Skip to main content

Tag: Beloftes

Psalm 8 – God kroon ons met eer en majesteit

24 Desember

Psalm 8 – God kroon ons met eer en majesteit 8

1Vir die musiekleier. Op Haghittiet. ‘n Psalm. Van Dawid. 2Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat u luister bo die hemelruim vestig. 3Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig, vanweë u teenstanders, om vyande en wraakgieriges stil te maak. 4Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – 5wat is ‘n mens dan dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk? 6U het hom net minder as ‘n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon. 7U laat hom heers oor die werk van u hande; U het alles onder sy voete gestel: 8al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, 9die voëls van die hemel, en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane. 10Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde!

Watter wonderlike Psalm! Die boodskap is dat God se Naam (teenwoordigheid) wonderbaar is oor die hele aarde (vers 2a). Eenvoudige kinders bevestig God se werk tot verstomming van arrogante teëstanders (vers 2b-3). In die lig van God se grootheid in die skepping besef mense hul nietigheid (vers 4-5). God bevestig egter mense se waardigheid as die kroon van Sy skepping (vers 6-7). Die mens se invloed sluit alles – diere, voëls en visse – in (vers 8-9). God se teenwoordigheid is magtig oor die hele aarde (vers 10).

Vers 6 is eintlik ‘n ongelooflike vers in die oorspronklike. Daar staan nie dat God van die mens net minder as ‘n “hemelse wese” gemaak het nie, maar dat God van die mens net minder as “God” gemaak het.  Die woord Elohîm word gebruik!  Die Griekse vertaling van die OT (LXX) het hierdie woord vertaal met “engele”, waarskynlik omdat God vir hulle te verhewe was (vgl Hebr 2:7 wat waarskynlik die LXX gebruik het). Maar dit is duidelik dat “God” bedoel word in die Hebreeuse oorspronklike.

Maar die kontras tussen die waardigheid van die mens en sy nietigheid beteken dat die grootheid in nietigheid bestaan, presies soos dit van Christus geskrywe word, dat Hy Homself ontledig het, die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het, nietig en klein geword het … dit wat ons môre met Kersdag vier … en dat God Hom uitermate verhoog het, groot gemaak het, selfs groter as wat Hy was voor sy menswording.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-7-8-god-gee-om-vir-sy-mense-en-verhoor-hulle-gebede/

Numeri 6:22-27 – God beskerm ons in sy genade en gee aan ons vrede

23 Desember

Numeri 6:22-27 – God beskerm ons in sy genade en gee aan ons vrede

22Die Here het met Moses gepraat en gesê: 23“Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘So moet julle die Israeliete seën; sê vir hulle: 24“ ‘Mag die Here jou seen en jou beskerm. 25Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. 26Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.’ ” 27“So moet hulle my Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën.”

Hoofstuk 6 gee aandag aan twee belangrike geestelike instellings in Israel: die gelofte van die Nasireërs en die seën van die priesters.  Die gelofte het te make met absolute toewyding aan die Here. Die seën het te make met die omvattende belofte van sorg van die Here vir sy mense. Die gelofte van die nasireër was ‘n spesifieke verbintenis van iemand aan die Here, man of vrou, om ‘n spesifieke uitkoms van die Here af te smeek in gebed en deur gedrag.  Gewone mense kon dit dus doen.  Dit kon ook tot ‘n permanente verbintenis lei waar iemand afgesonder is vir ‘n lewensroeping, soos bv. die geval was met Simson as rigter en Samuel as profeet – Num. 6:1-21. Die Aäronitiese seën was die Here se belofte aan die volk dat Hy vir hulle sou sorg met die omvattende beskerming, genade en vrede van sy teenwoordigheid, wat verhoring van gebede en geloftes sou insluit.

Hierdie Aäronitiese seën was ‘n permanente opdrag aan die priesters in die liturgie (Deut 10:18).  Ook Dawid (2 Sam 6:18) en Salomo (1 Kon 8:14, 55) het die seën gebruik as deel van hulle posisie as konings. Dit is selfs gebruik wanneer daar een of ander geskil of aanklag uitgesorteer moes word (Deut 21:5). Dit was dus bedoel vir die gereelde, normale gebede en aanbidding sowel as die ongereelde, abnormale situasies waarin die volk hulle van tyd tot tyd in hulle verhouding met mekaar sou bevind.

Hierin het die priesters as God se verteenwoordigers opgetree. Dit was Hyself wat hierdeur sy seën uitgedeel het. Daardeur is die Naam van die Here op die Israeliete “gelê”. Dit het beteken dat die Here self hulle geseën het. En sy seën was driedelig: 1) Hy belowe om hulle te beskerm (vgl. Ps. 31:17; 121:3-5, 7-8!); 2) Hy belowe om hulle genadig of toegeneë te wees (vgl. Ps. 4:2; 51:3; 57:2; 119:135; 123:3) – ‘n metafoor wat die prentjie van: “the beaming face of a parent for his beloved” by ons moet wakker maak (NET Bible); 3) Hy belowe om aan hulle vrede te gee (vgl. Ps. 85:9,11; 122:6-8).

Lees meer: https://bybelskool.com/numeri-6-die-impak-van-geloftes-aan-en-die-seen-van-die-here/

Jesaja 8:23-9:6 – God maak ons vreugde groot

22 Desember

Jesaja 8:23-9:6 – God maak ons vreugde groot

8:23Ja, daar sal nie ‘n ligstraal wees vir hulle wat angs ervaar oor die land nie. In ‘n vroeër tyd het Hy vernedering gebring vir die land Sebulon en die land Naftali. In die toekoms bring Hy eer vir die weg na die see, oorkant die Jordaan en die gebied van die nasies. 9:1Die volk wat in duisternis ronddwaal, het ‘n groot lig gesien; hulle wat in ‘n stikdonker land woon – oor hulle het ‘n lig geskyn. 2U het die nasie vermeerder, U het hulle vreugde groot gemaak. Hulle ervaar vreugde voor U, soos die vreugde in die oestyd, soos dié wat juig wanneer hulle buit verdeel. 3Want die las van hulle juk en die hout oor hulle skouers, die stok van hulle slawedrywer, het U verpletter soos op die dag van Midian. 4Ja, elke stewel wat stamp met ‘n gedreun, en elke kledingstuk wat in bloed gerol is, is bestem vir verbranding, is kos vir die vuur. 5Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. 6Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, Heerser oor alle magte, sal dit doen.

Ons lees vanaf Jesaja 8:23 omdat dit ‘n eenheid met die eerste deel van hoofstuk 9 vorm. Jesaja gee hier ‘n belofte van uitkoms in die toekoms. Dit sal groot verligting bring vir die duisternis waarin gebiede van Sebulon en Naftali, die pad na die see van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene gedompel is. Dit is ook hier waar Jesus die grootste deel van sy vroeë bediening gespandeer het, en onder andere ook in die gebied van die Dekapolis heidene bedien het (Mark 5:1-20). Hierdie noordelike gebied van Israel het meesal eerste die aanslag – donkerte – van vreemde leërs moes trotseer.  Onder andere is ‘n deel van hul bevolking deur Tiglat-Pileser III weggevoer in 732 vC (2 Kon 15:29).

Met die voorbeeld van die verlossing wat God deur Gideon vir die volk gegee het in sy oorlog teen Midian (vgl Rigt 6), gee Jesaja die belofte dat die volk weer versamel sal word en hulle in God se teenwoordigheid sal verbly. Dié belofte word spesifiek verbind aan ‘n Seun wat vir hulle gebore sal word, waarvan die vier titels sy uitstaande kenmerke uitspel wat Goddelik van aard sal wees: 1) Wonderbare Raadsman, 2) Magtige God, 3) Ewige Vader, en 4( Vredevors. Hy sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal Hy vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd.

Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali (Matt 4:12-17). Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het.  En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-9-lig-aan-die-einde-van-die-tonnel/

Kolossense 3:1-4, 12-17 – ons lewe is saam met Christus verborge in God

21 Desember

Kolossense 3:1-4, 12-17 – ons lewe is saam met Christus verborge in God 3:1-4, 12-17

1As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. 2Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. 3Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn …

12Daarom, omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. 13Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. 14Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. 15Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. 16Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. 17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.

Paulus spel drie fundamentele implikasies uit vir die gelowiges van Kolosse van die verbintenis met Christus Jesus vir:  1) hulle gedagtes oor hulleself (Kol 3:1-4), 2) hulle lewenstyl en gedrag (Kol 3:5-17), en 3) al die verhoudings waarin hulle is (Kol 3:18-4:1).

Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink. Want dit beïnvloed alles. Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie. Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo. Ons status verander. Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe. Trouens, ons lewe is verborge in God. En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo. Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie. Dit spel hy juis in die volgende deel uit. Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid.  Dit moet nie deel van ons denke wees nie. Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak. Só berei ons ons voor die vervulling van die belofte van die ewige lewe.

Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-31-41-leef-as-nuwe-mense/

Psalm 148 – God sorg vir dié wat na aan Hom is

20 Desember

Psalm 148 – God sorg vir dié wat na aan Hom is

1Halleluja! Loof die Here uit die hemel; loof Hom in die hoogtes! 2Loof Hom, al sy engele; loof Hom, al sy hemelse magte! 3Loof Hom, son en maan; loof Hom, al die helder sterre! 4Loof Hom, hoogste hemele en die water wat bo die hemelkoepel is! 5Laat hulle die Naam van die Here loof, want dit is Hy wat bevel gegee het – en hulle is geskape. 6Hy het hulle gevestig vir altyd, vir ewig. Hy het ‘n vaste orde bepaal wat nie verbygaan nie. 7Loof die Here vanaf die aarde – seemonsters en al die diep waters, 8vuur en hael, sneeu en newels, stormwind wat sy bevel uitvoer; 9berge en al die heuwels, bome wat vrugte dra en al die seders; 10wilde diere en al die vee, diere wat kruip en voëls wat vlieg; 11konings van die aarde en al die volke, aanvoerders en al die regeerders van die aarde; 12jong mans en ook jongmeisies, oumense saam met jongmense. 13Laat hulle die Naam van die Here loof, want sy Naam alleen is hoog verhewe; sy luister reik oor aarde en hemel. 14Hy het sy volk sterk gemaak – ‘n rede tot lof vir al sy troue volgelinge, die Israeliete, die volk wat na aan  Hom is. Halleluja!

In hierdie week van Kersfees begin ons met Psalm 148 wat die hele heelal – die hemel en die aarde, die skepsels en die skeppings – oproep tot lof.  Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef.

Die Psalmis gee drie redes waarom alles in die hemel God moet loof: 1) God het hulle gemaak; 2) God het hulle vir altyd gevestig; 3) God het ‘n vaste orde bepaal wat nie verby sal gaan nie (NAV: “waarbuite hulle nie kan beweeg nie”). Die Psalmis gee ook drie redes waarom alles op die aarde God moet loof: 1) God se Naam alleen is hoog verhewe; 2) God se luisterrykheid strek oor die hele aarde en hemel; 3) God het sy volk sterk gemaak as getuienis aan almal wat Hom getrou volg. God wys dus sy sorg in sy beloftes aan dié wat: “na aan Hom is”.

Die hele skepping het dus hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie. Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubare bevestiging nodig het nie. Daarom moet die hele skepping God loof. Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is”. Halleluja!

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-148-alles-en-almal-loof-die-here-uit-hemel-en-aarde/

Onlangse kommentaar