Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig

Job 28 vorm ‘n duidelike eenheid van gedagtegang, maar word nie direk in die teks self aan Job self gekoppel nie. Baie geleerdes beskou dit daarom as ‘n onafhanklike bydrae oor die wysheid wat eintlik die antwoord van God in hfst. 38-42 vooruitloop. Soos dit egter in die kanoniese vorm van Job ingevoeg is, vorm dit ‘n belangrike deel van sy bepeinsing van wat met hom gebeur, nie net as ‘n reaksie teenoor sy drie vriende nie, maar ook as ‘n verantwoording van wat hy glo. Die wysheid is net by God te vinde. Dit leer selfs Job se ongelukkige ervaring van verlies hom.
Die tema van hierdie besondere bepeinsing van Job word in vers 12 en 20 gevind: “Maar die wysheid, waar word dié gevind (vers 20: waar kom dit vandaan), waar is die woonplek van die insig?” Die antwoord is dat dit nie in die kennis en vaardighede van die mynbou – een van die grootste tegnologiese vooruitgange van dié tyd – gevind word nie (28:1-11). Wysheid is nie ‘n optelsom wat gemaak word aan die hand van alles wat jy weet of kan doen nie.
Die wysheid word ook nie in die wonder van die natuur of ekonomiese voorspoed gevind nie (28:12-19). Wysheid is nie iets wat jy kan verkry deur wetenskaplike studie of deur die verwerwing van rykdom nie. Wysheid is net by God en in die ontsag en eerbied vir Hom te vinde. Dit sluit egter nie net jou hart en gesindheid in nie, maar ook om tegelykertyd die moreel-etiese keuse te maak en uit te voer om die kwaad te vermy (28:20-28). Wysheid betrek jou hart en verstand in jou verhouding met en afhanklikheid van God.
Onlangse kommentaar