Skip to main content

Joël – God se dag bring verwoesting en voorspoed

prayer-shawlInleiding

Die datum van die profeet Joël se optrede word nêrens aangedui nie. Daar is ook niks meer oor hom bekend as wat ons in die boek self lees nie. Al wat ons daar van hom lees, is dat hy die seun van Petuel was (1:1). Meer weet ons nie van hom af nie.

Dit wil voorkom asof Joël ná die tyd van die noordryk optree aangesien hy net oor Juda en Jerusalem praat. Die noordelike tienstamme ryk is in ballingskap deur die Assiriërs in 722 v.C. weggevoer. Joël se klem op Sion en Jerusalem beteken verder dat hy waarskynlik ‘n profeet van die suidelike tweestamme ryk was. Só ‘n argument uit stilswye is egter nooit iets waarop ‘n mens alleen kan staatmaak nie.

Daarom verwys sommige geleerdes na Joël se gebruik van die “vyand uit die noorde” (2:20) wat ooreenkom met verskeie van die profesieë van Jeremia (Jesaja praat egter ook daarvan) waarmee Jeremia veral na die bedreiging van die Galdeërs onder Nebukadnesar verwys. Joël se skildering van dié bedreiging as ‘n vlaag opeenvolgende sprinkaanplae (1:4 – hy noem vier swerms), gekoppel aan die onafwendbare nabyheid van die finale veldslag, die “dag van die Here” (1:15), sowel as die feit dat die tempeldiens nog in volle swang is (1:13 – al roep hy die priesters op om te treur oor die bedreiging!), laat ‘n mens dink aan ‘n optrede net voor die val van Jerusalem, 588-586 v.C.

Indien dié argument water hou, was Joël dan waarskynlik ‘n 6de eeu v.C. tydgenoot van Jeremia, Obadja en Habakuk. Hy tree waarskynilk op net ná Sefanja en Nahum, en weer net voor Esegiël wat eers in ballingskap deur die Here geroep word.

Wat ‘n mens se standpunt egter ook al hieroor is, wil dit wel voorkom asof die boek tweede in die reeks van twaalf Kleiner Profete geplaas word, nie net omdat dit inhoudelik saamhang met verskillende uitsprake in die volgende boek, Amos, bv. die sprinkaanplae, nie, maar omdat dit die boek is wat die “dag van die Here” die helderste en mees volledige op die tafel sit (1:15; 2:1; 3:14).

Waar Amos vroeër in die 8ste eeu v.C. die dag van die HERE eintlik nét as ‘n dag van oordeel geskets het (Amos 5:18-20), beskryf Joël die dag van die Here as ‘n dag wat veral oordeel oor die nasies sal beteken (Joël 3:12), maar op redding vir Israel sal uitloop (3:16).

Die boek van Joël verwoord dus op noodsaaklike en meer omvattende wyse een van die sentrale temas van die Kleiner Profete – die koms van die “dag van die Here” – al het hy waarskynlik lank ná Amos en Hosea eers op die toneel verskyn. Ook die besondere plek wat die verwante tema van die beskerming van Jerusalem in die boek Joël inneem, sal verder op uitgebrei word in die ander profete wat volg.

Dié boek het daarby ook duidelike eskatologiese trekke waaraan die NT uitstorting van die Heilige Gees verbind word, en waarvan sommige van die kosmiese oordeelsbeskrywings daarin ook met die Openbaring van Johannes verbind kan word.

Indeling

Die verskillende profesieë kan as volg ingedeel en gelees word:

  • 1:1-20 – Die Here roep die volk op tot bekering deur verwoesting
  • 2:1-32 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer
  • 3:1-20 – God bring oordeel oor die nasies maar redding vir sy volk in Sion

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Joël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar