voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp”.

Hoekom is dit so belangrik? Hoekom sal ‘n mens weerstand bied teen die wêreldse waardes wat dreig om selfs oor die kerk en sy mense te spoel? Hoekom sal ‘n mens nie maar ‘n bietjie aanpas nie? Dit is omdat ons hierdie belofte van die ewige lewe het, omdat dit vir ons alles in plek laat val, dat ons daardeur die volle prentjie van die uiteinde van ons dissipelskap kan sien. Dit is omdat ons weet wat vir ons wag … dat ons nie omgee om die pyn te vat van verwerping deur die wêreld nie. Ons het: “erfgename geword van die ewige lewe  waarop ons hoop,” soos Paulus later in sy brief sê (Tit 3:7). Soos Peterson in The Message vertaal: “And there’s more life to come – an eternity of life! You can count on this.” Dit gaan nie net oor die lengte van die ewige lewe nie. Dit gaan ook oor die oorvloed wat vir ons wag. “An eternity of life!”

Lees meer: https://bybelskool.com/titus-21-15-gesonde-leer/

Psalm 80:1-8 – God is ons Herder en Heerser

17 Desember

Psalm 80:1-8 – God is ons Herder en Heerser

1Vir die musiekleier. Op “Narsings”. ‘n Getuienis. Van Asaf. ‘n Psalm. 2Herder van Israel, luister tog! U wat Josef soos kleinvee lei, U wat oor die gerubs troon – laat skyn tog u lig 3voor Efraim, Benjamin en Manasse! Laat u mag ontwaak en kom tot ons redding. 4O God, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word. 5Here, God, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan u woede nog smeul teen die gebed van u volk? 6U het hulle brood van trane laat eet; U het hulle trane in oormaat laat drink. 7U het ons ‘n bron van stryd gemaak vir ons bure, ons vyande dryf met ons die spot. 8O God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.

Psalm 80is ‘n uitstekende Psalm om in voorbidding vir mense in die geloofsgemeenskap te gebruik. Let op dat God se straf eintlik ironies genoeg ‘n bewys is dat God aan sy mense verbind is. Hy tugtig immers dié wat Hy liefhet. Dit bring die hoop dat God dan ook hulle lot kan verander. Dit is waarop die Psalmis vertrou. Dit kan mos nie wees dat God vir altyd afsydig van ons gebed kan staan nie, al lyk dit asof die gebede Hom vertoorn (vers 5)!?

In die Psalm bid Asaf dat die Here Hom nie net oor die heelal as Almagtige sal bekommer nie, maar oor sy mense as Herder met wie Hy in ’n intieme verhouding is; dat Hy Hom oor hulle sal ontferm en weer onder sy sorg sal neem. Draai terug na ons toe, sodat ons na U toe kan terugdraai. Dit is die fundamentele basis vir ons gebed – die belofte dat God naby ons is as Herder en dat Hy die Heerser is oor alles.

Laat twee aspekte uit hierdie oordenking jou gebedslewe verryk. 1) God is jou Herder, naby, intiem betrokke. 2) God is Almagtig, die Heerser, in staat om die onmoontlike moontlik te maak. En bid dan vir jouself en ook vir ander: “Laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-80-laat-dit-weer-met-ons-goed-gaan-verskyn-tog-tot-ons-redding/

Hebreërs 10:5-10 – God maak ons heilig deur die offer van Jesus eens en vir altyd

16 Desember

Hebreërs 10:5-10 – God maak ons heilig deur die offer van Jesus eens en vir altyd

5Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld: “Offerande en offergawe wou U nie hê nie, maar ‘n liggaam het U vir My voorberei; 6ja, brandoffers en reinigingsoffers het U nie tevrede gestel nie. 7Toe het Ek gesê, ‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God! Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ” 8Eers sê Hy hierbo, “Offerandes en offergawes”, en “brandoffers en reinigingsoffers wou U nie hê, en het U nie tevrede gestel nie” – dit is wat volgens die wet geoffer word. 9Dan sê Hy: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen!” Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. 10Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Die betekenis van Jesus se Hoëpriesterskap word in hoofstuk 8-10 uitgespel. Jesus staan in die eerste plek tussen ons en God as Middelaar om ons met Hom te versoen (Hebr 8:1-13). Hy reinig in die tweede plek ons gewete van dooie werke om die lewende God te kan dien (Hebr.9:1-22). Hy verskyn in die derde plek in die hemelse heiligdom voor God ter wille van ons totdat Hy weer kom om ons te verlos (Hebr 9:23-10:18). Hy neem dus verantwoordelik vir ons verlede, hede en toekoms … vir ewig!

Die skrywer hak by wyse van vergelyking aan by die offerkultus van die OT wat sy waarde gehad het, maar nooit die aanbidders tot volmaaktheid kon bring nie.  Daarom was die offer van Jesus nodig met die liggaam wat God vir Hom voorberei het: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!” aangehaal uit Psalm 40:7-9 as heenwysing na Jesus Christus.  Die Levitiese offerstelsel is daarmee beëindig met die volmaakte offer van Christus: “Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Dít is die erfenis van elkeen wat in Hom glo. Dít is die verbond wat met ons gesluit word met die belofte dat God nie net sy wette in ons harte gee en op ons verstand neerskryf nie, maar glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie! Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap.  Dít is waarom daar ook nie meer ’n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis.

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-923-1018-jesus-christus-verskyn-in-die-heiligdom-voor-god-ter-wille-van-ons/

Lukas 2:8-20 – Jesus is ‘n bron van groot vreugde

15 Desember

Lukas 2:8-20 – Jesus is ‘n bron van groot vreugde

8Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 9‘n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. 12Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal ‘n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” 13Skielik was daar saam met die engel ‘n hemelse menigte wat God loof: 14“Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God ‘n welbehae het!” 15Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.” 16Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. 17Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, 19maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. 20Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is.

Die boodskap van Jesus kring uit na die skaapwagters – nie gerekende mense in daardie tyd nie –  wat met die boodskap – “goeie tyding” vertaal die Griekse woord “evangelie” – van die engele hulle na Maria en Josef haas.

Die engele noem Jesus met drie name wat sy hele bediening stempel: 1) Verlosser – dit is ’n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms; 2) Christus – Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos die beloftes deur die profete aangekondig, aangesluit word; 3) Here – kurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir  God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.

Let op dat Lukas eers Maria, die vrou, en dan eers die man, Josef, noem. Interessant dat hierdie boodskap almal verwonder, maar dan spesifiek verdere (en voortdurende)  nadenke by Maria ontlok. Dit is hoe dit met die boodskap of visies van die Here werk. Daar is altyd verdere en voortdurende nadenke nodig, en die Here werk ook daarin saam deur die bevestigings wat Hy gee.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-21-52-verlosser-christus-here/

Onlangse kommentaar