Romeine 4:1-12 – Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie
Romeine 4:1-12 – Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie
1Wat sal ons dan sê het Abraham, ons stamvader na die liggaam, verkry? 2As Abraham inderdaad op grond van sy dade regverdig verklaar is, het hy rede om hom daarop te beroem. Maar nie voor God nie. 3Want wat sê die Skrif? “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.”4Iemand wat werk, se loon word nie as ‘n guns gereken nie, maar as iets wat hom toekom. 5Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken. 6So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: 7“Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; 8Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” 9Is hierdie seën dan net vir die besnedenes, of ook vir die onbesnedenes? Ons sê tog: “Abraham se geloof is vir hom as regverdiging gereken.” 10Wanneer is dit vir hom toegereken? Toe hy reeds besnede was, of toe hy nog onbesnede was? Nie toe hy besnede was nie, maar toe hy onbesnede was. 11Hy het die teken van die besnydenis as ‘n seël ontvang – ‘n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy gehad het terwyl hy onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat dit ook vir hulle as regverdiging toegereken kon word. 12So het hy ook die vader geword van hulle wat nie bloot besnede is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo het toe hy nog onbesnede was.
Paulus fokus in Romeine 1 op die evangelie van die opstanding van die Here Jesus Christus wat vryspraak van God se toorn bring vir almal wat in Hom glo. Paulus is opgewonde oor die ingeboude goddelike krag van die evangelie van Jesus Christus. Dit is ‘n boodskap wat verlossing van God se toorn bring: “vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” (die laaste gedeelte is ‘n aanhaling uit Hab 2:4 wat ons vroeër gelees het). In Romeine 2 wys Paulus die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uit om selfs wetsgehoorsame Jode van God se toorn te vrywaar. In Romeine 3 wys Paulus dat dit waar is vir alle mense. Almal het immers gesondig en dit ontbreek hulle aan die geregtigheid van God. Dit is net deur die bevryding in Jesus Christus wat hulle in sy genade vrygespreek word.
In Romeine 4 gebruik Paulus nou drie OT figure as bevestiging van hierdie standpunt van hom: Abraham, Dawid en Moses. In die eerste perikoop fokus hy op Abraham en Dawid (Moses kom later aan die beurt). Paulus gebruik God se gesprek met Abraham in Genesis 15 om te wys dat God Abraham se geloof vir hom as geregtigheid toegereken het vóór God vir hom die teken van die besnydenis as seël van die verbond gegee het (Gen 17). Abraham is dus deur God vrygespreek deur die geloof en nie deur die besnydenis nie. Abraham het nie vir die vryspraak gewerk nie, en kon ook nie staatmaak op sy eie wetsonderhouding nie – dié volledige wet is immers eers in die woestyntyd aan die volk gegee. Die besnydenis was dus net ’n teken van die vryspraak deur die geloof, maar is sonder die geloof nutteloos daarvoor.
Paulus bevestig die absolute voorrang van geloof ook met ‘n aanhaling van Dawid uit Psalm 32:1-2 wat op soortgelyke wyse die vryspraak buite wetsonderhouding om bevestig het (ons lees Psalm 32 die 21ste Maart). Paulus haal twee beloftes uit hierdie Psalm aan wat ook as saligsprekings dien: “7Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; 8Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” Daarmee bevestig Paulus dat genade nie ‘n beloning is vir gehoorsames nie, maar ‘n geskenk vir gelowiges, of hulle nou besny is al dan nie. Deur God se genade kan ons die toorn van God ontvlug, en in gehoorsaamheid aan die Gees die werke van die liggaam doodmaak (vgl vir die sondes: Rom 1:18-32; vgl vir die proses van doodmaak: Rom 8:1-17) sodat ons gelykvormig aan die beeld van die Seun van God kan word (Rom 8:18-30). Ons wettelose dade word dus vergewe. Ons sondes word bedek. Ons sonde word ons hoegenaamd nie toegereken nie. Watter vreugde en vryheid! Daar is dus niks wat ons keer om God met vrymoedigheid te dien nie.
Lees meer: https://bybelskool.com/romeine-4-die-genade-van-geloof/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar