Skip to main content

Hebreërs 10:5-10 – God maak ons heilig deur die offer van Jesus eens en vir altyd

16 Desember

Hebreërs 10:5-10 – God maak ons heilig deur die offer van Jesus eens en vir altyd

5Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld: “Offerande en offergawe wou U nie hê nie, maar ‘n liggaam het U vir My voorberei; 6ja, brandoffers en reinigingsoffers het U nie tevrede gestel nie. 7Toe het Ek gesê, ‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God! Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ” 8Eers sê Hy hierbo, “Offerandes en offergawes”, en “brandoffers en reinigingsoffers wou U nie hê, en het U nie tevrede gestel nie” – dit is wat volgens die wet geoffer word. 9Dan sê Hy: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen!” Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. 10Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Die betekenis van Jesus se Hoëpriesterskap word in hoofstuk 8-10 uitgespel. Jesus staan in die eerste plek tussen ons en God as Middelaar om ons met Hom te versoen (Hebr 8:1-13). Hy reinig in die tweede plek ons gewete van dooie werke om die lewende God te kan dien (Hebr.9:1-22). Hy verskyn in die derde plek in die hemelse heiligdom voor God ter wille van ons totdat Hy weer kom om ons te verlos (Hebr 9:23-10:18). Hy neem dus verantwoordelik vir ons verlede, hede en toekoms … vir ewig!

Die skrywer hak by wyse van vergelyking aan by die offerkultus van die OT wat sy waarde gehad het, maar nooit die aanbidders tot volmaaktheid kon bring nie.  Daarom was die offer van Jesus nodig met die liggaam wat God vir Hom voorberei het: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God!” aangehaal uit Psalm 40:7-9 as heenwysing na Jesus Christus.  Die Levitiese offerstelsel is daarmee beëindig met die volmaakte offer van Christus: “Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, eens en vir altyd.

Dít is die erfenis van elkeen wat in Hom glo. Dít is die verbond wat met ons gesluit word met die belofte dat God nie net sy wette in ons harte gee en op ons verstand neerskryf nie, maar glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie! Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap.  Dít is waarom daar ook nie meer ’n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis.

Lees meer: https://bybelskool.com/hebreers-923-1018-jesus-christus-verskyn-in-die-heiligdom-voor-god-ter-wille-van-ons/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar