Psalm 119:161-168 – Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet
Psalm 119:161-168 – Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet
שׂ SIN שׁ SJIN 161Leiers vervolg my sonder rede, maar net vir u woord het my hart ‘n heilige vrees. 162Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat ‘n groot buit gevind het. 163Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. 164Sewe keer per dag loof ek U oor u regverdige beslissings. 165Groot vrede is daar vir hulle wat u wet liefhet; vir hulle is daar geen struikelblokke nie. 166Ek vestig my hoop op u verlossing, Here, en ek voer u bevele uit. 167Ek kom u bepalings na; ja, ek het dit baie lief. 168Ek kom u opdragte en u bepalings na, want al my paaie lê oop voor U.
Die 21ste deel van Psalm 119 werk steeds met die gehegtheid aan die woord in die konteks van vervolging. Hierdie keer maak hy spesifiek die keuse om nie mense in magsposisies te vrees nie, maar net in ontsag vir die Here se woord te leef. Die Psalmis weet immers dat hy in ‘n sekere sin nie op God se ondersteuning en onderskraging kan staatmaak as hy nie van sy kant af met sy hele hart vasgryp aan God se woord en daarvolgens sy lewe inrig nie.
Wat hom hierin begelei, is die vreugde wat hy vind in die woord, presies soos Psalm 1 dit al uitgespel het: “Gelukkig is die mens … wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend opsê.” (Ps 1:1-2). Trouens, sewe keer ‘n dag loof hy die Here oor sy regverdige beslissings, soos vers 163 meer letterlik vertaal word. Eugene Peterson vertaal dit so pragtig: “Seven times each day I stop and shout praises for the way you keep everything running right.” (The Message). Dit is asof die Psalmis in ‘n konteks van aanvegting wil sê dat ‘n mens nog meer as gewoonlik die Here moet loof vir sy woord, meer in elk geval as die drie keer ‘n dag van ‘n Daniël (Dan 6:11) en ‘n Dawid (Ps 55:18: “In die aand en in die oggend, selfs in die middag ,het ek gekla en gesteun; toe het Hy my stem gehoor.”)!
Die Psalmis is soos iemand wat ‘n groot buit gevind het en hom net nie kan inhou van opgewondenheid oor sy geluk nie. Soos Jesus ook in die NT in sy gelykenis oor die koninkryk op ‘n soortgelyke wyse vertel: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” (Matt 13:44). Die omgekeerde is natuurlik dat in sy vreugde oor die woord, verberg hy ook nie sy afsku vir valsheid, dws vir mense wat die woorde van die Here verdraai en verontagsaam nie. Hy het die wet van die Here lief en loop daarmee te koop (vers 163).
Hoekom? Want hy weet dat daar vrede (1983-vertaling het sekerheid) is vir diégene wat die wet liefhet, en dat daar vir hulle geen struikelblokke is in hulle toewyding aan die Here. Struikelblokke in die lewe, ja, teenstand, selfs verguising, maar geen hindernis in hulle verhouding met die Here nie (vers 165).
Daarom vestig hy sy hoop op die Here wat verlos en voer hy God se bevele uit, onderhou hy die bepalings, en leef hy in totale openheid teenoor die Here. Hoekom? “Want al my paaie lê oop en bloot voor U”, dws sy hele lewe (vers 168). Hy weet dat hy in ‘n sekere sin net die Here se “wag hou” oor sy lewe kan ervaar as hy bewustelik oop voor die Here leef. Weereens soos Psalm 1 sê: “Ja, die Here sorg vir (ken) die pad van die regverdiges, maar die pad van die goddelose mense loop dood.” (Ps 1:6).
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar