Geloofsonderskeiding
Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktiese lewe te herken. ’n Ander woord hiervoor is wysheid (Fil 1:9-10; Jak 1:5). Dit sluit in om te luister na die getuienis van God se werk in ander mense se lewe, om aan almal die geleentheid te gee om hulle perspektief daarop te deel, en om na die Bybel te luister en alles daaraan te toets totdat daar ’n algemene instemming is oor wat God se wil is. Dit sluit ook in om by God tot ruste kom, om na ander stemme as net jou eie te luister, om as individue en gesamentlik te bid, en om bereid te wees om te gaan leef wat jy hoor.
Ons sien geloofsonderskeiding in aksie in die verhaal in Handelinge 15 waar die kerk moes onderskei wat die beste pad sou wees om te volg ten opsigte van die vraagstuk oor die insluiting van gelowiges uit die heidendom by die Christelike geloofsgemeenskap. Uit hierdie eerste geloofsonderskeidende vergadering kry ons die volgende riglyne:
1. Geloofsonderskeiding sluit almal se bydraes in
Die hele gemeente was saam met die apostels en die ouderlinge by die gesprek betrokke (15:4-5). Die “gewone” gelowiges en die leierskap het sáám gepraat. Die aandrang op die besnydenis het immers spesifiek gekom van gelowiges wat vroeër Fariseërs was. Dit is duidelik dat baie menings en perspektiewe verreken is. Die proses is nie afgejaag of deur ʼn magskliek vinnig in ’n rigting gedwing nie.
2. Geloofsonderskeiding werk met getuienisse van God se werk in die lewe
Die gesprek in die gemeente in Jerusalem het gegaan oor alles wat Godgedoen het. Die tema was die lewe van geloof, en die manier waarop gelowiges God se handelinge beleef het. Die gelowiges het verhale vertel om te ontdek wat God besig was om te doen. Toe die apostels en ouderlinge bymekaarkom, het Petrusgepraat oor wat God gedoen het en steeds doen – hy is geroep om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig. Hierna het Barnabas en Paulus vertel wat God onder die nie-Jode gedoen het.
Hierdie benadering gee ruimte aan God. Die vraag is wat God doen, en hoe die gemeente God in hulle bediening moet navolg. Dit is nie ’n strategiese gesprek wat voor- en nadele opweeg of wat takties korrek wil wees nie. Hier is ’n diep soektog na God se handelinge ter sprake. Die benadering wat die gemeente in Jerusalem gevolg het, was om verhale te vertel wat duidelik belig het wat God besig was om te doen. Dit is in die verhale van God se werk dat sy wil duidelik word.
3. Onderskeiding toets alles aan die Bybel totdat daar duidelikheid kom
Nadat die gelowiges die verhaal van God se handelinge in die hede en die verlede klaar vertel het, is dié verhale aan die Skrif getoets. Jakobus het ʼn belangrike rol gespeel om die Skrif, die gebeure en die gelowiges se interpretasie daarvan bymekaar uit te bring. Die gemeente het oor die leer van die Skrif gepraat; dit wil sê, hulle het die Woord gelees én dit aangevul deur dit te interpreteer. Ons kan nie maar net gedeeltes aanhaal nie. Ons moet met mekaar deel wat ons aanvoel God van ons vra. Uiteindelik het almal by die vergadering (15:22) aangedui dat die verbintenis tussen die verhale wat vertel is en die interpretasie van die Skrif vir hulle sin maak en ’n besluit daaroor geneem.
Dit is so belangrik dat ons die Bybel nie sal gebruik om mekaar af te kraak nie. Die Bybel is nie ’n geweer waaruit ons verse soos koeëls op mekaar afskiet om die een of ander standpunt te ondersteun nie. Nee, gelowiges soek saam en soek lank genoeg saam na die waarheid uit die Woord – totdat hulle die punt van voldoende ooreenstemming en gemeenskaplike oortuiging bereik. En gelowiges bereik hierdie punt wanneer die sake waaroor hulle moet besluit voldoende deur die Woord belig word en hulle helder insig ontvang.
4. Eers as daar algemene instemming bereik is, word dit die besluit van die geloofsgemeenskap
Geloofsonderskeiding is om sáám te soek na ’n gemeenskaplike konsensus, wat gebore word uit die oortuiging dat ons God reg gehoor en sy Woord reg geïnterpreteer het, soos dit in ons lewe gestalte kry in die verhale van God se werk onder ons. Eers dan neem die geloofsgemeenskap ’n besluit (15:22).
Hier is vier beginsels wat jou verder kan help om die Here se wil deur geloofsonderskeidende gesprekke te onderskei, veral as jy dit in ‘n groep doen:
- Gee vir almal kans om ʼn bydrae te lewer.
- Fokus op getuienisse van God se werk en teenwoordigheid in hierdie lewe.
- Toets alles aan die Bybel totdat die geloofsgemeenskap duidelikheid kry.
- Neem ’n vaste besluit eers wanneer julle algemene instemming en ’n gemeenskaplike oortuiging bereik het.
Gebruik nou hierdie inligting om een of meer sake te hanteer waaroor jy dieper wil nadink. Doen navorsing daaroor in die Bybel – alleen of in ‘n groep, maar dit werk beter in ‘n groep – en gebruik die stappe hierbo om die Here se wil daaroor te onderskei.
Jy kan natuurlik ook een van die twee luistersiklusse gebruik om die lig wat die tekste op die saak wat jy ondersoek, werp, te ondersoek, sodat jy net vir jouself duidelik daaroor kan kry.
View all posts in this series
- Inleiding: Geestelike lees van die Bybel - June 14, 2018
- Eenvoudige luistersiklus
- Volle luistersiklus - June 28, 2018
- Geloofsonderskeiding - July 12, 2018
Jan Louw
Ai Chris,
Ek kyk na die vier punte wat jy hier noem oor geloofsonderskeiding.
Gee vir almal kans om ʼn bydrae te lewer.
Fokus op getuienisse van God se werk en teenwoordigheid in hierdie lewe.
Toets alles aan die Bybel totdat die geloofsgemeenskap duidelikheid kry.
Neem ’n vaste besluit eers wanneer julle algemene instemming en ’n gemeenskaplike oortuiging bereik het.
Waarom wil dit nie meer werk in die NG Kerk nie? Die proses veronderstel dat ons van een Gees deurdronge sal wees. Hoekom kry ek die idee ons werk nie meer met dieselfde Bybel en dat ons nie meer deur dieselfde Gees gelei word nie.
Ons paaie gaan uitmekaar soos die kerk en die Jode se paaie uitmekaar gegaan het in Hand 15.
Chris van Wyk
Hi Jan. Die paaie het vóór dié vergadering in Jerusalem al uitmekaar begin beur met die Joodse Christene wat die nakoming van die hele wet voorgestaan het, en die Christene uit die heidene wat vrae gevra het daaroor. Die hoop bestaan dus altyd dat ‘n kerk – en ek sluit alle kerke in – die onderlinge teologiese spanninge aan die hand van dié vier fases van geloofsonderskeiding sal oplos. Dit het vir die kerk in Jerusalem toentertyd gewerk. My hoop is steeds dat dit by die NG Kerk – en alle ander kerke wat worstel met praktiese gehoorsaamheid aan die Skrif – kan werk.
Die uitkoms van dié vergadering in Jerusalem was interessant genoeg om raak te sien dat die seremoniële en burgerlike kante van die wet in Christus opgehef is. Maar, dat die morele kant van die wet vir almal geldig sal bly, veral in terme van afgodery (uit die eerste tafel van die wet en Jesus se opsomming van die belangrikste gebod) en onsedelikheid (uit die tweede tafel van die wet en Jesus se talle voorskrifte oor reinheid, bv Markus 7 en Matteus 19).
Geen wonder nie dat Jesus dit weereens beklemtoon in sy brief aan Tiatira in Openbaring 2 dat afgodery en onsedelikheid gemeentes – persoonlik en korporatief – aan die straf van die Here self onderwerp. Hoe tegelyk veronrustend en vertroostend klink Jesus se woorde nie vandag ook nog nie:
“Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die ‘diep geheimenisse van die Satan’, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.” (Openb 2:23-25).
Daarmee onderstreep Jesus dat die morele aspekte van die wet van God tot in ewigheid geldig sal bly. Dit is ook dié aspekte van die wet wat die Gees in ons harte inskryf soos ons by Paulus in Galasiërs 5, Romeine 8, en Efesiërs 4 agterkom. Paulus verbind in Romeine 1 selfs nog nouer afgodery en onsedelikheid, waar die onsedelikheid (en ‘n rits ander sondes) vloei uit ‘n ignorering van wat God van Homself en die lewe openbaar.
Waar jy nie God se uitgespelde moraliteit in die Skrif aanvaar en uitleef nie, is jy per definisie besig met jou eie godsdiens, en kan ‘n mens dit as afgodery teken, soos Paulus inderdaad doen. Daarom kan Paulus in Romeine 12:1-2 alle gelowiges in die gemeente aanmoedig om in die eerste plek hulle fisiese liggame: “as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer” te stel. “Dit is julle redelike godsdiens.” Dit is gemik teen (onder andere) onsedelikheid.
En dan in die tweede plek te beklemtoon dat hulle hulle denke skoei op God se openbaring: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Dit is gemik teen (onder andere) afgodery.
Dus: “Hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.“