Psalm 80:1-8 – God is ons Herder en Heerser

17 Desember
Psalm 80:1-8 – God is ons Herder en Heerser
1Vir die musiekleier. Op “Narsings”. ‘n Getuienis. Van Asaf. ‘n Psalm. 2Herder van Israel, luister tog! U wat Josef soos kleinvee lei, U wat oor die gerubs troon – laat skyn tog u lig 3voor Efraim, Benjamin en Manasse! Laat u mag ontwaak en kom tot ons redding. 4O God, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word. 5Here, God, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan u woede nog smeul teen die gebed van u volk? 6U het hulle brood van trane laat eet; U het hulle trane in oormaat laat drink. 7U het ons ‘n bron van stryd gemaak vir ons bure, ons vyande dryf met ons die spot. 8O God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.
Psalm 80is ‘n uitstekende Psalm om in voorbidding vir mense in die geloofsgemeenskap te gebruik. Let op dat God se straf eintlik ironies genoeg ‘n bewys is dat God aan sy mense verbind is. Hy tugtig immers dié wat Hy liefhet. Dit bring die hoop dat God dan ook hulle lot kan verander. Dit is waarop die Psalmis vertrou. Dit kan mos nie wees dat God vir altyd afsydig van ons gebed kan staan nie, al lyk dit asof die gebede Hom vertoorn (vers 5)!?
In die Psalm bid Asaf dat die Here Hom nie net oor die heelal as Almagtige sal bekommer nie, maar oor sy mense as Herder met wie Hy in ’n intieme verhouding is; dat Hy Hom oor hulle sal ontferm en weer onder sy sorg sal neem. Draai terug na ons toe, sodat ons na U toe kan terugdraai. Dit is die fundamentele basis vir ons gebed – die belofte dat God naby ons is as Herder en dat Hy die Heerser is oor alles.
Laat twee aspekte uit hierdie oordenking jou gebedslewe verryk. 1) God is jou Herder, naby, intiem betrokke. 2) God is Almagtig, die Heerser, in staat om die onmoontlike moontlik te maak. En bid dan vir jouself en ook vir ander: “Laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!”
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-80-laat-dit-weer-met-ons-goed-gaan-verskyn-tog-tot-ons-redding/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar