Skip to main content

Tag: Beloftes

Lukas 1:46-55 – God versadig ons met sy goeie gawes

14 Desember

Lukas 1:46-55 – God versadig ons met sy goeie gawes

46Maria het toe gesê: “My siel loof die Here, 47my gees jubel oor God my Verlosser, 48want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, 49want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. 50Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het. 51Kragtige dade verrig Hy met sy arm. Die denke van hoogmoediges verwar Hy, 52heersers ruk Hy van hulle trone af, en geringes verhoog Hy. 53Hongeriges versadig Hy met goeie gawes, en rykes stuur Hy met leë hande weg. 54Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan, deur sy ontferming in gedagte te hou, 55soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het, aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.”

Dit tref ‘n mens dat Maria se loflied, die Magnificat (“my siel loof die Here”) soos dit deur die eeue genoem is, aanhaak by wat Elisabeth net hiervoor in vers 45 oor Maria gesê het, dat sy gelukkig is, makarios (salig). Dit het die betekenis van ‘n toesegging, dws iets wat God oor haar uitspreek, soos Jesus dit inderdaad in die Bergrede sou gebruik, terwyl die eerste woord wat Elisabet in vers 42 gebruik het, die woord eulogêmenos (geseënd) op goedpraat gedui het. Maria lê daarmee klem daarop dat haar geluk nie soseer is omdat sy gehoorsaam was nie, maar omdat God groot dinge aan haar gedoen het.

Maria brei dan uit op die groot dinge wat God in die verlede deur die geslagte gedoen het. Dit is beloftes waarop ons steeds kan staatmaak. Beloftes wat ook vir ons “salig” sal maak. 1) God bewys barmhartigheid, ‘n tema regdeur haar loflied, aan dié wat Hom vrees. 2) God jaag hoogmoediges uitmekaar en verwar hulle denke. 3) God ruk magtiges van hulle trone en verhoog geringes in hulle plek. God duld eenvoudig nie hoogmoed of aanstellerigheid nie.

Hierdie gedeelte leer ‘n mens dus die verskil tussen geseënd wees – mense wat goed praat oor jou of iets goeds wat met jou gebeur – en gelukkig of salig wees – God wat jou seën. Albei is van waarde, maar laasgenoemde is goddelik. Elkeen wat sy verwagting op God stel, in watter situasie ‘n mens jou ook al mag bevind, sal God se barmhartigheid en sorg, sy ontferming en redding beleef. Maria sê dit geld van geslag tot geslag vir dié wat vir Hom ontsag het.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-11-56-twee-godsmanne-word-vir-twee-godsvroue-belowe/

Lukas 1:39-45 – Gelukkig is dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word

13 Desember

Ons is nou drie weke besig met die beloftes. Jy sou agter gekom het dat die meeste van die beloftes tot dusver deel is van profesieë en verhale, omdat die beloftes gekies is uit tekste wat met Advent en die Kersverhaal verband hou.

Jy sou ook agter gekom het dat ‘n mens dieper moet delf om die beloftes daarin raak te sien. Dit is omdat hierdie beloftes hulle vervulling vind in die Persoon van Jesus Christus. Hy is ten diepste die Belofte van God: “The Promised Person & The Person Promised” (Herbert Lockyer). In Hom word al die beloftes van die profesieë en verhale en hulle vervulling soos boeke in ‘n boekrak ten toon gestel. Maar, jy moet ‘n bietjie werk insit om dit jou eie te maak – die onderskeie boeke uithaal, en deeglik deurlees – veral omdat jy rekening moet hou met die verskille en ooreenkomste tussen die Bybelse konteks en jou eie.

Die beloftes in die Psalms (en ander wysheidsliteratuur soos Spreuke en Prediker) daarenteen is ‘n bietjie makliker om raak te sien. Dit is soos ‘n string pêrels waarvan elke pêrel blink gevryf en in ‘n halssnoer ingeryg is om een vir een te waardeer en in ons lewens van toepassing te maak. Gelukkig is daar elke week ‘n Psalm om hierdie tipe beloftes te kan waardeer!

My gebed is dat julle begrip van die betekenis van al hierdie verskillende soorte beloftes sal groei sodat julle nie net die maklik toeganklike pêrels van God se beloftes in die Psalms sal waardeer nie, maar ook die sentrale Belofte van God wat in die evangelie van Jesus vervul is. In Hom hang al die beloftes saam – verlede, hede en toekoms – en in verhouding met Hom kan ons op die vervulling van al die beloftes van God staatmaak.

Lukas 1:39-45 – Gelukkig is dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word

39In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na ‘n dorp in Juda. 40Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. 41Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hardop uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. 45En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.”

Maria reageer onmiddellik op die inligting wat die engel haar oor Elisabet gee. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haar verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel. En Maria kry nog ‘n dieper bevestiging as net dat die engel se woorde vervul sou word. Elisabet kry woorde van die Heilige Gees, en noem Maria “moeder van my Here” voordat Maria nog enigsins begin vertel het van wat die engel gesê het. En sy noem Maria eers in vers 42 geseënd (eulogêmenos – letterlik: [mense sal] goedpraat [oor jou]) en daarna in vers 45 gelukkig (makarios – letterlik salig), omdat sy die boodskap aan haar geglo het. Haar loflied word daarom soms die Beautitude genoem.

Let op dat die Een wat die belofte gegee het, en die Een wat gebore sou word, met dieselfde naam, Here, genoem word. Dit bevestig nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus. Wat verder wonderlik is van Elisabet se lofsang is die blydskap wat dit uitstraal oor die belofte wat twee ongebore kinders vir die wêreld inhou. Die Heilige Gees het Elisabet vervul sodat sy verder kon sien, soos ‘n Maleagi van ouds, as maar net die wonder van hulle onderskeie swangerskappe.

Ja, Elisabet was bly dat Maria geseënd is as vrou. Sy sou aan ‘n kind geboorte skenk. Selfs die ongebore Johannes was bly oor die gawe aan Maria. Hy het in Elisabet se skoot van vreugde opgespring. Elisabet was ook bly dat Maria gehoorsaam was, dat sy die dinge geglo het wat die Here vir haar gesê het. Dit onderstreep die fokus op vreugde wat ons regdeur Lukas en Handelinge gaan sien. Die vier lofsange van Elisabet, Maria, Sagaria en die engele sowel as die reaksie van die herders bevestig dit. Later kom ook die lied van Simeon. Die goeie nuus van die evangelie laat mense gereeld in vreugde reageer – Lukas sluit bv sy evangelie daarmee af. Maar die diepste blydskap was dat die Here self in die ongebore kind van Maria na haar toe gekom het. Twee verwagtende Godsvroue wat twee ongebore Godsmanne dra. Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie deur die belofte van twee ongebore kinders. Dink net weer aan wat hierdie twee kinders sou regkry ná hulle geboorte!

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-11-56-twee-godsmanne-word-vir-twee-godsvroue-belowe/

Filippense 4:4-7 – Die vrede van God sal oor julle harte en gedagtes waak

12 Desember

Filippense 4:4-7 – Die vrede van God sal oor julle harte en gedagtes waak

4Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! 5Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.

Ons fokus op hierdie derde Sondag in Advent op ‘n verdere hoofstuk in Filippense. Paulus skryf in hoofstuk 4 dat dit nie net eensgesindheid in die Here is wat kenmerkend van die gemeente (en sy leiers) moet wees nie (vers 1-3), maar ook ’n vreugde in die Here sowel as ‘n vriendelikheid teenoor alle mense (vers 4-5). Hy gebruik die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.

Met hierdie gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en vriendelikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie. Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word. Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: julle angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig! 

Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die omvattendste beloftes wat Paulus gee: “en die vrede (eirene) van God, wat alle begrip (nous) oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly. Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar. En dié vrede gaan alle denke te bowe. Dit beteken dat hierdie belofte letterlik beter is as die beste beplanning! God sal daarmee ons gedagtes en emosies bewaak van angstigheid en chaos soos in ‘n veilige hawe teen die storms wat teen ons aanrol.

Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-42-23-om-saam-in-die-here-te-wees-bid-en-leef/

Titus 3:1-7 – Die Heilige Gees wederbaar en vernuwe jou

11 Desember

Titus 3:1-7 – Die Heilige Gees wederbaar en vernuwe jou

1Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en bereid tot elke goeie werk, 2niemand te belaster nie, om nie bakleierig te wees nie, maar vriendelik, en om ware sagmoedigheid te betoon aan alle mense. 3Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4Maar toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, 5het Hy ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – by wyse van die afwassing deur die weergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, 6wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser. 7So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename geword van die ewige lewe waarop ons hoop.

Let op hoe Paulus met die gemeente se publieke verantwoordelikheid begin, voordat hy verder gesels oor die manier waarop die gemeente eenheid in sy geledere moet handhaaf. Aan die een kant is ‘n gesonde gemeenskapslewe afhanklik van instemming en gehoorsaamheid aan owerhede en gesagsinstansies. Daarsonder verval ‘n gemeenskap in anargie en wetteloosheid. Aan die ander kant moet die gemeenskapslewe ook nie net in stand gehou word soos wat dit bv in die verlede was nie, maar positief ontwikkel word deur gelowiges wat bereid is “tot elke goeie werk.

Paulus motiveer hierdie opdrag deur te verwys na hulle eie geestelike geskiedenis, waar God hulle van hulle vroeëre haatlike bestaan verlos het deur sy liefde. Daarin moet hulle nou vasstaan en vanuit God se genade hulle toelê op elke goeie werk, werk wat goed en nuttig is vir die mense. Paulus gee daarby ‘n baie interessante perspektief op die wyse waarop die Triniteit saamwerk in ons verlossing: God die Vader het die Heilige Gees “ryklik oor ons uitgegiet” deur Jesus Christus ons Verlosser (vers 6).  God in sy totaliteit is dus betrokke by die innerlike vernuwing van haatlikheid na liefde wat in ons gebeur, en wat ons laat herleef het. 

Let op dit alles God se gawe aan ons is. Hy is die instrument van verandering, soos dit in vers 7 uitgespel word. So het ons, “geregverdig deur sy genade”, erfgename geword van die belofte van die ewige lewe waarop ons hoop. In ons gehoorsaamheid bevestig God vir ons hierdie belofte en gee Hy vir ons die krag om daaraan vas te hou.

Lees meer: https://bybelskool.com/titus-31-15-gesonde-lewe/

Matteus 11:25-30 – Jesus gee vir jou rus vir jou gemoed

10 Desember

Matteus 11:25-30 – Jesus gee vir jou rus vir jou gemoed

25In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. 26Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. 27Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. 28“Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. 30Want my juk is draaglik en my las is lig.”

Dit is merkwaardig dat hierdie belofte van rus in Matteus geplaas word ná ‘n teregwysing en oordeel oor mense wat Jesus se wonderdade gesien het, maar nie tot bekering gekom het nie. Hulle is daarom erger as die Sodomiete wat geoordeel is vir hulle losbandigheid en afvalligheid. Trouens, dit sal in die finale oordeel meer draaglik vir Sodom as vir die mense wat Jesus verwerp ten spyte daarvan dat hulle sy wonderdade kon ervaar.

Jesus volg dit op met ‘n dankgebed aan sy Vader, die Here van die hemel en die aarde, wat die boodskap van verlossing verberg het vir die wyses en verstandiges van die wêreld, maar dit aan kinders – Hy praat van “kindertjies”, sy dissipels (vgl Matt 10:42) – geopenbaar het. Jesus nooi dan almal wat na Hom luister, om te kom vir die belofte van rus wat Hy gee. Om die laste wat hulle moeg maak en moeilik is om te dra, neer te sit en sy juk – dit is gehoorsaamheid aan die beperkings wat Hy oplê wat dit makliker maak om Hom te volg – op hulle te neem en van Hom te leer – om sy volle lering te omarm.

Jesus word baie keer geassosieer met vryheid van reëls en beperkinge. Dit is egter ‘n valse tekening van sy lering. ‘n Juk het juis die vryheid van twee osse beperk sodat hulle saam kon werk en die las só ligter sou wees. Dit is hoe Jesus se leer ook werk. In die Bergrede spel Hy presies uit hoe dit werk om Hom te volg – beide in wat ons moet aflê (moenie na ‘n vrou kyk om haar te begeer nie), sowel as in wat ons moet opneem (jou vyande liefhê). Dit is juis met daardie juk wat ons op ons neem – om Hom te gehoorsaam in beide die aflê en opneem – dat ons die las van dissipelskap kan dra. En die rus van God self sal ervaar.

Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-11-kom-na-my-toe-en-ek-sal-julle-rus-gee/

Onlangse kommentaar