Skip to main content

Geloofsonderskeiding

Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktiese lewe te herken. ’n Ander woord hiervoor is wysheid (Fil 1:9-10; Jak 1:5). Dit sluit in om te luister na die getuienis van God se werk in ander mense se lewe, om aan almal die geleentheid te gee om hulle perspektief daarop te deel, en om na die Bybel te luister en alles daaraan te toets totdat daar ’n algemene instemming is oor wat God se wil is. Dit sluit ook in om by God tot ruste kom, om na ander stemme as net jou eie te luister, om as individue en gesamentlik te bid, en om bereid te wees om te gaan leef wat jy hoor.

Ons sien geloofsonderskeiding in aksie in die verhaal in Handelinge 15 waar die kerk moes onderskei wat die beste pad sou wees om te volg ten opsigte van die vraagstuk oor die insluiting van gelowiges uit die heidendom by die Christelike geloofsgemeenskap. Uit hierdie eerste geloofsonderskeidende vergadering kry ons die volgende riglyne:

1. Geloofsonderskeiding sluit almal se bydraes in

Die hele gemeente was saam met die apostels en die ouderlinge by die gesprek betrokke (15:4-5). Die “gewone” gelowiges en die leierskap het sáám gepraat. Die aandrang op die besnydenis het immers spesifiek gekom van gelowiges wat vroeër Fariseërs was. Dit is duidelik dat baie menings en perspektiewe verreken is. Die proses is nie afgejaag of deur ʼn magskliek vinnig in ’n rigting gedwing nie.

2. Geloofsonderskeiding werk met getuienisse van God se werk in die lewe

Die gesprek in die gemeente in Jerusalem het gegaan oor alles wat Godgedoen het. Die tema was die lewe van geloof, en die manier waarop gelowiges God se handelinge beleef het. Die gelowiges het verhale vertel om te ontdek wat God besig was om te doen. Toe die apostels en ouderlinge bymekaarkom, het Petrusgepraat oor wat God gedoen het en steeds doen – hy is geroep om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig. Hierna het Barnabas en Paulus vertel wat God onder die nie-Jode gedoen het.

Hierdie benadering gee ruimte aan God. Die vraag is wat God doen, en hoe die gemeente God in hulle bediening moet navolg. Dit is nie ’n strategiese gesprek wat voor- en nadele opweeg of wat takties korrek wil wees nie. Hier is ’n diep soektog na God se handelinge ter sprake. Die benadering wat die gemeente in Jerusalem gevolg het, was om verhale te vertel wat duidelik belig het wat God besig was om te doen. Dit is in die verhale van God se werk dat sy wil duidelik word.

3. Onderskeiding toets alles aan die Bybel totdat daar duidelikheid kom

Nadat die gelowiges die verhaal van God se handelinge in die hede en die verlede klaar vertel het, is dié verhale aan die Skrif getoets. Jakobus het ʼn belangrike rol gespeel om die Skrif, die gebeure en die gelowiges se interpretasie daarvan bymekaar uit te bring. Die gemeente het oor die leer van die Skrif gepraat; dit wil sê, hulle het die Woord gelees én dit aangevul deur dit te interpreteer. Ons kan nie maar net gedeeltes aanhaal nie. Ons moet met mekaar deel wat ons aanvoel God van ons vra. Uiteindelik het almal by die vergadering (15:22) aangedui dat die verbintenis tussen die verhale wat vertel is en die interpretasie van die Skrif vir hulle sin maak en ’n besluit daaroor geneem.

Dit is so belangrik dat ons die Bybel nie sal gebruik om mekaar af te kraak nie. Die Bybel is nie ’n geweer waaruit ons verse soos koeëls op mekaar afskiet om die een of ander standpunt te ondersteun nie. Nee, gelowiges soek saam en soek lank genoeg saam na die waarheid uit die Woord – totdat hulle die punt van voldoende ooreenstemming en gemeenskaplike oortuiging bereik. En gelowiges bereik hierdie punt wanneer die sake waaroor hulle moet besluit voldoende deur die Woord belig word en hulle helder insig ontvang.

4. Eers as daar algemene instemming bereik is, word dit die besluit van die geloofsgemeenskap

Geloofsonderskeiding is om sáám te soek na ’n gemeenskaplike konsensus, wat gebore word uit die oortuiging dat ons God reg gehoor en sy Woord reg geïnterpreteer het, soos dit in ons lewe gestalte kry in die verhale van God se werk onder ons. Eers dan neem die geloofsgemeenskap ’n besluit (15:22).

Hier is vier beginsels wat jou verder kan help om die Here se wil deur geloofsonderskeidende gesprekke te onderskei, veral as jy dit in ‘n groep doen:

  1. Gee vir almal kans om ʼn bydrae te lewer.
  2. Fokus op getuienisse van God se werk en teenwoordigheid in hierdie lewe.
  3. Toets alles aan die Bybel totdat die geloofsgemeenskap duidelikheid kry.
  4. Neem ’n vaste besluit eers wanneer julle algemene instemming en ’n gemeenskaplike oortuiging bereik het.

Gebruik nou hierdie inligting om een of meer sake te hanteer waaroor jy dieper wil nadink. Doen navorsing daaroor in die Bybel – alleen of in ‘n groep, maar dit werk beter in ‘n groep – en gebruik die stappe hierbo om die Here se wil daaroor te onderskei.

Jy kan natuurlik ook een van die twee luistersiklusse gebruik om die lig wat die tekste op die saak wat jy ondersoek, werp, te ondersoek, sodat jy net vir jouself duidelik daaroor kan kry.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…