Johannes 15:9-17 – Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel
Johannes 15:9-17 – Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel
9“Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. 10As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. 11Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. 13Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”
Die geheim van vrug dra, lê in hulle innige verbondenheid met Jesus. Soos die Vader Jesus liefgehad het, het Jesus hulle ook liefgehad. Daarom moet hulle in sy liefde bly. Want dit is slegs in gemeenskap met Hom wat hulle daardie liefde kan ervaar. Die wyse waarop hulle in die liefde bly, word dan prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (entolas – sy gesagvolle bevele). Dit is presies die wyse waarop Jesus in sy Vader se liefde gebly het. Hy het die opdragte van sy Vader gehoorsaam. Want die pad na ware vreugde lê in gehoorsaamheid, selfs al vra die gehoorsaamheid alles van jou. Dit is juis in die gehoorsaamheid wat ons blydskap volledig raak.
Jesus lig dan een van die opdragte uit, die opdrag dat hulle mekaar moet liefhê soos Jesus hulle liefgehad het. Dit is ‘n dieper liefde as die liefde soos hulleself (Lev 19:18). Daar is geen groter liefde as dat iemand sy lewe vir sy vriende gee nie. Dit is dié tipe offervaardige liefde vir gelowiges wat Jesus van hulle, selfs al kos dit hulle hul dood, soos dit inderdaad van Hom ook gevra is (vgl 1 Joh 3:16). Soos Hy sy lewe vir hulle afgelê het, vra Hy dit ook van hulle. En waar hulle dit regkry, raak hulle sy vriende. Gehoorsaamheid maak hulle meer as diensknegte. Hulle raak vriende van God, soos Abraham dit lank gelede al ervaar het (Jak 2:23). Die verhaal van Abraham in Genesis 17-19 is ‘n baie praktiese voorbeeld van wat Jesus hier bedoel. In Genesis 17 beveel God vir Abraham om naby Hom te leef. Toe Abraham in geloof daarop reageer, reken God dit hom toe as geregtigheid. In Genesis 18 besoek God vir Abraham soos wat vriende dit sou doen en trek hom in sy planne vir die wêreld in soos ons uiteindelik in Genesis 19 lees. Dit is wat God met ons doen as ons in sy liefde bly, as ons aan Hom gehoorsaam is. Hy maak sy wil aan ons bekend. Dit is die hele punt van Jesus se verkiesing van hierdie manne as sy dissipels. Hy het hulle uitgekies en aangestel om vrug te gaan dra – soos ‘n Abraham van ouds – sodat wat hulle ook al die Vader in sy Naam vra, Hy dit vir hulle sal gee. Onthou hoe Abraham gebid het vir die regverdiges in Sodom en Gomorra! Jesus beklemtoon dat weer dat hulle mekaar moet liefhê, want dit is die uitstaande kenmerk nie net van vriendskap nie, maar van God self.
Dit is ‘n merkwaardige boodskap hierdie. Die geheim van ‘n vrugbare lewe lê in die innige verhouding met Jesus opgesluit. Want, waar ‘n mens sy liefde ervaar, daar word jou eie liefde vir jou medegelowiges versterk, en word gehoorsaamheid aan elke enkele opdrag van die Here die enigste ware vreugde van jou lewe. En trek God jou in by sy planne in hierdie wêreld. Raak gebed ‘n ware avontuur van vrugbare bediening. Dit is vir my ’n verstommende troos as ek aan my eie broosheid en gebrokenheid dink. In die gemeenskap met Jesus sal Hy my ook volmaak maak, volmaak in die uitvoer van sy opdragte, volmaak in die liefde. Raak jy vriende met God. Hy sal dit ook vir jou doen.
Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-151-26-om-jesus-te-aanvaar-en-sy-pad-vir-jou-te-omhels-is-die-lewe/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar