1 Samuel 2:18-20, 26 – God seën ons fisies en geestelik

26 Desember
1 Samuel 2:18-20, 26 – God seën ons fisies en geestelik
18Samuel het voor die Here diens gedoen – ‘n seuntjie wat ‘n efod van linne aangehad het 19en ‘n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die Here vir jou uit hierdie vrou ‘n nageslag vestig in die plek van hom wat van die Here gevra is.” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan. 21Omdat die Here na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee. Maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword … 26Die seuntjie Samuel het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.
Samuel het van baie vroeg af verstaan wat dit beteken om ‘n goeie mens te wees, in aansien by die Here sowel as by die mense. Twee invloede het ‘n rol gespeel: 1) Sy ma Hanna wat hom nie net afgebid het van die Here, toe sy kinderloos was, maar aan die Here gegee het om Hom te dien in die tempel. En sy het hom steeds ondersteun deur hom te besoek en klere vir hom te neem. 2) Die toesig van Eli, wat op kritieke tye in Samuel se lewe, vir hom ‘n mentor was. Was hy maar so met sy eie seuns, het dinge miskien verskillend vir hulle almal uitgedraai.
Die belangrikste van Samuel egter was dat hy die Here gedien het, selfs voordat hy God se stem gehoor het, soos ons in hoofstuk 3 lees. Vers 21 sê eintlik dat Samuel by die Here grootgeword het, dws in die teenwoordigheid van God: letterlik “saam met Jahwe”. Dieselfde frase kry ons wanneer Moses se posisie in Eks 34:28 beskryf word: “Moses was veertig dae en nagte by die Here”. Samuel het dus ’n Moses-tipe verhouding met die Here gehad. Die gevolge vir hom word uitgespel in vers 26: “Samuel het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.” ‘n Goeie mens wat geëer word deur God en in die guns van mense gekom het. En dit is interessant hoe hy dié goeie mens gebly het tot aan die einde van sy lewe – sonder dat hy ooit geval het vir die versoekings van ‘n goeie lewe. 1 Samuel 12 vertel hoe hy aan die einde van sy lewe verwys daarna dat hy niemand se os of donkie gevat het nie; dat hy niemand benadeel of verdruk het nie; dat hy nie omkoopgeld aanvaar het nie.
Die goeie nuus van die Kersfees-kind Jesus is dat Hy nog beter as Samuel die geheim van ‘n goeie lewe verstaan het. Daarom noem Hy mense gelukkig wat sy lewensweg gevind het. Hoe pragtig spel Hy dit nie uit in die Bergrede nie: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3). Die boodskap van die Nuwe Testament is dat dit sulke mense is wat ‘n ware goeie lewe het, omdat God besig is om hulle goeie mense te maak, deurdat hulle sy kinders geword het, en Hy daagliks besig is om dit meer en meer ‘n werklikheid in hulle lewe te maak.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-samuel-2-hy-beskerm-sy-troue-dienaars-op-hulle-pad/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Susan
Chris, kan jy asb 1 Samuel 2 vers 6, verduidelik. Wie kom terug uit die doderyk.
Chris van Wyk
Hi Susan, dit is God se “troue volgelinge”, soos vers 9 sê, ‘n verwysing na die eindoordeel waarin God sy kinders uit die dood uit laat opstaan.
Susan
Baie dankie. Ek het die doderyk met die hel verwar.