Filippense 3:17–4:1 – Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam
Filippense 3:17–4:1 – Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam
17Broers, volg dan my voorbeeld, en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het, 18want baie, van wie ek dit dikwels vir julle gesê het, en nou weer in trane sê, leef as vyande van die kruis van Christus. 19Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god, hulle eer is geleë in hulle skande – hulle wat aardse dinge bedink. 20Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag. 21Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Homself te onderwerp. 41Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here.
Die gemeente in Filippi het groot ontwrigting ervaar van teenstanders, onder andere van die gemeenskap (Fil 1:28-30), maar ook toenemend vanweë mense binne die geloofsgemeenskap. Aan die een kant was daar tradisionaliste wat klem gelê het op die Joodse tradisie, veral die besnydenis, maar deur Paulus as dwaalleraars uitgewys word (Fil 3:1-16). Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie. Aan die ander kant was daar ook vrysinniges, of libertyne (Fil 3:17-19). Hulle was weer gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ’n seksuele konnotasie – vers 19). Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, waarin hulle self die sentrum van hulle lewens kon bepaal, eerder as dat hulle kennis van Christus en sy Woord dit sou bepaal. In albei gevalle wou hierdie mense nie die boodskap van die kruis – ’n lydende selfontledigende Messias – as paradigma vir hulle lewe aanvaar nie (vers 18), wat vir Paulus beteken dat hulle “as vyande van die kruis van Christus lewe”. En dié mense het die gelowiges in die gemeente van Filippi onseker gemaak.
Paulus se raad aan die gemeente is om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die teenstanders óf die dwaalleraars óf die tradisionaliste óf die vrysinniges nie, maar vas te bly staan in die geloof, volkome eensgesind verder saam te stry vir die evangelie, en koers te hou op die pad wat hulle tot dusver ingeslaan het (vers 16) in navolging van Paulus (vers 17) en in getrouheid aan die Here (Fil 4:1). Hulle sekerheid moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike dinge gesoek word nie, maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat sekerheid bring. Die verwarring wat die Joodse tradisionaliste veroorsaak het, en die versoeking waarvoor die vrysinniges hulle geplaas het, moes hulle dus stimuleer tot groter gehoorsaamheid en getrouheid, presies die dinge wat Christus in hulle lewens wou bewerk.
Hy bemoedig hulle met die belofte dat hulle al hoe meer gelykvormig sal word aan Christus beide in die selfontlediging van sy dood (vers 10) en die verheerliking met sy opstanding (vers 21). Dit is die enigste wens wat Paulus vir homself het, en dit is waar om sy roeping en lewe wentel. Dit is immers presies in hierdie gelykvormigheid wat die hoop van die opstanding ook lê. Hy verduidelik sy verstaan daarvan met twee Griekse woorde: metaschematizo (transformeer of verander) en summorphos (gelykvormig te maak aan) wat die verandering van ’n nederige liggaam na ‘n verheerlikte liggaam, dws soos Christus s’n, beskryf. Dit beteken dat die perspektief wat Paulus in Filippense 2:9-11 op Christus se verheerliking geskets het, ook iets is waarin gelowiges sal deel. Dit is dus ook hierdie verwagting wat ons motiveer om selfontledigend te lewe (Fil 2:6-8), en nie van stryk gebring te word deur die uitdagings van valse leringe (tradisionaliste) of immorele lewens (vrysinniges) nie, want anders sal ons tereg ook as vyande van die kruis bestempel kan word.
Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-31-41-om-christus-jesus-te-ken-oortref-alles-in-waarde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar