Galasiërs 6:1-18 – Dié wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes
Galasiërs 6:1-18 – Dié wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes
1Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. 2Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus. 3As iemand werklik meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy homself. 4Elkeen moet sy eie dade beoordeel. Dan sal hy trots kan wees slegs wat homself betref, en nie wat ‘n ander persoon betref nie; 5want elkeen moet sy eie las dra. 6Wie onderrig in die Woord ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit. 7Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai. 8Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. 10Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof. 11Kyk met watter groot letters skryf ek nou vir julle in my eie handskrif! 12Mense wat deur die uiterlike ‘n indruk wil maak – dit is hulle wat julle probeer dwing om besny te word, net sodat hulle nie ter wille van die kruis van Christus vervolg sal word nie. 13Want diegene wat hulle laat besny, onderhou self nie die wet nie, maar hulle wil hê dat julle besny word, sodat hulle hulle op julle liggame kan beroem. 14Maar wat my betref, mag dit my tog nie oorkom dat ek my op iets beroem nie, behalwe op die kruis van ons Here Jesus Christus, waardeur die wêreld vir my gekruisig is, en ek vir die wêreld. 15Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel ‘n nuwe skepping. 16Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en ontferming – en vir die Israel van God! 17Ten slotte: Laat niemand my verder moeite aandoen nie, want ek dra die littekens van Jesus aan my liggaam. 18Die genade van ons Here Jesus Christus bly met julle gees, broers! Amen.
Paulus praat hier nie van die laste van die lewe, dié dinge wat verkeerd gaan, die uitdagings van siekte, of finansiële nood, of watter ander krisis mense ook al tref nie. Hy praat hier van dié gevalle waar van ons geloofsgenote deur een of ander sonde oorval word, hetsy persoonlik in onsedelikheid, onreinheid of losbandigheid of in die gemeenskap deur vyandskap, tweespalt of selfsug (vgl voorbeelde in die vorige hoofstuk). En sy opdrag aan ons is om met groot versigtigheid in liefde en sagmoedigheid – as deel van die vrug van die Gees – betrokke te raak en só iemand reg te help, terwyl jy versigtig is dat jy nie self in sonde val, deur bv by die vyandskap betrokke te raak of self in losbandigheid te verval nie. Dit is dié tipe liefde vir mekaar waarvan hy praat as hy sê dat as ons só mekaar se laste help dra. Dan is ons besig om die wet van Christus, die wet van die liefde uit te voer. “Caring enough to Confront”, soos iemand een keer vir my gesê het.
Onthou dat ons almal blootgestel is aan die stryd tussen die Gees en die vlees; dat die sonde ook vir jou loer om jou in sy mag te kry, soos die Here vir Kain al gewaarsku het in Genesis 4. Jy moet self sorg dat jy in die Gees wandel, en in gelid met die geloofsgemeenskap volgens die waardes van die Gees, terwyl jy uitreik na dié wat dit moeilik vind in die stryd teen die sonde. Daarom, sê Paulus, is dit so belangrik om op die akker van die Gees te saai, en nie op die akker van die vlees nie, hetsy op die akker van die sondes waaroor hy in Galasiërs 5 geskryf het nie, óf op die akker van die gehoorsaamheid aan die wet waaroor hy in die eerste deel van die brief geskryf het.
Dit is só belangrik dat ons onsself nie mislei nie. God laat nie met Hom spot nie. Wat jy saai, sal jy ook maai. Dit is aan die een kant ‘n waarskuwing: as jy saai op die akker van die sondige vlees, sal jy die dood en die verderf oes. Dit is aan die ander kant ook ‘n belofte: as jy saai op die akker van die Heilige Gees sal jy die ewige lewe oes. Daarom, sê Paulus, moenie moeg word om goed te doen nie. Moenie verslap nie. Moenie terugdeins nie. Dra mekaar se laste. Help mekaar reg in ‘n gees van sagmoedigheid. Doen goed aan almal, veral aan die medegelowiges. Dit is die vryheid waartoe ons geroep word, om mekaar te dien en mekaar reg te help, uit liefde. Dit is waarvoor Jesus Christus aan die kruis gesterf het. Hy het gesterf sodat ons God se guns kan verwerf. Hy het ons sondeskuld gedra sodat ons vry kan raak van die strik van die wet en die sonde. Hy het die prys vir ons betaal sodat ons die ewige lewe kan beërwe.
Lees meer (preek): https://bybelskool.com/galasiers-6-ons-dra-mekaar-se-laste-soli-deo-gloria/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar