Skip to main content

Matteus 2:1-12 – God bring onbeskryflike groot vreugde vir ons

28 Desember

Matteus 2:1-12 – God bring onbeskryflike groot vreugde vir ons

1Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. 2Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” 3Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. 4En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, 6“ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar ‘n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.’ ” 7Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, 8en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” 9Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar. 11Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. 12En omdat hulle in ‘n droom ‘n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.

Matteus 2 word elke jaar in hierdie tyd gelees, baie keer op die Epifaniefees self. Die rede daarvoor is dat dit fokus op die ster van Betlehem wat die drie sterrekenners na Betlehem begelei het waar Jesus gebore is as vervulling van die beloftes van God, soos dit in Miga 5:1 voorspel is. Daarvolgens sou Hy die herder van Israel wees, die rol wat God vir konings bepaal het (2 Sam 5:2). ‘n Mens sien ook onmiddellik raak dat Jesus selfs al in sy krip die nasies na Hom toe aantrek. Die sterrekenners bring geskenke wat reeds lank tevore voorspel is: “Goud en wierook sal hulle dra.” (Jes 60:6). Die sterrekundiges ervaar ‘n “onbeskryflike groot vreugde”, kniel voor Jesus neer om Hom te aanbid en te eer.

Dit is insiggewend dat God self as Herder opgetree het deur die sterrekenners te begelei. Deur die ster; deur hulle vaardighede as sterrekundiges; deur hulle gesamentlike reis; deur die Skrif; deur skrifkenners. Maar, dit is ook duidelik dat sonder hulle besluit om nougeset te luister daarna en sonder huiwering op te tree volgens die lig wat hulle het, hulle nooit daar sou uitgekom het nie. Jesus word vir hulle ‘n werklikheid deur te hoor en te doen. Hulle word ook nou self getuies wat die boodskap van Jesus as Herder die wêreld in dra.

Dit is anders met die skrifkenners en ander ingeligtes in Jerusalem. Hulle mis die betekenis van die gebeure, al het hulle ongeveer dieselfde inligting as die sterrekundiges gehad. Hoekom? Want hulle hoor sonder om iets daaraan te doen. Trouens, Herodes besluit om Jesus dood te maak, omdat hy in die jong kind ‘n bedreiging vir sy koningskap sien. Apatie (skrifkenners) en antipatie (Herodes) kos jou die belewenis van God se Herderskap. Laat die verhaal jou dus motiveer om met meer aandag te luister na wat die Here tans vir jou sê en begin tree vir tree, volgens die lig wat jy het, stap op die pad wat die Here aandui. Hy is jou Herder. Hy wil jou intrek in die werklikheid van ‘n lewe saam met God.

Lees meer: https://bybelskool.com/matteus-2-god-stel-sy-herderleier-jesus-bekend-en-beskerm-hom/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar