Beoefen die teenwoordigheid van God
Omdat hierdie geloofsgewoonte eintlik behels dat jy dit as ‘n lewenspraktyk beoefen, d.w.s. dat dit jou hele manier van lewe begin vorm, is hier net ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel. Jy moet eintlik jou eie spyskaart van geloofsgewoontes opstel – dit sluit die geloofgewoontes by die daaglike ondersoek sowel as die geestelike lees van die Bybel in – om jou te help om al hoe meer te groei in jou bewussyn van God se teenwoordigheid, totdat dit jou só volmaak van Homself, dat jy in Hom begin lewe.
Hier is dus net ‘n paar wenke. Daar is ook ‘n paar ander geloofgewoontes wat jy in dié tyd kan beproef hierna aangedui.
- Ontwikkel ’n lewensritme wat jou deur jou dag heen aan God en sy teenwoordigheid herinner.
- Stuur gereeld skietgebede op, soos Nehemia in die Ou Testament (Neh. 2:4).
- Gebruik die gebed van die hart wanneer jy bid. Hierdie gebed laat jou fokus op God as die middelpunt van jou lewe. Bid dit gereeld.
- Stel jou daarop in om alles wat jy doen bewustelik “vir die Here” te doen.
- Oefen jou daarin om ander mense deur God se oë te sien. Hoe sou Hy reageer op die mens wat nou voor jou staan of jou pad op die een of ander manier kruis?
- Wanneer jy die daaglikse ondersoek beoefen, doen moeite om na God te luister in die besonderhede van elke dag. Dieselfde geld vir die geestelike lees.
- Kies vir jou simbole, skilderye, beeldhouwerke, en so meer, wat jou aan God se teenwoordigheid herinner. Sit of hang dit op opsigtelike plekke en doen moeite om elke dag daarna te kyk. Praat met die Here daaroor.
- Hou rekening met die waarheid dat God werk deur alles wat met jou gebeur. Reageer daarom op alles wat met jou gebeur asof jy op God se betrokkenheid in jou lewe reageer (ʼn gedagte van Richard Niebuhr).
- Beoefen die teenwoordigheid van die Here ook tydens die onderbrekings in jou lewe. Van die belangrikste dinge wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen wanneer Hy deur iemand onderbreek is. Dink aan die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4), aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Matt. 9:20), en aan Jaïrus wat versoek het dat Jesus sy dogtertjie sou genees (Mark. 5:22).
- Memoriseer ’n vers of ’n gedagte uit die Woord wat jou deur die dag kan herinner aan God se teenwoordigheid in jou lewe. Herhaal dit gereeld.
View all posts in this series
- Inleiding: Beoefen die teenwoordigheid van God - June 14, 2018
- Beoefen die teenwoordigheid van God
- Geloofsgemeenskap - June 28, 2018
- Omgee en dienslewering - July 12, 2018
- Bemoediging - July 26, 2018
- Getuienis - August 9, 2018
- Vrygewigheid - August 23, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar