Skip to main content

Psalm 119:169-176 – Hou my lewend sodat ek U kan loof

24 November

Daarmee kom ons aan die einde van hierdie projek. Dankie vir een en almal wat dit saam met my gevolg het. Dit was ‘n groot voorreg;

  • Ek sal graag wil hoor wat hierdie jaar se reis vir jou beteken het.
  • Ek sal ook graag wil hoor watter behoeftes Bybelskool verder kan aanspreek.
  • E-pos of Whatsapp my. Dit sal my help in my beplanning vorentoe.

Psalm 119:169-176 – Hou my lewend sodat ek U kan loof

ת TAW 169Laat my klaagroep voor U kom, Here; gee my insig ooreenkomstig u woord. 170Laat my smeekgebed U bereik, red my volgens u belofte. 171My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte. 172My tong besing u woord, want al u gebooie is regverdig. 173Laat u hand my te hulp kom, want ek verkies u opdragte. 174Ek verlang na u verlossing, Here; u wet is my vreugde. 175Hou my lewend sodat ek U kan loof en laat u beslissings my help. 176Ek dwaal rond soos ‘n verlore skaap; soek tog u dienskneg. U gebooie vergeet ek immers nie.

Psalm 119 word in die 22ste deel afgesluit met die belydenis dat die sin van die lewe lê in die lof aan God: “Hou my lewend sodat ek U kan loof.” En daaraan voeg hy toe: “Laat u beslissings my help.” (vers 175). Dit beteken dat die Psalmis sy beroep doen op God se voorsienigheid (beslissings) om in hierdie lewe in lof teenoor God te kan leef. Daarom stort hy sy hulpkrete en smeekgebede uit voor die Here, sowel as sy lofprysing en sang. Hy soek insig ooreenkomstig God se woord. Hy verwag redding volgens God se beloftes. Hy verwag dat God hom sal leer, want hy verkies om God se opdragte na te kom bo alles. Daarom sien hy uit na God se verlossing, want hy vind in God se wet sy vreugde. Trouens: “My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte.” (vers 171). Wat hy vra, gee die Here alreeds.

Maar, alles is nog nie soos dit moet wees nie, selfs nie in sy eie lewe nie. Daarom sluit hy die 22ste deel en daarmee ook Psalm 119 as ‘n geheel af met die versugting: “As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.” (vers 176). Hierop sal die Here Jesus natuurlik jare later antwoord met sy drie gelykenisse oor dié wat ronddwaal: die verlore skaap, verlore muntstuk en verlore seun (Luk 15). Dit is die Goeie Herder wat dié funksie vir elkeen wat in Hom glo, nakom, en hulle die oorvloed van sy teenwoordigheid gee.

Dit beteken dus dat die Psalmis besef dat die Here se hart vir hom, die Here se sorg en bystand, die Here se voorsiening uiteindelik baie belangriker is as sy eie hart vir die Here, sy eie vasgryp aan die Here se woord, en sy eie gehoorsaamheid daaraan, selfs waar dit in die fynste besonderhede is.

God gee vir ons wat Hy van ons vra. Dit is die evangelie. Dit is oorvloedig en genoegsaam. Hy gee dit in die Woord en in die werklikheid. Soli Deo Gloria.

Ek het soveel seën geput uit Leslie Allen se (Word-reeks) kommentaar op Psalm 119 dat ek graag ‘n aanhaling maak uit sy opsomming van dié Psalm:

The prayer for insight into the Torah in v 169 and the appeal for Yahweh’s “rulings” or promises of intervention in v 175 have illustrated the two poles of the psalm. At one end stands the revealed Torah, and it is for insight into this that the psalmist prays so that he may fulfill Yahweh’s moral will in his life. At the other end stands the hope of divine providential intervention, and for this too he prays out of his distress. The dual manifestation of God is itself bridged by the Torah’s examples and promises of aid to the faithful. In the interim the psalmist is kneeling, communing with God through the fellowship of prayer. He looks this way with the eyes of faith and that way with the eyes of hope. From this double spiritual stance the same living God becomes present through the written revelation and can be expected to become present through the providential overruling of adversity in the believer’s life and also through imparting wisdom in understanding and applying the Torah.

Dít verwoord my eie vasgryp aan die skriftelike openbaring van die Here terwyl ek voluit leef met die verwagting dat ek sy voorsiening op baie konkrete maniere in die werklikheid van my lewe sal ervaar. Vanuit die geskrewe Woord leef ek na die alledaagse werklikheid toe in die verwagting dat eenmaal die toekomstige werklikheid vir my en alle gelowiges sal oopgaan. Sela.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119169-176-taw-hou-my-lewend-sodat-ek-u-kan-loof/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…