Lukas 13:31-35 – Jesus word nie in sy doel gestuit deur selfs die ergste teenstand nie
Lukas 13:31-35 – Jesus word nie in sy doel gestuit deur selfs die ergste teenstand nie
31Juis op dié tydstip het sommige Fariseërs vir Hom kom sê: “Gaan weg, vertrek hiervandaan, want Herodes wil u doodmaak.” 32Maar Hy antwoord hulle: “Gaan sê vir daardie jakkals, ‘Kyk, Ek dryf vandag en môre nog demone uit en maak mense gesond, en op die derde dag bereik Ek my doel. 33Maar Ek moet nog vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat ‘n profeet buite Jerusalem omkom nie.’ 34Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! 35Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Ek sê vir julle, julle sal My beslis nie weer sien nie, totdat die tyd aanbreek dat julle sal sê, ‘Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!’”
Terwyl Jesus nog besig is om te praat oor die onbekeerlikheid van die Jode bereik die nuus Hom deur ‘n paar van die Fariseërs dat Herodes Hom wil doodmaak. Jesus verwys hier na Herodes as ‘n jakkals. Daarmee verwys Hy waarskynlik nie soseer na sy slinkse of lafhartige karakter nie, maar meer na die feit dat Herodes ‘n onbenullige koning is wie se gesag beperk is, veral in die breër politieke en uiteindelik geestelike konteks. Herodes het geen mag oor Jesus behalwe wat God aan hom verleen nie. Daarom, sê Jesus, sal Hy aangaan met sy bediening van bevryding en genesing. Hy gee egter ook ‘n aanduiding dat sy tyd nou beperk is. Hy sal nog “vandag en môre” aangaan – ‘n Joodse idioom wat n aanduiding van ‘n kort tyd is, maar nie noodwendig gelyk aan twee dae nie – en op die derde dag sy werk voltooi – nog ‘n idioom wat ‘n aanduiding is dat dié tyd tot ‘n einde sal kom. Jesus is op pad na Jerusalem vir dié voltooiing en eers wanneer Hy daar aangekom het, sal Hy gereed wees vir sy kruisdood. Dit is immers ondenkbaar dat ‘n profeet buite Jerusalem sterf, want dit is die sentrum van die godsdienstige teenstand teen Hom, soos dit ook in die verlede met die profete was. Die ware sentrum van teenstand teen Jesus was nie van die politieke leiers nie, maar van die geestelike leiers.
Jesus bars dan uit in ‘n emosie belaaide profesie oor Jerusalem. Hoe graag wou Jesus hulle kinders nie bymekaar maak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke nie – ‘n prentjie van die beskerming van God, soos talle kere in die OT geteken (Ps 17:8; 57:1; 91:4; vgl ook Rut 2:12). Maar, hulle wou nie. Hulle het eerder die profete en ander boodskappers wat God na die Jode toe gestuur het, doodgemaak en gestenig. Die gevolg is dat genadetyd vir hulle sal verbygaan en hulle huis verlate gelaat sal word – ‘n voorspelling van die verwoesting van Jerusalem in 70 nC onder keiser Titus en die latere verstrooiing van die Jode onder keiser Hadrianus weens die Bar Kokhba opstand in 135 nC. Met ‘n aanhaling uit Psalm 118:26 verklaar Jesus dat hulle Hom eers weer met die Wederkoms sal sien, wanneer Hy in die Naam van die Here sal kom om die wêreld te oordeel en die kinders van God saam met Hom die ewigheid in te begelei. Dié frase word ook deur die skare gebruik met Jesus se Intog in Jerusalem (Luk 19:38).
Hiermee gee Lukas vir ons ‘n komplekse en omvattende perspektief op Jesus. Jesus is heeltemal in beheer selfs in die bepaling van die tyd en plek van sy dood. Jesus weet presies met wie Hy te doene het in Herodes, en hanteer Herodes amper minagtend. Hy sal ook later met sy verhoor voor Herodes hom nie eers antwoord op sy vrae nie, omdat Herodes reeds gewys het wie hy is met die moord op Johannes die Doper. Jesus se hart breek vir Jerusalem en vir wat die leiers aan hulle volgelinge doen, maar kan ook nie anders as om die oordeel oor hulle halstarrigheid en onbekeerlikheid uit te spreek nie. Dit is die Jesus wat jy dien. Hy is God. Hy is alwetend. Hy ken ons deur en deur. Hy is barmhartig, maar Hy kan en sal ook oordeel. Hy is genoeg vir jou. Meer as genoeg. Hy sal nie in sy doel gestuit word in jou lewe nie, selfs nie deur die ergste teenstand nie.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar