Skip to main content

Lukas 2:8-20 – Jesus is ‘n bron van groot vreugde

15 Desember

Lukas 2:8-20 – Jesus is ‘n bron van groot vreugde

8Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 9‘n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. 12Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal ‘n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” 13Skielik was daar saam met die engel ‘n hemelse menigte wat God loof: 14“Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God ‘n welbehae het!” 15Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.” 16Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. 17Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, 19maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. 20Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is.

Die boodskap van Jesus kring uit na die skaapwagters – nie gerekende mense in daardie tyd nie –  wat met die boodskap – “goeie tyding” vertaal die Griekse woord “evangelie” – van die engele hulle na Maria en Josef haas.

Die engele noem Jesus met drie name wat sy hele bediening stempel: 1) Verlosser – dit is ’n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms; 2) Christus – Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos die beloftes deur die profete aangekondig, aangesluit word; 3) Here – kurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir  God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.

Let op dat Lukas eers Maria, die vrou, en dan eers die man, Josef, noem. Interessant dat hierdie boodskap almal verwonder, maar dan spesifiek verdere (en voortdurende)  nadenke by Maria ontlok. Dit is hoe dit met die boodskap of visies van die Here werk. Daar is altyd verdere en voortdurende nadenke nodig, en die Here werk ook daarin saam deur die bevestigings wat Hy gee.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-21-52-verlosser-christus-here/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar