Psalm 27 – Die Here is my lig en redding, die toevlug van my lewe, die Helper wat red
Psalm 27 – Die Here is my lig en redding, die toevlug van my lewe, die Helper wat red
1Van Dawid. Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees? 2As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind, ja, my teenstanders en my vyande, struikel hulle self en val. 3Al sou ‘n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou ‘n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou. 4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel. 5Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op ‘n dag van onheil; Hy verberg my in die beskutting van sy tent; Hy tel my hoog op ‘n rots. 6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my. Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent, ek wil sing, ek wil die Here besing. 7Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my! 8My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!” U teenwoordigheid, Here, soek ek op. 9Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie. U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red. 10Selfs al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem. 11Here, leer my u pad, lei my op ‘n gelyk pad, vanweë my vyande. 12Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie; want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan. 13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie! 14Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!
Hierdie Psalm teken die worsteling van Dawid om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teëstand en teëspoed. Dit word saamgebind deur die appèl aan die einde om sterk te wees, moed te hou en te bly vertrou. God word met drie eienskappe geteken wat as beloftes funksioneer: lig, redding en toevlug. God verdryf dus donkerte, gee oorwinning en is beskerming in nood. Hierdie eienskappe van God het sekerheid vir Dawid gebring in sy onderskeie oorloë, maar het ook betekenis in enige situasie waar daar teëstand of teëspoed ervaar word. Dit word aangevul met die enkelvoudige behoefte om altyd in God se teenwoordigheid te lewe – die tempel funksioneer hier as die metafoor daarvoor. Dit is hierdie ervaring van sy teenwoordigheid wat die vertroue gee om aan God te kan vashou, sodat sy heerlikheid nie net sigbaar sou word nie, maar sy leiding Dawid se lewenspad kan verlig. Dink na oor hoe God deur sy lig jou lewe helder maak. Hoe sy redding jou vrees verdryf. Sy teenwoordigheid (die tempel as simbool van God as toevlugsoord) jou veilig laat voel, selfs teenoor jou vyande.
Hierdie eienskappe van God vorm nou die basis vir Dawid se gebed. Lof lei tot smeking. Let op dat die verhoring van sy gebed nie as vanselfsprekend geteken word nie, maar as iets wat steeds uit genade gegee word (vers 7), al gee vorige gebedsverhorings Dawid wel die vrymoedigheid om met oorgawe en verwagting te kan vra (vers 9 – “U was nog altyd my hulp”). Let op hoe Dawid ook nie net vir hulp vra en daarmee basta nie. Nee: “Leer my u wil, Here” is sy versugting, sodat 1) sy vyande nie hulle sin kry nie (en hy van God se pad afdwaal nie), en 2) hy God se goedheid in die land van die lewendes kan ervaar! Hierdie oproep om te vertrou, om sterk te wees en goeie moed te behou, is ’n belangrike deel van ’n mens se geestelike lewe. Dit is die hand waarmee God se genade en uitkoms in jou lewe ontvang word. Dit is immers dié wat op die Here vertrou wat nuwe krag kry, soos Jesaja 40 ook sê. Vertroue is dus die voorbereiding om die genade wat God gee, te kan herken en ontvang. Solank ’n mens natuurlik ook net onthou dat dit steeds genade is. “Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie …” ‘n Gebed wat jou kan dra in verskillende kontekste. “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!”
Die beskrywing van God se toorn in die Psalm kan jou moontlik pla. Hoekom is Dawid so bang daarvoor? “9Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie. U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red.” (Ps 27:9). In jou nadenke daaroor kan jy kyk na Romeine 1-2 waar uitvoerig oor God se toorn geskrywe word, en waar Paulus stellig verkondig dat God: “elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard … gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn. Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen … Ewige heerlikheid, eer en vrede, skenk Hy aan elkeen wat goed doen.” (Rom 2:6-11). Romeine 1-2 help ‘n mens om te verstaan wat Dawid in die Psalm vra rondom God se pad en wil, en dat hy vra dat die Here hom sal help om op ’n gelyk pad te loop – nie noodwendig ’n pad wat sonder uitdagings is nie – maar dat Dawid self ’n gelyk pad sal loop. Soos Hebreërs 12:12-13 ook sê: “Versterk daarom die slap hande en die lam knieë, en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” Daarom die gebed: “11Here, leer my u pad, lei my op ‘n gelyk pad (sonder hindernisse).” Die eerste pad in vers 11 verwys hier na God se morele beginsels. Die tweede pad in vers 11 verwys na die koers wat ’n mens in die lewe inslaan, die dinge wat jy beleef en bewerk in die lewe. So, bid soos Dawid dat God jou sal leer wat God wil, en bid soos hy dat die Here jou koers sal bepaal sodat jy die hindernisse daarop kan vermy.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-27-31-vertrou-god-wees-sterk-en-vol-moed/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ben Pieterse
More Chris, Ek het een vraag vanoggend. Hoe sal jy “die land van die lewendes” verduidelik. Ek is nie seker of ek dit reg verstaan nie. Die dood is mos vir my oorwin en ek erf die ewige lewe. Beteken dit ek is in die land van die lewendes? Of dui dit op die wat nou fisies lewe op die aarde.
Ben Pieterse
Chris van Wyk
Hi Ben, die term “land van die lewendes” verwys na hierdie lewe, dws die land waar dié wat lewe woon, teenoor die “land van die dooies”, maar die ewige lewe sal natuurlik ook ‘n land van die lewendes wees, dws die mense wat vir ewig by God sal wees. Vergelyk hierdie 13 verwysings in die OT:
“land van die lewendes” in Afrikaanse Ou Vertaling
Psalm 27:13
o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … .
Psalm 52:7
So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela.
Psalm 142:6
Ek roep U aan, o Here! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.
Isaiah 38:11
Ek het gesê: Ek sal die Here nie sien nie, die Here, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie.
Isaiah 53:8
Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.
Jeremiah 11:19
Maar ek was soos ’n mak lam wat hulle lei om te slag; en ek het nie geweet dat hulle planne teen my beraam het nie: Laat ons die boom met sy vrugte verwoes, en laat ons hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat aan sy naam nie meer gedink word nie!
Ezekiel 26:20
dan sal Ek jou laat neerdaal saam met die wat in die kuil neerdaal, na die mense van die voortyd; en Ek sal jou laat woon in die onderste plekke van die aarde, in ewige woestenye, saam met die wat in die kuil neergedaal het, sodat jy nie bewoon word nie; en Ek sal heerlikheid gee in die land van die lewendes.
Ezekiel 32:23
wie se grafte gemaak is in die uithoeke van die kuil, en sy menigte is rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat skrik versprei het in die land van die lewendes.
Ezekiel 32:24
Daar is Elam en sy hele menigte rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat onbesnede neergedaal het in die onderste plekke van die aarde, wat skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes en nou hulle skande dra by die wat in die kuil neergedaal het.
Ezekiel 32:25
Onder die wat verslaan is, het hulle vir hom ’n bed gemaak saam met sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat skrik voor hulle versprei is in die land van die lewendes; en nou dra hulle hul skande by die wat in die kuil neergedaal het. Onder die wat verslaan is, is hy neergelê.
Ezekiel 32:26
Daar is Meseg-Tubal en sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat hulle skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes.
Ezekiel 32:27
Maar hulle lê nie by die helde wat geval het uit die onbesnedenes, wat na die doderyk neergedaal het saam met hulle oorlogswapens en wie se swaarde onder hulle hoofde gesit is nie; wie se ongeregtighede nogtans op hulle gebeente is, omdat die skrik vir die helde in die land van die lewendes was.
Ezekiel 32:32
Want Ek het skrik vir hom versprei in die land van die lewendes; daarom sal hy neergelê word onder die onbesnedenes, by die wat verslaan is deur die swaard—Farao en sy hele menigte, spreek die Here Here.