Volle luistersiklus
Hier is ‘n meer volledige weergawe van geestelik lees (Alice Fryling – The art of listening) wat meer uitgebreid met ses bewegings werk. Jy kan die tekste gebruik wat ek die eerste rondte gegee het:
1. Silencio
Kom tot rus by God en aanvaar die uitnodiging om in sy teenwoordigheid te wees. Gebruik musiek, ’n psalm, ’n meditasie-oefening, of raak net stil in jou omgewing. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) sleg was. Vra die Here vir vergifnis, verandering en vertroosting. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) goed was. Sê vir die Here dankie daarvoor. Bid vir insig wanneer jy die Bybel lees.
2. Lectio
Lees ’n Skrifgedeelte hardop, indien moontlik (of prewel dit soos die Jode dit in die tyd van die Ou Testament gedoen het). Fokus op dié verse of gedagtes wat jou tref. Dink na oor temas in die spesifieke gedeelte. Wat sê dit vir jou oor God? Wat sê dit vir jou oor mense? Wat sê dit vir jou oor die wêreld? Soek na een kerngedagte wat jou besonder diep tref. Skryf dit in jou joernaal neer.
3. Meditatio
Kies een gedagte en oordink die praktiese implikasies daarvan vir jou lewe. Dink na oor wat God vir jou deur die kerngedagte wil sê. Waar raak die gedagtes van die Bybel jou lewe prakties? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of wat moet jy daarmee doen? Wat is die boodskap van hierdie gedagte vir jou dag en lewe? Besluit hoe jy daarop gaan reageer.
4. Oratio
Antwoord God in gebed. Dink aan alles wat jy ervaar het die Here nou aan jou geopenbaar het. Bid ook vir ander mense. Skryf jou gebede in jou joernaal neer.
5. Contemplatio
Geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat. Hierdie beweging kan ’n paar minute of langer duur. Staan een keer per week ’n bietjie meer tyd hieraan af.
6. Incarnatio
Wees gehoorsaam aan wat God sê. Neem die boodskap wat God vir jou gee met jou saam deur jou dag. Leef dit uit.
View all posts in this series
- Inleiding: Geestelike lees van die Bybel - June 14, 2018
- Eenvoudige luistersiklus
- Volle luistersiklus - June 28, 2018
- Geloofsonderskeiding - July 12, 2018