Psalm 96 – God is regverdig en billik

25 Desember
Psalm 96 – God is regverdig en billik
1Sing vir die Here ‘n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! 2Sing vir die Here, prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. 3Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. 4Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. 5Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die Here het die hemel gemaak. 6Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom. 7Gee eer aan die Here, familiegroepe van volke! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! 8Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne. 9Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde! 10Sê onder die nasies: “Die Here regeer; ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Hy oordeel volke met billikheid.” 11Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin. 12Laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep 13voor die Here. Want Hy kom, ja, Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid, en volke ooreenkomstig sy trou.
Ons lees op Kersdag Psalm 96. Die Psalm het twee duidelike dele: 1) Sing en getuig tot eer van die God van die gode – vers 1–6; 2) Prys die Regeerder en Regter van die aarde – vers 7–13. Let op hoe God se reddingsdade in die geskiedenis sowel as sy skeppingsmag in terme van die heelal as motivering vir die lof aan Hom beskryf word. Dit is die diepste motivering vir die getuienis aan alle mense op die aarde. Dit is ook waarom almal opgeroep kan word om Hom te loof en prys en van Hom te getuig, ook op hierdie Kersdag. Daarom word almal wat op die aarde woon, letterlik “familiegroepe van volke” (vers 7), opgeroep om die Here te erken, aan Hom dankoffers te bring (vers 8) en in aanbidding voor Hom te buig (vers 9) en oral te getuig van sy teenwoordigheid en heerskappy (vers 10). Dit dui op die verdelings van nasies, die “tribes” of subgroepe wat daar in elke samelewing voorkom.
Let op hoe drie belangrike konsepte in vers 10 gebruik word om God se karakter en betekenis te teken: sy soewereiniteit (regeer), stabiliteit (“die wêreld staan vas”) en billikheid (“regverdig oordeel”). Hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, maar ook vir die hele heelal. Daarom word die hemele en die aarde, die see en alles daarin, die veld en alles daarop, selfs die bome in die bos opgeroep om hulle in God te verheug, want Hy is op pad om sy heerskappy te vestig sodat daar inderdaad stabiliteit, regverdigheid en billikheid op aarde sal wees.
Juig ook vandag saam oor God se regverdigheid en billikheid, en bid dat die Here Jesus (weer) sal kom om oor die aarde te heers, soos God hier in vers 13 belowe. Dit is iets wat ons elkeen saam met die kerk van die eeue aan alle mense wil verkondig. Saam met die Gees en die bruid, roep ons ook die woorde van Openbaring 22:17 aan almal uit: “’Kom!’ En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat dors het, kom. En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kry, verniet!”
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-96-sing-en-getuig-tot-eer-van-die-regeerder-en-regter-van-die-aarde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar