Skip to main content

Tag: Beloftes

Jesaja 43:1-7 – Jy is kosbaar in God se oë; jy behoort aan Hom

3 Januarie

In die volgende agt weke fokus ons steeds (met enkele uitsonderings) op die betekenis van Jesus Christus se “Godsverskyning”, sy Epifanie. Al die beloftes in die Bybel, soos ons reeds gesien het, is vervul, en kry hulle vervulling in die Seun van God (2 Kor 1:20). Hy is die spilpunt van God se belofte, die opsomming van alles wat God verkondig en voorsien het in die skepping en geskiedenis van hierdie wêreld vir die mensdom. En Hy sal ook die spilpunt van die nuwe skepping wees wat gebaseer is op God se belofte. In Hom hou al die beloftes stand: verlede, hede en toekoms. Ons fokus dus op Hom tot en met die verhaal van sy Verheerliking op die Berg (27 Februarie 2021), waarna die Lydenstyd ‘n aanvang sal neem (wat natuurlik steeds met Hom te make sal hê!).

Jesaja 43:1-7 – Jy is kosbaar in God se oë; jy behoort aan Hom

1“Maar nou,” so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. 2As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. 3Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. 4Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. 5Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Uit die ooste bring Ek jou nageslag, uit die weste maak Ek jou bymekaar. 6Ek sê vir die noorde, ‘Gee!’ en vir die suide, ‘Moenie gevange hou nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af. 7Elkeen wat na my Naam genoem is – tot my eer het Ek hom geskep, hom gevorm, ja, hom gemaak.’ ”

Jesaja 43 is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. Daar is soveel beloftes hierin opgesluit, selfs net in die Name en beskrywings van God wat Jesaja hier gebruik: Skepper, Formeerder, Losser, Heilige, Verlosser, Liefhebber, ensomeer. Elke Naam van God is ten diepste ‘n belofte. Nie net vir Israel nie, maar vir elkeen wat sy Naam aanroep. En jy kan daarop staatmaak dat Hy altyd in ooreenstemming met sy Naam en die talle beskrywings van Hom sal optree.

‘n Mens luister natuurlik in die eerste plek na hierdie beloftes uit die hoek van ’n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor. Maar die wonderlike boodskap daarvan inspireer ‘n mens om dieselfde van God te verwag in jou eie situasie. As God hierdie verstote ballinge uitgekies het om aan hulle liefde te bewys en hulle bymekaar te maak, dan kan Hy dit ook vir jou doen in jou eie verlatenheid. As Hy belowe om die ballinge in ‘n Tweede Eksodus uit alle windstreke weer terug na die Beloofde Land te bring, kan Hy ook jou vasgevalde situasie omkeer, want die vervulling van hierdie beloftes sal juis ‘n getuienis wees aan alle nasies wat sal moet erken dat God sy mense werklik liefhet. Die getuienis is ook bedoel om die nasies tot inkeer te bring om self ‘n verbintenis aan hierdie Beloftegewer te maak.

Let ook op dat dit alles in die eerste persoon geskryf is. Jy kan “Ek” twaalf keer net in hierdie sewe verse alleen tel. God self staan dus in vir sy beloftes. Dit is genade; dat Hy jou op jou naam geroep het; dat jy aan Hom behoort; dat Hy by jou is deur gevare; dat jy kosbaar is in sy oë; dat jy tot sy eer geskep is. Niemand kan dit van jou wegneem nie. God self staan in vir hierdie beloftes ook aan jou.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-42-43-die-dienaar-van-die-here-leer-mense-om-god-te-ken/

Psalm 72:1-7 – Gehoorsaamheid aan God se wil bring geregtigheid en billikheid

2 Januarie

Psalm 72:1-7 – Gehoorsaamheid aan God se wil bring geregtigheid en billikheid

1Van Salomo. O God, gee u beslissings aan die koning, u geregtigheid aan die seun van die koning. 2Mag hy u volk met geregtigheid oordeel, u magteloses met billikheid. 3Mag die berge vrede bring vir die volk, en die heuwels geregtigheid. 4Hy sal die magteloses van die volk se regte handhaaf, die kinders van behoeftiges verlos, maar onderdrukkers verpletter. 5Hulle sal vir U ontsag hê solank die son en die maan nog daar is, vir geslagte lank. 6Mag die koning wees soos reën wat neerdaal op ‘n gesnyde grasveld, soos reënbuie wat die aarde deurweek. 7In sy tyd sal regverdiges floreer, daar sal vrede in oorvloed wees tot die maan nie meer daar is nie.

Ons vier op hierdie Sondag die Epifanie – die “Godsverskyning” van Jesus. Ons lees Psalm 72 wat nie soseer direkte beloftes bevat nie, maar wel ‘n beskrywing van wat kan gebeur as ‘n koning regeer soos God dit wil. Waar God se beginsels nagekom word, vervul dit die indirekte “belofte” van voorspoed binnelands en buitelands. Want, waar God die koning leer om te regeer soos Hy dit wil – volgens sy beslissings en sy geregtigheid (vers 1) – daar sal die mense God kan dien van geslag tot geslag (vers 5). Daar sal selfs vrede met die nasies kan wees soos in die res van die Psalm beskryf word (vers 8-11).

Let op hoe gebid word dat God die koning in staat sal stel om die reg van verdruktes, armes, swakkes en behoeftiges te handhaaf. Dit is immers die primêre dinge waarop “leiers” moet fokus. Hulle moet instaan vir dié wat dit nie vir hulleself kan doen nie. ’n Maatstaf wat ons gerus vandag nog kan aanlê vir leiers, in watter sfeer van die lewe ook al. Maar, dit is natuurlik veral ook die mandaat vir ons gebed vir ons leiers. Ons word deur hierdie Psalm uitgenooi om God se aangesig hieroor te soek. Want dit is deur gebed wat sy koninkryk in hierdie lewe gestalte kry.

Salomo laat ‘n mens daarom met Psalm 72 dink aan die ideaal van die Messiaanse koning, die koning na God se hart. Jesus het in lyn met hierdie Psalm die genadejaar van die Here aangekondig vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes (Luk 4), en inderdaad hulle lewens deur sy woorde, werke en wonders prakties verander. Só het Hy die koninkryk van God kom vestig, dié koninkryk wat saam met die gebed vir God se Naam en wil in hemel en aarde die eerste drie bedes van die Onse Vader is (Matt 6:9-13).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-72-leer-die-koning-om-volgens-u-wil-te-regeer/

Psalm 147:12-20 – God beveilig en versadig sy mense met intense vreugde

1 Januarie

Psalm 147:12-20 – God beveilig en versadig sy mense met intense vreugde

12Roem die Here, Jerusalem, loof jou God, Sion, 13want Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak, Hy het jou kinders in jou geseën, 14Hy wat jou grense veilig stel. Met die vetste koring versadig Hy jou, 15Hy wat sy bevel na die aarde stuur – sy woord beweeg vinnig – 16Hy wat sneeu gee soos wol, ysryp soos as uitstrooi, 17wat sy ys soos krummels afgooi. Wie kan voor sy koue standhou? 18Hy stuur sy woord en laat dit smelt; Hy laat sy wind waai en water begin vloei. 19Hy maak sy woorde aan Jakob bekend, sy vaste voorskrifte en wette aan Israel. 20Hy het nie so opgetree teenoor enige ander nasie nie; sy wette ken hulle nie. Halleluja!

Die beloftes van Psalm 147 aan die begin van die kalenderjaar gee ‘n mens die moed om die Here vir hierdie jaar te vertrou. Hy stel immers sy vreugdevolle versorging ten toon in die natuur sowel as in die geskiedenis van sy mense. Daarom kan ons saam met hulle die Here se geweldige grootheid besing sowel as die grenslose genot van God in alles wat leef en beef – kraaie en kinders. 

God sorg vir alles en almal, omdat Hy in sy skepping en sy skepsels ‘n intense vreugde vind. Hy verheug Hom in die wolke en die reën, in die gras op die berge sowel as in die diere en die jong kraaie wat krys, en veral in dié wat vir Hom ontsag het en op Hom hoop. Hy is doodgewoon lief vir hulle almal en wil sy genade in oorvloed uitstort en sy mense versorg.

Let op hoe God se woord as effektief beide in die natuur as in die geloofsgemeenskap geteken word. God stuur sy woorde uit en dit bring reën sowel as insig. Dit versorg die gemeenskap beide met kos om te eet sowel as met woorde om geestelik van te leef en hulle gemeenskapslewe op te begrond. Dit is die beloftes waarop jy hierdie jaar kan vertrou.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-147-die-here-vind-vreugde-in-hulle-wat-vir-hom-ontsag-het/

Johannes 1:9-18 – Almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word

31 Desember

Johannes 1:9-18 – Almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld. 10Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie. 12Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo. 13Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore. 14En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. 15Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ” 16Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade. 17Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.

Volgende aan die beurt in die tema van die lig van Epifanie, die “Godsverskyning”, is die boodskap van die eerste hoofstuk van die Evangelie van die apostel Johannes. Hy haak die tema van lig aan die opdrag wat Johannes die Doper gekry het om te getuig van die lig wat die Woord van God, Jesus Christus, aan die wêreld bring. Hierdie Johannes was nie self die lig nie, maar moes van die lig getuig, sodat almal deur hom sou glo. Die ongemaklike realiteit was egter dat die wêreld, wat deur Jesus tot stand gekom het, Hom nie herken het nie. Selfs van sy eie mense, die Jode, het Hom nie aangeneem nie.

Dan verkondig Johannes egter die goeie nuus dat dié wat Jesus wel aangeneem het die reg ontvang het om kinders van God te wees, dié wat in sy Naam glo. Hierdie belofte van God kan hulle vertrou, want hulle kindskap kom nie uit die regte afkoms (bloed), die regte begeertes (wil van die vlees) of die regte besluite (wil van ‘n man) nie. Hulle is uit God gebore.

Hierdie hele eerste hoofstuk van Johannes is só diepsinnig. ‘n Gepaste afsluiting van hierdie kalenderjaar. ‘n Mens wil elke woord daarvan in jou gedagtes omdraai en elke faset daarvan oordink. Dat Jesus groter is as wat ons kan dink. Woord. Skepper. God. Dat Hy nader is as wat ons dink. Vlees. Tabernakel. Dat Hy dieper werk as wat ons ooit kan dink. Lig. Lewe. Genade. Waarheid. Dat Hy ons visie op God kom herstel het. Dat ons kinders van God kan wees deur in Jesus te glo. Uit God gebore. Watter lewensveranderende gawe!

Lees meer: https://bybelskool.com/11-18-die-genade-en-waarheid-van-jesus-sluit-die-lewe-oop/

Efesiërs 3:1-12 – Ons het deur geloof vrymoedige toegang tot God

30 Desember

Efesiërs 3:1-12 – Ons het deur geloof vrymoedige toegang tot God

1Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene. 2Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is. 3Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. 4Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. 5Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, 6naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. 7Van dié evangelie het ek ‘n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. 8Aan my, minder as die geringste van al die heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, 9en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. 10Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, 11ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. 12In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, ‘n seker en vrymoedige toegang tot God. 13Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek.

Paulus gaan verder om in hoofstuk 3 al die gelowiges uit die heidene te bemoedig dat hulle nie tweedehandse burgers van die koninkryk is, of nog erger, steeds buite die koninkryk is nie. Hulle deel dus in al die seëninge van God wat daar in Christus Jesus en deur die werk van die Heilige Gees is. Dit is die goeie boodskap wat hy nou aan hulle verkondig: in Christus kan alle mense deel van die Godsvolk word. Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef. Let op hoe hy die boodskap ook fundeer in God as Skepper van alle dinge (vers 9) en dat dit ‘n boodskap is wat selfs aan elke mag en gesag van die kosmos bekend gemaak moet word (vers 10).

Paulus wil hulle verder bemoedig om nie moedeloos te word, omdat hy om hulle ontwil ly en in die tronk sit nie. Hulle moet dit eerder as ‘n eer beskou. Die agtergrond hiervan is dat Paulus juis nou in die tronk is weens die aanklag dat hy die tempel in Jerusalem ontheilig het deur ‘n Griek saam met hom daarheen te neem (Hand 21:27-29). Hoewel dit onwaar was, het dit waarskynlik die Efesiërs ontstel, want dié Griek was Trofimus, wat juis van Efese afkomstig was. Paulus wil hulle bemoedig deur hulle te wys daarop dat dit in die uitvoering van sy opdrag gebeur het, en dat hulle God se hand daarin moet raaksien.

Die hart van sy boodskap aan hulle is daarom die belofte dat hulle deur hulle geloof in Jesus ‘n seker en vrymoedige toegang het tot God (vers 12). Hulle is deel van die binnekring! Hulle kan daarom met vrymoedigheid tot God nader in gebed en Hom vertrou om nie net na hulle te luister nie, maar om hulle lewens met sy genade en liefde vol te maak. En om deur hulle aan die wêreld, selfs aan die magte, te wys dat hulle deur Hom uitgekies is om deel van die liggaam van Christus te wees.

Lees meer: https://bybelskool.com/efesiers-31-21-god-vervul-ons-met-krag-geloof-liefde-insig-ervaring-en-sy-volheid/

Onlangse kommentaar