Skip to main content

Tag: Beloftes

Efesiërs 1:3-14 – God het ons in Christus geseën met elke geestelike seëning in die hemel

29 Desember

Efesiërs 1:3-14 – God het ons in Christus geseën met elke geestelike seëning in die hemel

3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. 4So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, 5nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, 6tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. 7In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade, 8wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het, saam met alle wysheid en insig. 9Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, 10om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring, 11In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, 12sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. 13In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. 14Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.

Paulus begin sy brief aan die Efesiërs met ‘n gesprek  met die gemeente oor al die seëninge van God wat uitmond in ‘n gebed. ‘n Teks wat baie goed pas in die aanloop tot die Epifaniefees. In die gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan hulle gegee is (Ef 1:3-14). In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (Ef 1:15-23). Dit is al genoeg om vandag oor na te dink! God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe. Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan. Dit is iets waarvoor ons self kan en moet bid. En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

Let op na die werkwoorde waarmee Paulus God se werk beskryf word in vers 3-6: geseën, uitgekies, voorbestem, aan te neem, en begenadig. Die werkwoorde laat ‘n mens besef dat God ons met die hand uitgesoek het soos Hy lank gelede al besluit het. Jy hoef nie sy arm te draai sodat Hy vir jou lief sal wees nie. Jy hoef Hom nie te probeer beïndruk met wat jy doen nie. Jy kan maar net rustig sy geselskap opsoek en met Hom in gemeenskap lewe.

Let ook veral op na die reeks van beloftes in vers 7-14 wat jou wil motiveer om tot sy eer te leef. Bevryding, vergewing, wysheid, insig, geheimenis van sy wil, erfgename, verseël, bestaan tot lof van sy heerlikheid, Gees as waarborg en eiendom, om maar net die tien vernaamstes te noem. Dit is hoe omvattend jy met die seëninge van God geseën is.

Lees meer: https://bybelskool.com/efesiers-11-23-god-seen-ons-om-alles-in-almal-te-vervul/

Matteus 2:1-12 – God bring onbeskryflike groot vreugde vir ons

28 Desember

Matteus 2:1-12 – God bring onbeskryflike groot vreugde vir ons

1Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. 2Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” 3Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. 4En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, 6“ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.’ ” 7Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, 8en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” 9Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar. 11Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. 12En omdat hulle in ‘n droom ‘n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.

Matteus 2 word elke jaar in hierdie tyd gelees, baie keer op die Epifaniefees self. Die rede daarvoor is dat dit fokus op die ster van Betlehem wat die drie sterrekenners na Betlehem begelei het waar Jesus gebore is as vervulling van die beloftes van God, soos dit in Miga 5:1 voorspel is. Daarvolgens sou Hy die herder van Israel wees, die rol wat God vir konings bepaal het (2 Sam 5:2). ‘n Mens sien ook onmiddellik raak dat Jesus selfs al in sy krip die nasies na Hom toe aantrek. Die sterrekenners bring geskenke wat reeds lank tevore voorspel is: “Goud en wierook sal hulle dra.” (Jes 60:6). Die sterrekundiges ervaar ‘n “onbeskryflike groot vreugde”, kniel voor Jesus neer om Hom te aanbid en te eer.

Dit is insiggewend dat God self as Herder opgetree het deur die sterrekenners te begelei. Deur die ster; deur hulle vaardighede as sterrekundiges; deur hulle gesamentlike reis; deur die Skrif; deur skrifkenners. Maar, dit is ook duidelik dat sonder hulle besluit om nougeset te luister daarna en sonder huiwering op te tree volgens die lig wat hulle het, hulle nooit daar sou uitgekom het nie. Jesus word vir hulle ‘n werklikheid deur te hoor en te doen. Hulle word ook nou self getuies wat die boodskap van Jesus as Herder die wêreld in dra.

Dit is anders met die skrifkenners en ander ingeligtes in Jerusalem. Hulle mis die betekenis van die gebeure, al het hulle ongeveer dieselfde inligting as die sterrekundiges gehad. Hoekom? Want hulle hoor sonder om iets daaraan te doen. Trouens, Herodes besluit om Jesus dood te maak, omdat hy in die jong kind ‘n bedreiging vir sy koningskap sien. Apatie (skrifkenners) en antipatie (Herodes) kos jou die belewenis van God se Herderskap. Laat die verhaal jou dus motiveer om met meer aandag te luister na wat die Here tans vir jou sê en begin tree vir tree, volgens die lig wat jy het, stap op die pad wat die Here aandui. Hy is jou Herder. Hy wil jou intrek in die werklikheid van ‘n lewe saam met God.

Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-2-god-stel-sy-herderleier-jesus-bekend-en-beskerm-hom/

Jesaja 60:1-7 – God se lig skyn deur ons tot die nasies

27 Desember

Jesaja 60:1-7 – God se lig skyn deur ons tot die nasies

1“Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here skyn oor jou. 2Ja, kyk, donkerte bedek die aarde, en diepe duisternis die volke; maar oor jou skyn die Here, en oor jou word sy heerlikheid sigbaar. 3Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. 4Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns – van ver af kom hulle aan; en jou dogters – op die heup word hulle gedra. 5Dan sal jy dit sien en jy sal straal; jou hart sal vinniger klop, ruim word. Want die see se oorvloed sal by jou uitgestort word; die nasies se rykdom sal na jou toe kom. 6‘n Magdom kamele sal jou oordek, jong kamele uit Midian en Efa. Almal uit Skeba sal kom. Goud en wierook sal hulle dra; die goeie nuus van die Here se lofwaardige dade sal hulle verkondig. 7Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaar gemaak; die ramme van Nebajot is tot jou beskikking. Hulle sal as aanvaarbare offers na my altaar opgaan. My roemryke huis sal Ek verheerlik.

Ons beweeg aan die einde van hierdie week die tyd van die Epifanie binne. Dit is die tyd in die kerkjaar wat ons die lig vier wat Jesus se geboorte vir die wêreld gebring het. Sy “Godsverskyning”. Ons sluit daarvoor aan by die merkwaardige aanwending van die tema van lig in Jesaja. Dit word verbind aan God as die bron van lig (Jes 2:5; 9:2), wat deur sy dienaar skyn (Jes 42:6; 49:6). Hierdie lig is bedoel om in die duisternis te skyn (Jes 29:15), om die duisternis lig te maak (Jes 42:7). Die duisternis van die ballingskap, sowel as die duisternis van die sonde.

Hierdie temas word nou verbind aan mekaar in Jesaja 60. God het sy belofte vervul aan Jerusalem: “Ja, jou lig het gekom” (vers 1). Die Joodse volk word daardeur nie net verlos nie, maar word nou op hulle beurt God se lig vir die nasies: “Nasies sal na jou lig trek” (vers 3). God se magtige teenwoordigheid, sy heerlikheid, is dus nou nie net die middelpunt van die stad en die volk nie. Hy trek ook die nasies deur die lig van sy mense in gemeenskap met Hom in. ‘n Paar Arabiese nasies rondom Israel word as voorbeelde genoem. Uit Noord-Arabië (Midian, Efa [uit Midian – Gen 25:4], en Kedar). Uit Suid-Arabië (Skeba). Nebajot was ook een van Ismael se seuns, dws ‘n Arabiese volk (Gen 25:13).

Hierdie lig van God word in die Evangelie van Johannes met Jesus Christus verbind: “In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh 1:4-5). Jesus self sê: “Ek is die lig vir die wêreld.” Daaraan koppel Hy die belofte: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12). Dit is ook ‘n belofte aan ons. Daardeur word ons bemagtig om, soos ‘n Jerusalem van ouds, Jesus se lig aan die nasies te bring: “Staan op, laat jou lig skyn!

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-60-nasies-kom-na-jou-lig/

1 Samuel 2:18-20, 26 – God seën ons fisies en geestelik

26 Desember

1 Samuel 2:18-20, 26 – God seën ons fisies en geestelik

18Samuel het voor die Here diens gedoen – ‘n seuntjie wat ‘n efod van linne aangehad het 19en ‘n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die Here vir jou uit hierdie vrou ‘n nageslag vestig in die plek van hom wat van die Here gevra is.” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan. 21Omdat die Here na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee. Maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword … 26Die seuntjie Samuel het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.

Samuel het van baie vroeg af verstaan wat dit beteken om ‘n goeie mens te wees, in aansien by die Here sowel as by die mense. Twee invloede het ‘n rol gespeel: 1) Sy ma Hanna wat hom nie net afgebid het van die Here, toe sy kinderloos was,  maar aan die Here gegee het om Hom te dien in die tempel. En sy het hom steeds ondersteun deur hom te besoek en klere vir hom te neem. 2) Die toesig van Eli, wat op kritieke tye in Samuel se lewe, vir hom ‘n mentor was. Was hy maar so met sy eie seuns, het dinge miskien verskillend vir hulle almal uitgedraai.

Die belangrikste van Samuel egter was dat hy die Here gedien het, selfs voordat hy God se stem gehoor het, soos ons in hoofstuk 3 lees. Vers 21 sê eintlik dat Samuel by die Here grootgeword het, dws in die teenwoordigheid van God: letterlik “saam met Jahwe”. Dieselfde frase kry ons wanneer Moses se posisie in Eks 34:28 beskryf word: “Moses was veertig dae en nagte by die Here”.  Samuel het dus ’n Moses-tipe verhouding met die Here gehad. Die gevolge vir hom word uitgespel in vers 26: “Samuel het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.” ‘n Goeie mens wat geëer word deur God en in die guns van mense gekom het. En dit is interessant hoe hy dié goeie mens gebly het tot aan die einde van sy lewe – sonder dat hy ooit geval het vir die versoekings van ‘n goeie lewe. 1 Samuel 12 vertel hoe hy aan die einde van sy lewe verwys daarna dat hy niemand se os of donkie gevat het nie; dat hy niemand benadeel of verdruk het nie; dat hy nie omkoopgeld aanvaar het nie.

Die goeie nuus van die Kersfees-kind Jesus is dat Hy nog beter as Samuel die geheim van ‘n goeie lewe verstaan het. Daarom noem Hy mense gelukkig wat sy lewensweg gevind het.  Hoe pragtig spel Hy dit nie uit in die Bergrede nie: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3). Die boodskap van die Nuwe Testament is dat dit sulke mense is wat ‘n ware goeie lewe het, omdat God besig is om hulle goeie mense te maak, deurdat hulle sy kinders geword het, en Hy daagliks besig is om dit meer en meer ‘n werklikheid in hulle lewe te maak.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-samuel-2-hy-beskerm-sy-troue-dienaars-op-hulle-pad/

Psalm 96 – God is regverdig en billik

25 Desember

Psalm 96 – God is regverdig en billik

1Sing vir die Here ‘n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! 2Sing vir die Here, prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. 3Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. 4Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. 5Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die Here het die hemel gemaak. 6Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom. 7Gee eer aan die Here, familiegroepe van volke! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! 8Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne. 9Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! 10Sê onder die nasies: “Die Here regeer; ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Hy oordeel volke met billikheid.” 11Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin. 12Laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep 13voor die Here. Want Hy kom, ja, Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid, en volke ooreenkomstig sy trou.

Ons lees op Kersdag Psalm 96. Die Psalm het twee duidelike dele: 1) Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6; 2) Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13. Let op hoe God se reddingsdade in die geskiedenis sowel as sy skeppingsmag in terme van die heelal as motivering vir die lof aan Hom beskryf word. Dit is die diepste motivering vir die getuienis aan alle mense op die aarde. Dit is ook waarom almal opgeroep kan word om Hom te loof en prys en van Hom te getuig, ook op hierdie Kersdag. Daarom word almal wat op die aarde woon, letterlik “familiegroepe van volke” (vers 7), opgeroep om die Here te erken, aan Hom dankoffers te bring (vers 8) en in aanbidding voor Hom te buig (vers 9) en oral te getuig van sy teenwoordigheid en heerskappy (vers 10).  Dit dui op die verdelings van nasies, die “tribes” of subgroepe wat daar in elke samelewing voorkom.

Let op hoe drie belangrike konsepte in vers 10 gebruik word om God se karakter en betekenis te teken: sy soewereiniteit (regeer), stabiliteit (“die wêreld staan vas”) en billikheid (“regverdig oordeel”). Hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, maar ook vir die hele heelal. Daarom word die hemele en die aarde, die see en alles daarin, die veld en alles daarop, selfs die bome in die bos opgeroep om hulle in God te verheug, want Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar inderdaad stabiliteit, regverdigheid en billikheid op aarde sal wees.

Juig ook vandag saam oor God se regverdigheid en billikheid, en bid dat die Here Jesus (weer) sal kom om oor die aarde te heers, soos God hier in vers 13 belowe. Dit is iets wat ons elkeen saam met die kerk van die eeue aan alle mense wil verkondig.  Saam met die Gees en die bruid, roep ons ook die woorde van Openbaring 22:17 aan almal uit: “’Kom!’  En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’  En laat elkeen wat dors het, kom.  En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kry, verniet!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-96-sing-en-getuig-tot-eer-van-die-regeerder-en-regter-van-die-aarde/

Onlangse kommentaar