Skip to main content

Inleiding: Daaglikse ondersoek

Die eerste geloofsgewoonte fokus op selfondersoek. Dit lê jou diepste motiverings en bedoelings in die lewe bloot sodat jy deur God se krag daarvan verlos kan word.  Dit word veral verbind aan Ignatius van Loyola, ʼn Jesuïet wat ’n hele paar verskillende maniere van daaglikse ondersoek ontwikkel het wat gelowiges persoonlik en in ’n groep kan gebruik.

Deur die daaglikse ondersoek soek jy om God se teenwoordigheid in die alledaagse gebeure in jou lewe en in ander mense se lewe te sien (Fil. 1:9-10; Kol. 1:9).  Dit sluit in om van God se teenwoordigheid bewus te word; om die gebeure van die afgelope dag te deurdink; om te let op jou emosies oor hierdie gebeure – sowel die positiewe as die negatiewe gevoelens; om te let op wat jou getroos en wat jou geruk het; om te vra na God se perspektief daarop; om na te dink oor waar jy die sterkste verbintenis met God beleef het – en waar nie; om jou begeertes deur gebed en smeking na God toe te bring sodat sy vrede jou hart en gedagtes tot rus kan bring (Fil. 4:6-7).

Deur die eeue is daar drie basiese dinge geïdentifiseer wat veral in dié proses gebeur.  Jy raak bewus van jou hoogmoed, wellus en gierigheid en word daarvan verlos.

  • Eerstens raak jy bewus van hoogmoed (pride). Dit gaan hier oor ’n beheptheid met jouself, jou vermoëns en jou mag. Dit gaan veral oor die gewoonte om jou belange voortdurend bo ander mense s’n te stel, ook in jou verhoudings. Jy raak bewus daarvan dat jy geneig is om jou status en vermoëns net tot jou eie voordeel te gebruik.
  • Tweedens raak jy bewus van wellus (lust). Hier gaan dit oor ʼn beheptheid met ervarings en genot, en nie net seksueel nie, maar met enigiets wat ten diepste ’n obsessie met ervarings of genot weerspieël. Dit gaan oor genot ter wille van die genot self.
  • Derdens raak jy bewus van gierigheid (greed). Dit gaan hier nie net oor ʼn beheptheid met jouself, jou genot en jou ervarings nie, maar ook oor ’n obsessie met besittings en die mag wat daarin opgesluit lê, wat die teenoorgestelde van selfontlediging is. Lees meer hieroor in Richard Foster se boek Money, sex, and power.

Soos jy van dié dinge verlos word, raak jy al hoe meer bewus van God se leiding in jou lewe en kan jy Hom met baie meer volharding gehoorsaam.

Jy kan hierdie geloofsgewoonte deur die volgende geloofspraktyke beoefen (die skakels sal mettertyd op die webtuiste bygevoeg word, soos ek dit publiseer – jy sal dit ook in jou Inbox kry). Onthou, werk eers vir twee weke met die eerste een, Stop, Neem waar, Luister. Daarna die gebed van die hart ensovoorts:

  1. Stop, Neem waar, Luister
  2. Gebed van die hart
  3. Daaglikse of weeklikse tye van afsondering en stilte
  4. Eenvoud
  5. Selfbeheersing

Inleiding: Geestelike lees van die Bybel

‘n Geestelike lees van die Bybel is om jou biddend aan God oor te gee sodat jy die lewende stem van God in die Woord van God kan hoor. In plaas daarvan dat jy net die Bybel ontleed en bestudeer om ’n greep op die betekenis daarvan te kry – wat natuurlik ook  ʼn belangrike rol in jou lewe speel – laat jy God eenvoudig toe om deur sy Woord met jou te praat.

Deur sy Woord kry Hy ’n greep op jou lewe. Dit veronderstel natuurlik ’n ingesteldheid van leerbaarheid en vertroue, van luister en oorgawe, sodat jou hele lewe deur God verlig kan word. Só kry jy ook ‘n “luisterende hart” soos Salomo voor gevra het (1 Kon. 3:9).  Dit gebeur deur die Woord en die betekenis daarvan te herkou totdat dit deel word van jou manier van dink en leef.  Só word die Woord vir jou ’n huis om in te woon.

Jy kan hierdie geloofsgewoonte deur die volgende geloofspraktyke beoefen (die skakels sal mettertyd op die webtuiste bygevoeg word, soos ek dit publiseer – jy sal dit ook in jou Inbox kry). Onthou, werk eers vir twee weke met die eerste een, Eenvoudige luistersiklus. Daarna die Volledige luistersiklus en die Geloofsonderskeiding:

  1. Eenvoudige luistersiklus
  2. Volledige luistersiklus
  3. Geloofsonderskeiding

Inleiding: Beoefen die teenwoordigheid van God

Die beoefening van die teenwoordigheid van God word veral met die 17de-eeuse boek Brother Lawrence-The Practice of the Presence of God geassosieer. In hierdie boek het Joseph de Beaufort briewe van en ’n paar gesprekke met Nicholas Herman opgeteken. Nicholas Herman is beter bekend as broer Lawrence, die naam wat hy gekry het in ʼn klooster in Parys waar hy as kok gewerk het. Broer Lawrence het ’n direkte benadering tot die geestelike lewe gevolg en dit was sy doel om álles wat hy gedoen en gedink het “in die Here” en “vir die Here” te doen en te dink.

Hierdie geloofsgewoonte behels om met ’n voortdurende en groeiende bewussyn van en sensitiwiteit vir die Here se teenwoordigheid te leef. Elke oomblik van elke dag is ʼn gawe van God se betrokkenheid in ons lewe. Dit nooi ons uit om in gemeenskap en eenheid met Hom te leef. Soos Paulus in Filippense 1:21 sê: “Want om te lewe, is vir my Christus.”

Jy kan hierdie geloofsgewoonte deur die volgende geloofspraktyke beoefen (die skakels sal mettertyd op die webtuiste bygevoeg word, soos ek dit publiseer – jy sal dit ook in jou Inbox kry). Onthou, werk eers vir twee weke met die eerste een, Beoefen die teenwoordigheid van God. Daarna die omgee en dienslewering ensovoorts:

  1. Beoefen die teenwoordigheid van God
  2. Omgee en dienslewering
  3. Bemoediging
  4. Getuienis
  5. Geloofsgemeenskap
  6. Vrygewigheid

Daaglikse ondersoek: Stop, Neem waar, Luister

Hier is nou die eerste manier om dié geloofsgewoonte te beoefen. John Ackerman se bekende weergawe: Stop … Look … Listen:

Stop: Hou op met die dinge waarmee jy besig is en begin dink.

Probeer só sit dat jy deur ʼn venster kan kyk of gaan sit of stap buite. Jy kan ook kniel. Om jou te help stil word, kan jy op jou asemhaling fokus. Wanneer jy jou asem uitblaas, herhaal hierdie woorde in jou gedagtes: “Ek gee my aan U oor.” Wanneer jy jou asem intrek, herhaal hierdie woorde in jou gedagtes: “Ek wil luister.

Neem waar: Dink terug aan die gebeure van die afgelope dag.

Het jy iets ontvang wat goed of onverwags was? Dink rustig hieroor na en waardeer dit. Probeer om, ten spyte van al die slegte nuus wat jy elke dag hoor en ervaar, die goeie in jou buurt, jou gemeenskap, jou land en in die wêreld raak te sien. Herinner jouself daaraan dat jy nie die middelpunt van die heelal is nie. Dink ook aan die pyn wat jy al ervaar het. Jy was soms self hiervoor verantwoordelik. Vra vergifnis. Ondersoek die aard van jou pyn. Gaan dit regtig oor jou? Is dit regtig so belangrik? Of is jy vasgevang in iets waarvan die Here jou moet vrymaak? As iemand jou te na gekom het, bid dat jy hom of haar sal kan vergewe. Dink ook aan die pyn in die wêreld. Bid vir dié wat daardeur geraak word.

Luister: Fokus op insig, ingewings of gewaarwordings wat jy ervaar het of op ʼn prentjie, ʼn lied of ʼn gedig wat by jou opkom.

Vra jou af of dit jou troos, seën of ontstel. Dink na oor wat God daardeur vir jou wil sê. Bid om helderheid, oortuiging en vrede te ontvang. Skryf jou gedagtes in jou joernaal neer sodat jy mettertyd kan agterkom hoe die Here besig is om jou deur herhalende insigte en ingewings te lei. Wees gehoorsaam aan die lig wat jy ontvang. Gaan leef dit!

Dit is die geloofsgewoonte wat jy nou vir die volgende twee weke getrou gaan beoefen.

Opmerkings hieroor

​Iemand vertel oor sy ervaring met dié geloofsgewoonte:

“Ek het ‘n interessante ervaring ​gehad ​die afgelope tyd​ met my daaglikse ondersoek​.   ​Ek het een oggend wakker ​geword ​met die woord ​​heilig​ in my gedagtes​.  Dit ​het gou ‘n refrein ​geword ​wat my lewe rig , soos ek daaroor nagedink het in my daaglikse ondersoek​​.  Ek ​lees dit ​nou ​oral​s​, in ​die ​Psalms​ (hy gebruik Bybelskool.com se materiaal)​, ​en in my ​Bybelstudie​ (hy volg die gemeente se preekprogram).

Dit raak ​vir my ​’n soort lewensreël. ​Dit help my ook ​om ​bewus ​te ​bly van die Here, elke keer as ek ​deur die dag ​daaraan dink. Dit help my ​selfs ​op ‘n vreemde manier om ander goed reg te doen, bv. ​terwyl ek h​erstelwerk​ doen in my huis en die meenthuis kompleks waar ek woon​. Ek ​het nou ‘n paar keer ervaar hoe ek, terwyl ek besig is met iets en daarmee sukkel, gedagtes ​kry ​hoe ​ek dit anders  kan doen, en dan werk dit​!​ Ek ​begin nou ​selfs wag ​daarvoor ​en beplan vir sulke ingewings​.  Ek lewe ​net al hoe ​meer bewus. ​

Dit het my laat dink aan ‘n sokkerafrigter onderwyser wat my jare gelede geleer het: ​‘stop, think, kick.’​ Dit is ​hoe ‘n mens in sokker sorg dat jy nie net die bal ​beheer​ nie (stop), maar sorg dat jy die bal op die beste manier (think) hanteer, hetsy deur self te dribbel of na ‘n spanmaat in ‘n beter posisie uit te gee (kick)” ! ​En dit is nog maar twee weke!​”​

Eenvoudige luistersiklus

Kies vir jou ‘n teks of ‘n Bybelboek wat jy gaan gebruik. Dit is beter om ‘n korter gedeelte te gebruik of ten minste net op ‘n vers of selfs frase te fokus uit die gedeelte wat jy lees. Dit sal ook goed wees as jy op een gedeelte fokus vir die hele twee weke. Deur elke dag vir twee weke lank op een gedeelte te fokus, sal jou ‘n diep begrip gee van wat God daarmee in jou lewe wil doen.

Ek gee vir jou Psalm 27 aan die onderkant van hierdie bydrae, asook veertien beloftes uit die Bybel, afhangende van jou keuse. Jy kan natuurlik enige gedeelte gebruik.

Gebruik dan die vyf stappe van hierdie eenvoudige weergawe van die geestelike lees wat op die luistersiklus van die Seisoen van Luister gebaseer is.

1. OPENINGSGEBED

U nooi my uit en ek kom nou opnuut by U rus. U praat met my en ek is oop om U weer te hoor.

2. RUS

Raak bewus van jou diepste behoeftes.  Dit kan ’n vraag, ’n behoefte, ’n seer, ’n dankbaarheid … wees.  Gee dit in gebed aan God.

3. LEES

Lees ’n Skrifgedeelte, hardop indien moontlik.  Raak bewus van watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom terwyl jy lees.  Hoe ruk en/of troos hierdie gedeelte jou? Soms hou dit verband met jou behoeftes.  Soms is dit nuwe gedagtes wat God jou gee.

4. LUISTER

Kies een gedagte om oor na te dink.   Wat beteken dit prakties vir jou?  Watter moontlikhede maak God vir jou oop?

5. LEEF

Wat lê die Here nou op jou hart?  Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar of ontgin?  Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af, bv: “U roep en stuur my en ek sal nuut leef.” Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee.

Psalm 27

Die Here my lig en my heil!

 ’N PSALM van Dawid.
1Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?

2As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.

3Al word ’n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ’n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.

4Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

5Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ’n rots.

6En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here.

7Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.

8Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here!

9Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!

10Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.

11Here, leer my u weg en lei my op ’n gelyk pad, vanweë my vyande.

12Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.

13o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … .

14Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!

Jy kan my kommentaar by Bybelskool op die Psalm hier bereik.

14 Beloftes van die Here

  • Dag 1:Hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Korintiërs 1:20).
  • Dag 2:As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Johannes 15:7).
  • Dag 3:Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde.” (Hand 21:8).
  • Dag 4:My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19).
  • Dag 5:Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.” (1 Konings 8:54-61)
  • Dag 6:As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:14).
  • Dag 7:Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spreuke 3:6).
  • Dag 8: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33).
  • Dag 9:En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).
  • Dag 10:Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.” (Psalm 130:5-6).
  • Dag 11:U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.” (Psalm 5:4).
  • Dag 12:Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge in die hart van die see wankel nie; sy golwe kan maar onstuimig wees en skuim, berge kan maar bewe in die bruisende watermassa. Sela” (Psalm 46:2-4).
  • Dag 13:Ja, ‘n son en skild is die HERE God; genade en eer is wat die HERE skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.” (Psalm 84:12).
  • Dag 14:Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” (Klaagliedere van Jeremia 3:25-26).

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda