Eenvoudige luistersiklus
Kies vir jou ‘n teks of ‘n Bybelboek wat jy gaan gebruik. Dit is beter om ‘n korter gedeelte te gebruik of ten minste net op ‘n vers of selfs frase te fokus uit die gedeelte wat jy lees. Dit sal ook goed wees as jy op een gedeelte fokus vir die hele twee weke. Deur elke dag vir twee weke lank op een gedeelte te fokus, sal jou ‘n diep begrip gee van wat God daarmee in jou lewe wil doen.
Ek gee vir jou Psalm 27 aan die onderkant van hierdie bydrae, asook veertien beloftes uit die Bybel, afhangende van jou keuse. Jy kan natuurlik enige gedeelte gebruik.
Gebruik dan die vyf stappe van hierdie eenvoudige weergawe van die geestelike lees wat op die luistersiklus van die Seisoen van Luister gebaseer is.
1. OPENINGSGEBED
“U nooi my uit en ek kom nou opnuut by U rus. U praat met my en ek is oop om U weer te hoor.”
2. RUS
Raak bewus van jou diepste behoeftes. Dit kan ’n vraag, ’n behoefte, ’n seer, ’n dankbaarheid … wees. Gee dit in gebed aan God.
3. LEES
Lees ’n Skrifgedeelte, hardop indien moontlik. Raak bewus van watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom terwyl jy lees. Hoe ruk en/of troos hierdie gedeelte jou? Soms hou dit verband met jou behoeftes. Soms is dit nuwe gedagtes wat God jou gee.
4. LUISTER
Kies een gedagte om oor na te dink. Wat beteken dit prakties vir jou? Watter moontlikhede maak God vir jou oop?
5. LEEF
Wat lê die Here nou op jou hart? Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar of ontgin? Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af, bv: “U roep en stuur my en ek sal nuut leef.” Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee.
Psalm 27
Die Here my lig en my heil!
’N PSALM van Dawid.
1Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?2As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.
3Al word ’n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ’n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.
4Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel.
5Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ’n rots.
6En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here.
7Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.
8Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here!
9Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!
10Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.
11Here, leer my u weg en lei my op ’n gelyk pad, vanweë my vyande.
12Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.
13o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … .
14Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!
Jy kan my kommentaar by Bybelskool op die Psalm hier bereik.
14 Beloftes van die Here
- Dag 1: “Hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Korintiërs 1:20).
- Dag 2: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Johannes 15:7).
- Dag 3: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde.” (Hand 21:8).
- Dag 4: “My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19).
- Dag 5: “Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.” (1 Konings 8:54-61)
- Dag 6: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:14).
- Dag 7: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spreuke 3:6).
- Dag 8: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33).
- Dag 9: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).
- Dag 10: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.” (Psalm 130:5-6).
- Dag 11: “U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.” (Psalm 5:4).
- Dag 12: “Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge in die hart van die see wankel nie; sy golwe kan maar onstuimig wees en skuim, berge kan maar bewe in die bruisende watermassa. Sela” (Psalm 46:2-4).
- Dag 13: “Ja, ‘n son en skild is die HERE God; genade en eer is wat die HERE skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.” (Psalm 84:12).
- Dag 14: “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” (Klaagliedere van Jeremia 3:25-26).
View all posts in this series
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus