Skip to main content

Tag: Beloftes

Titus 1:1-4 – die hoop op die ewige lewe bring ware godvresenheid

4 Desember

Titus 1:1-4 – die hoop op die ewige lewe bring ware godvresenheid

1Paulus, ‘n dienskneg van God en apostel van Jesus Christus, ter bevordering van die geloof van die uitverkorenes van God, en hulle kennis van die waarheid, wat ooreenstem met godvresendheid, 2in die hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, reeds voor alle tye beloof het, 3en wat sy woord op sy eie tyd bekend gemaak het deur die verkondiging, wat in opdrag van God, ons Verlosser, aan my toevertrou is – 4aan Titus, my egte seun op grond van ons gemeenskaplike geloof: Genade en vrede van God, ons Vader, en Christus Jesus ons Verlosser.

Paulus rig hierdie brief aan Titus om die onderskeie dorpsgemeentes in Kreta (vers 5) te help met die ontwikkeling van hulle bediening. Hy skryf oor gesonde leierskap (hoofstuk 1), die handhawing van die gesonde leer (hoofstuk 2), en hoe hulle ‘n gesonde gemeenskap kan bou (hoofstuk 3). Hy roep hulle in die proses op tot goeie werke (Tit 1:16; 2:7,14; 3:1,8,14). Dit is die enigste manier waarop God se genade ruimte kry in ons lewe.

Maar Paulus begin nie sy brief daar nie. Hy begin by die hoop op die ewige lewe wat hulle geloof en gehoorsaamheid tot ware godvresenheid sal laat groei. Dit is hierdie belofte, die belofte van die ewige lewe, wat God reeds voor alle tye beloof het, wat die dryfkrag agter ons bediening en goeie werke is.

Let op hoe geloof en kennis van die waarheid eintlik as sinonieme gebruik word. Geloof is nie ‘n sprong in die donker nie. Dit is om die waarheid te erken van wat God oor Jesus as Verlosser bekend gemaak het, sowel as die belofte van die ewige lewe wat daaraan verbind is, en daarop te vertrou.  Geen wonder dat die Heidelbergse Kategismus (vr & antw 21) eeue later geloof as volg gedefinieer het: “’n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.”

Lees meer: https://bybelskool.com/titus-11-16-gesonde-geloof/

1 Petrus 4:7-11 – die liefde bedek ‘n menigte sondes

3 Desember

1 Petrus 4:7-11 – die liefde bedek ‘n menigte sondes

7Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. 8Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde ‘n menigte sondes bedek”. 9Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. 10As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: 11As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. Amen.

Petrus roep gelowiges op tot standvastigheid. Om soos goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God mekaar te bedien. Om mekaar innig lief te hê, want in die liefde lê die belofte opgesluit dat ‘n menigte sondes deur die liefde bedek sal word.

Daarmee verwys Petrus waarskynlik na beide die wysheidstradisie se waarneming: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee” (Spr 10:12), sowel as na Jesus se lering oor vergifnis. Dit is immers Petrus wat die vraag aan Jesus gevra het oor hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom gedoen het: “Selfs sewe keer?” Jesus se antwoord het vergifnis eintlik onverhandelbaar deel van die etos van die koninkryk gemaak: “maar selfs sewentig maal sewe keer” (Matt 18:21-35).

Die “goeie bestuur” van God se genade sluit in dat hulle self selfbeheersd en nugter lewe, en veral baie tyd aan gebed spandeer. Dit sluit ook in dat hulle gasvry teenoor mekaar sal wees, “sonder om te mor”. Dit sluit daarby in dat as iemand die gawe gebruik van woorde, hulle dit sal ontvang: “soos woorde van God.” Dit sluit veral in dat as iemand dien, hulle dit sal doen: “vanuit die krag wat God voorsien.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-petrus-4-bo-alles-moet-julle-mekaar-innig-liefhe/

1 Samuel 2:1-10 – God is ‘n rots vir almal wat Hom vertrou

2 Desember

1 Samuel 2:1-10 – God is ‘n rots vir almal wat Hom vertrou

1Hanna het gebid en gesê: “My hart juig in die Here, ek is sterk in die Here. Ek maak my mond wyd oop teenoor my vyande, want ek verheug my in u verlossing. 2“Niemand is heilig soos die Here nie, ja, daar is niemand buiten U nie; daar is geen rots soos ons God nie. 3Julle moet nie verwaand bly praat nie, nie vermetele woorde oor julle lippe laat kom nie; want ‘n God van kennis is die Here; deur Hom word dade geweeg. 4“Die boë van helde is verpletter, maar dié wat struikel, omgord hulleself met krag. 5Hulle wat versadig was, verhuur hulleself vir brood, maar hulle wat honger was, het oorvloed. Selfs die onvrugbare gee geboorte aan sewe, maar die vrou met baie seuns kwyn weg. 6“Die Here maak dood en Hy maak lewend; Hy laat na die doderyk afdaal en Hy laat daaruit opkom. 7Die Here maak arm en Hy maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. 8Hy laat armes uit die stof opstaan, van die ashoop af hef Hy behoeftiges op om hulle by vooraanstaandes te laat sit en ‘n ereplek hulle erfdeel te maak. Ja, aan die Here behoort die fondamente van die aarde, Hy het die wêreld daarop geplaas. 9“Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy, maar goddeloses – in duisternis word hulle vernietig. “Ja, dit is nie deur krag dat iemand seëvier nie. 10Die Here – wie teen Hom te staan kom, word verpletter; oor hulle laat Hy dit dreun uit die hemel. Die Here spreek reg tot by die uithoeke van die aarde. Hy gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

Ek wou die gedeelte korter afbaken, maar die beloftes hierin is só verweef met mekaar dat ek die hele gedeelte plaas. Let veral op na die verbeeldingryke metafore waarmee God en sy werke beskryf word. Elkeen van dié metafore is beloftes wat ons kan omarm. God is ‘n rots vir almal wat op Hom vertrou. Hy is die een wat die normale orde omkeer, van wie belangrik is en wie nie. Hy gee aan dié wat struikel, nuwe krag. Hy bepaal die lewe en die dood. Hy bevestig die aarde en beveilig dié daarop wat Hom volg: “Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy.” (vers 9a).

Hierdie loflied van Hanna was daarom die basis vir die loflied van Maria oor die Seun wat God haar in die NT gegee het (Luk 1:46-56). Want Jesus vertoon al die kenmerke van dié God wat Hanna die begeertes van haar hart – ‘n seun – gegee het. Hy beskerm en beveilig. Hy gee krag en sterkte, soos God dit vir Hom as die “Gesalfde” (die Christus) gedoen het.

Hierdie beloftes is ‘n groot troos en aanmoediging vir jou om te volhard op die pad wat die Here met jou loop – en om dit met Hom te loop, en nie volgens jou eie goeddunke nie. Dit is nie deur krag wat jy sal seëvier nie, maar deur die Here (vers 9b).

Lees meer: https://bybelskool.com/1-samuel-2-hy-beskerm-sy-troue-dienaars-op-hulle-pad/

Lukas 1:67-80 – God red ons om Hom sonder vrees te dien

1 Desember

Lukas 1:67-80 – God red ons om Hom sonder vrees te dien

67Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: 68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 69‘n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, 70soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – 71verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. 72Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, 73die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het, sodat ons, 74gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, 75en al ons dae voor Hom in heiligheid en geregtigheid kan leef. 76En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, 77en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, 78danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, 79om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.” 80Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.

Hierdie profesie van Sagaria word deur die eeue die Benedictus genoem. Dit kom van die eerste woord van sy loflied “Lofwaardig”. In die Latynse vertaling: “Blessed be the Lord”. Sagaria profeteer onder leiding van die Heilige Gees oor die Verlosser wat volgens die belofte die volk weer in heiligheid (toegewyd) en geregtigheid (opreg) en sonder vrees vir hulle vyande sal laat lewe. Sy loflied is daarom saamgestel uit ‘n aantal aanhalings of toespelings uit die Psalms (Ps 18:2; 105:8-9; 106:9-10; 148:4) en die profete, veral Jesaja (Jes 9:1-2; 11:1-10; 40:3).

Hy profeteer ook oor die voorloper, Johannes (die naam beteken God is genadig), sy seun, wat die pad vir die Verlosser sal voorberei, interessant genoeg om hulle deur vergifnis en die lig wat Hy gee op die pad van vrede te laat loop. Hy sal hulle leer hoe om uit die duisternis van die sonde, “die skadu van die dood” te beweeg na die pad van vrede, waarin hulle sonde vergewe is, en hulle die lig van die Môreson, ‘n beskrywing van die Here Jesus (Mal 4:2; 2 Pet 1:19), kan lewe.

Hierdie is beloftes wat ons weer kan vasgryp in Adventstyd. God het Johannes gebruik om die pad vir Jesus voor te berei. So kan ons dit ook doen. God het Jesus gebruik om sy kinders van hulle vyande te verlos. Om hulle te bevry van almal wat hulle haat, almal wat gelowiges se verbintenis aan God wil verbreek. Sodat hulle Hom “al hulle dae” sonder vrees kan dien. Dit wil Hy ook vir ons doen. God het dus nie net belowe dat Hy met die sonde in ons lewe – die vyand van binne – sal afreken nie. Die verlossing van die Here Jesus sluit ook verlossing van die vyande van buite af in. Heiligheid en geregtigheid voor Hom – dit is God se doel met sy volk. Saamgesnoer in ‘n noue verhouding met Hom. So heilig soos Hy is. So onberispelik soos Hy in hierdie wêreld. Gryp dié boodskap aan en leef uit die belofte daarvan.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-157-80-god-se-lig-rig-ons-voetstappe-op-die-pad-van-vrede/

Lukas 3:1-6 – God bring verlossing

30 November

Lukas 3:1-6 – God bring verlossing

1In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. 2In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn ‘n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom. 3Hierna het hy in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en ‘n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig, 4soos daar geskryf staan, in die boekrol met die woorde van die profeet Jesaja: “’n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit! 5Elke kloof sal opgevul en elke berg en heuwel sal platgemaak word. Maak die krom paaie reguit, en die hobbelrige paaie gelyk! 6Dan sal alle mense sien hoe God verlossing bring.’ ”

Lukas plaas die prediking van Johannes die Doper binne sy historiese konteks wat nie net die politieke bestel van die Romeine en Jode – Tiberius (14-37 nC), Pilatus (26-36 nC), Herodes Antipas (4 vC-39 nC), Filippus (4 vC-33 nC) en Lisanias – betrek nie, maar ook die godsdienstige – Annas en Kajafas as hoëpriesters. Johannes het in die vyftiende jaar van Tiberius begin optree, dws 28 nC.

Dit is ‘n merkwaardige visuele prentjie wat in vers 5-6 geteken word, vanuit die profesie van Jesaja 40:3-5. Johannes roep as Voorloper in die woestyn dat die pad van die Here gereed gemaak moet word, en dat die pad van die Jordaan af regdeur Jerigo wat reg oos lê reguit gemaak moet word tot by Jerusalem in afwagting vir die Messias wat moet kom.

Tegelykertyd is dit ‘n prentjie van die tipe bekering wat voorsien word, ‘n gehoorsaamheid aan die wet wat visueel geteken word as dat elke kloof opgevul word, elke berg en heuwel gelykgemaak moet word, al die krom paaie reguit en die ongelykes gelyk gemaak word. Bekering vervul die belofte van God dat Hy ons verlos. Dit geld alle mense. Iets wat ons hierdie Adventstyd nodig het om te hoor, want die beloftes van God is vir dié wat bereid is om die pad met Hom te loop.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-31-38-jesus-is-familie-van-alle-mense/

Onlangse kommentaar