Jesaja 60:1-7 – God se lig skyn deur ons tot die nasies

27 Desember
Jesaja 60:1-7 – God se lig skyn deur ons tot die nasies
1“Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here skyn oor jou. 2Ja, kyk, donkerte bedek die aarde, en diepe duisternis die volke; maar oor jou skyn die Here, en oor jou word sy heerlikheid sigbaar. 3Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. 4Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns – van ver af kom hulle aan; en jou dogters – op die heup word hulle gedra. 5Dan sal jy dit sien en jy sal straal; jou hart sal vinniger klop, ruim word. Want die see se oorvloed sal by jou uitgestort word; die nasies se rykdom sal na jou toe kom. 6‘n Magdom kamele sal jou oordek, jong kamele uit Midian en Efa. Almal uit Skeba sal kom. Goud en wierook sal hulle dra; die goeie nuus van die Here se lofwaardige dade sal hulle verkondig. 7Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaar gemaak; die ramme van Nebajot is tot jou beskikking. Hulle sal as aanvaarbare offers na my altaar opgaan. My roemryke huis sal Ek verheerlik.
Ons beweeg aan die einde van hierdie week die tyd van die Epifanie binne. Dit is die tyd in die kerkjaar wat ons die lig vier wat Jesus se geboorte vir die wêreld gebring het. Sy “Godsverskyning”. Ons sluit daarvoor aan by die merkwaardige aanwending van die tema van lig in Jesaja. Dit word verbind aan God as die bron van lig (Jes 2:5; 9:2), wat deur sy dienaar skyn (Jes 42:6; 49:6). Hierdie lig is bedoel om in die duisternis te skyn (Jes 29:15), om die duisternis lig te maak (Jes 42:7). Die duisternis van die ballingskap, sowel as die duisternis van die sonde.
Hierdie temas word nou verbind aan mekaar in Jesaja 60. God het sy belofte vervul aan Jerusalem: “Ja, jou lig het gekom” (vers 1). Die Joodse volk word daardeur nie net verlos nie, maar word nou op hulle beurt God se lig vir die nasies: “Nasies sal na jou lig trek” (vers 3). God se magtige teenwoordigheid, sy heerlikheid, is dus nou nie net die middelpunt van die stad en die volk nie. Hy trek ook die nasies deur die lig van sy mense in gemeenskap met Hom in. ‘n Paar Arabiese nasies rondom Israel word as voorbeelde genoem. Uit Noord-Arabië (Midian, Efa [uit Midian – Gen 25:4], en Kedar). Uit Suid-Arabië (Skeba). Nebajot was ook een van Ismael se seuns, dws ‘n Arabiese volk (Gen 25:13).
Hierdie lig van God word in die Evangelie van Johannes met Jesus Christus verbind: “In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh 1:4-5). Jesus self sê: “Ek is die lig vir die wêreld.” Daaraan koppel Hy die belofte: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12). Dit is ook ‘n belofte aan ons. Daardeur word ons bemagtig om, soos ‘n Jerusalem van ouds, Jesus se lig aan die nasies te bring: “Staan op, laat jou lig skyn!”
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-60-nasies-kom-na-jou-lig/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar