Skip to main content

Eenvoud

Eenvoud (simplicity) laat val die klem op wat regtig saak maak (Fil 1:10-11) en op ʼn lewe vry van bekommernisse (Matt 6:25-34) en laste (Heb 12:1-3). Dit maak jou vry om ander mense met jou vrygewige diensbaarheid te seën.

Die Here Jesus het ons aangeraai om ’n eenvoudiger leefwyse aan te leer omdat dit sal verseker dat ons ons hart nie op tydelike behoeftes en besittings sal verloor nie, maar eerder vir ons ’n skat in die hemel sal bymekaarmaak (Matt 6:19-21). Eenvoud beteken om ryk te wees in God, om sy koninkryk en sy geregtigheid in alles te soek en om op Hom te vertrou vir wat jy nodig het om te leef.

Paulus self sê in Filippense 4:11-13: “Ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” Daarom kon hy ook sê: “Ek is tot alles in staat deur Hom [Christus] wat my krag gee.”

Om ’n lewe van eenvoud aan te leer is nie maklik in ons verbruikersgerigte samelewing nie. Hier is egter  ʼn paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Maak ’n lys van dinge en aktiwiteite wat jou lewe onnodig ingewikkeld maak. Maak ’n plan om dié dinge en aktiwiteite in jou lewe minder te maak.
  • Neem ’n blaaskans van dié dinge wat jou aandag voortdurend opeis. Dink hier aan enigiets soos die TV, jou selfoon, e-posse, Facebook of Twitter. Sommige mense noem hierdie fokus op eenvoud unplugging. Maak spesifiek tyd in jou program vir oomblikke wanneer jy jou kan “losmaak” van alles wat jou moeg maak en jy net stil kan word, diep gesprekke kan voer, kan lees en in die veld of langs die see kan gaan stap.
  • Maak ’n lys van besittings waarvan jy te veel het of wat nie meer ’n doel in jou lewe het nie. Vrolik iemand anders se lewe daarmee op.
  • Besluit om vir ’n maand lank op ’n eenvoudige dieet te gaan. Doen byvoorbeeld ʼn Daniëlvas van groente, neute, vrugte en water. Dit sal ook tot voordeel van jou gesondheid wees.

Drie vaste gebedstye – met Bybelteks

Die Jode het drie gebedstye gehad, soos ons in Daniël se lewe geïllustreer sien. Hy het drie maal per dag voor God gekniel en Hom geprys, aanbid en gedank (Dan 6:11). In die Joodse tradisie is daar mettertyd ’n uitgebreide aantal voorskrifte vir dié gebede ontwikkel wat vandag nog nagevolg word. Lees my bydrae oor drie vaste gebedstye hier.

Jy kan egter hierdie vaste gebedstye inrig soos jy wil. Ek gee hier my eie drie voorbeelde daarvan met die volledige Bybelteks wat jy kan gebruik. Jy kan dit in hierdie bydrae op jou selfoon lees of die pdf aflaai om uit te druk.

Laai dit hier af in pdf formaat: Drie vaste gebedstye.pdf

Continue reading

Getuienis

Die Christelike lewe begin by die getuienis oor Jesus as die Verlosser. Ons leef die Christelike lewe deur te getuig van sy lewende teenwoordigheid by ons deur sy opstanding en deur te vertel van die impak daarvan op alle fasette van ons lewe.

Getuienis is hoe ons Jesus se Groot Opdrag (Matt 28:20) uitvoer. Dit is hoe ons die hele wêreld bereik (Hand 1:8). Dit sluit in dat ons die werklikheid van Jesus se opstanding en teenwoordigheid sal verkondig; dat ons grense na mense wat anders as ons glo, sal oorsteek om ons geloof met hulle te deel – altyd met ’n diep respek vir hulle verstaansraamwerke; dat ons reis saam met Christus dikwels die aanknopingspunt vir ons getuienis sal wees, en dat ons gasvry sal wees in ons lewe saam met ander mense.

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Skryf op ’n bladsy neer wat jou vandag getref het in jou stiltetyd. Kies iemand wat ’n oortuigde gelowige is en gaan deel dit met hom of haar.
  • Skryf op ’n bladsy neer wat jou ervaring van Jesus Christus die afgelope jaar was. Deel dit met ’n goeie vriend of vriendin of met iemand wat saam met jou in die gemeente is.
  • Trek op ’n bladsy vir jou ’n lewenslyn en merk die hoogtepunte en laagtepunte van jou reis met die Here daarop. Deel dit met iemand wat jy vertrou.
  • Begin bid vir iemand wat nog nie die blydskap van ’n verhouding met Jesus ontdek het nie. Dink aan iemand by jou werk, in die gemeenskap of selfs in jou vriendekring.

Selfbeheersing

Selfbeheersing (wat deel van die vrug van die Gees is, vgl Gal 5:22-23) of kuisheid (chastity) beteken ons verheerlik God deur hoe ons onsself en ander mense behandel. Dit sluit ons gedagtewêreld in (Rom 12:1-2), asook hoe ons kommunikeer (hoe ons ons tong beheer, Jak 3:1-12), ons liggaam (1 Kor 6:12-20) en ons leefstyl (Gal 5:13-26).

Selfbeheersing is gewortel in ’n diep respek en liefde vir jouself en ander mense as deel van die skepping van God. Die eerste liefdesgebod vra immers van jou om God lief te hê “met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand”. Dit sluit jou hele bestaan in. Dit geld ook vir jou naaste, want by die eerste gebod moet jy ook jou naaste liefhê “soos jouself” (Luk 10:27).

Paulus pas dit ook op ons liggaam toe deur te sê: “’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is … wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom. Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor 6:12-20).

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Wees getrou in jou liefdeslewe en in alle ander verhoudings waarin jy staan.
  • Moet glad nie betrokke raak by optrede wat ander mense sal beskaam, beskuldig of gespanne maak nie.
  • Aanvaar jou liggaam, persoonlikheid en menswees as ’n gawe uit die hand van God en loof Hom daarvoor.
  • Fokus op waarderende gedagtes,soos Paulus ons in Filippense 4:8 leer: “Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
  • Sluit aan by of stig ’n aanspreeklikheidsgroep (accountability group) sodat julle mekaar kan ondersteun.
  • Gebruik woorde van bemoediging om ander mense op te bou.
  • Wanneer jy iets leliks van iemand anders gesê het, dink aan nege positiewe eienskappe van daardie persoon wat jy waardeer en gaan sê dit vir hom of haar.
  • Moenie van ander mense skinder, kwaadpraat of geniepsig wees nie.

Vrygewigheid

Om jou besittings vrywillig met ander te deel was nog altyd deel van ʼn leefstyl wat tot eer van God is. Dit is deel van ons rentmeesterskap en ons diens na buite. Vrygewigheid is om ander mense se behoeftes raak te sien en ons gawes vrywillig te gebruik om hulle te help. Dit is om geleenthede om by hulle nood betrokke te raak, aan te gryp. God het immers die blymoedige gewer lief (2 Kor. 9:6-7). Vrygewigheid is om prakties te wys dat alles wat jy het en is van God af kom (Ps 24:1). Dit is om sistematies en doelbewus God se liefde aan ander mense te bewys deur jou hulpbronne en gawes met hulle te deel – liggaamlik, intellektueel, emosioneel, sosiaal, finansieel, materieel en geestelik.

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Maak ’n lys van alles in jou huis wat jy nie meer nodig het nie. Dink biddend vir wie jy hierdie dinge kan gee en gaan leef dan vrygewig deur hierdie mense met dié geskenke te seën.
  • Maak ’n lys van dinge wat die mense in jou gemeenskap nodig het. Vra die Here om jou aandag op een van hierdie behoeftes te vestig. Dink na oor watter hulpbronne jy het om in hierdie behoeftes te kan voorsien. Gaan verryk dan ander mense se lewe met jou vrygewigheid.
  • Maak ’n lys van die dinge waaraan jy verknog is – besittings, tegnologie, ontspanning. Dink biddend na oor hoe jy hierdie verknogtheid kan verbreek deur met minder tevrede te wees. Kies een van hierdie dinge en maak jou daarvan vry deur dit vir iemand anders te gee.
  • Vra ’n paar vriende om saam met jou ’n bediening te begin deur julle spesifieke hulpbronne en gawes te gebruik. Konsentreer daarop om vrygewig te wees met dié dinge waarmee God julle geseën het. Dit sal blydskap bring, nie net vir die mense wat by julle vrygewigheid baat nie, maar ook vir julle.

Onlangse kommentaar