Skip to main content

Beoefen die teenwoordigheid van God

Omdat hierdie geloofsgewoonte eintlik behels dat jy dit as ‘n lewenspraktyk beoefen, d.w.s. dat dit jou hele manier van lewe begin vorm, is hier net ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel.  Jy moet eintlik jou eie spyskaart van geloofsgewoontes opstel – dit sluit die geloofgewoontes by die daaglike ondersoek sowel as die geestelike lees van die Bybel in – om jou te help om al hoe meer te groei in jou bewussyn van God se teenwoordigheid, totdat dit jou só volmaak van Homself, dat jy in Hom begin lewe.

Hier is dus net ‘n paar wenke.  Daar is ook ‘n paar ander geloofgewoontes wat jy in dié tyd kan beproef hierna aangedui.

  • Ontwikkel ’n lewensritme wat jou deur jou dag heen aan God en sy teenwoordigheid herinner.
  • Stuur gereeld skietgebede op, soos Nehemia in die Ou Testament (Neh. 2:4).
  • Gebruik die gebed van die hart wanneer jy bid. Hierdie gebed laat jou fokus op God as die middelpunt van jou lewe. Bid dit gereeld.
  • Stel jou daarop in om alles wat jy doen bewustelik “vir die Here” te doen.
  • Oefen jou daarin om ander mense deur God se oë te sien. Hoe sou Hy reageer op die mens wat nou voor jou staan of jou pad op die een of ander manier kruis?
  • Wanneer jy die daaglikse ondersoek beoefen, doen moeite om na God te luister in die besonderhede van elke dag. Dieselfde geld vir die geestelike lees.
  • Kies vir jou simbole, skilderye, beeldhouwerke, en so meer, wat jou aan God se teenwoordigheid herinner. Sit of hang dit op opsigtelike plekke en doen moeite om elke dag daarna te kyk. Praat met die Here daaroor.
  • Hou rekening met die waarheid dat God werk deur alles wat met jou gebeur. Reageer daarom op alles wat met jou gebeur asof jy op God se betrokkenheid in jou lewe reageer (ʼn gedagte van Richard Niebuhr).
  • Beoefen die teenwoordigheid van die Here ook tydens die onderbrekings in jou lewe. Van die belangrikste dinge wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen wanneer Hy deur iemand onderbreek is. Dink aan die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4), aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Matt. 9:20), en aan Jaïrus wat versoek het dat Jesus sy dogtertjie sou genees (Mark. 5:22).
  • Memoriseer ’n vers of ’n gedagte uit die Woord wat jou deur die dag kan herinner aan God se teenwoordigheid in jou lewe. Herhaal dit gereeld.

Gedagtes oor ons lewe voor God

Om die teenwoordigheid van God te beoefen

 ‘n Paar vooraf opmerkings

1. Om die teenwoordigheid van God te beoefen, is gewortel in die hele idee van ‘n lewe Coram Deo soos die Hervorming beklemtoon het. Die Bybel is vol van voorbeelde daarvan. Dit is my verstaan daarvan, nie ‘n mistiese ervaring nie.

2. Om die Bybel geestelik te lees, of te wel lectio divina, is net so gewortel in die Hervorming. Calvyn sê in sy Institusie die volgende oor wat die lees van die Bybel met jou moet regkry. Dit gaan nie net oor die verstand nie, maar ook oor ‘n lees met die hart:

Maar sodra jy jou daartoe wend om die Heilige Skrif te lees, sal dit jou willens en wetens so lewendig ontroer, jou hart so binnedring en jou binneste so beset dat die krag van redenaars en filosowe in vergelyking met die werking daarvan op jou gevoel byna verdwyn. Gevolglik kan ons geredelik bemerk dat die Heilige Skrif iets Goddeliks adem wat al die gawes en bekoorlikhede van die mense se inspanning ver te bowe gaan.

Die lees van die Bybel gaan uiteindelik oor jou hele lewe. Calvyn waarsku daarom teen ‘n lees van die Skrif wat nie ons transformasie in die oog het nie:

Verder moet ons in gedagte hou dat ons die Skrif moet lees en dat ons ons voortdurend besig moet hou deur die dinge te soek en te bepeins wat op ons stigting afgestem is, en dat ons nie aan nuuskierigheid of aan belangstelling in nuttelose dinge moet toegee nie.

Hierdie geestelike lees van die Bybel is ook iets wat op talle plekke in die Bybel aangeprys word. Dit getuig die groot aantal woorde en frases wat met nadenke, stilword en bepeinsing vertaal kan word, veral in die Psalmboek.

Daarby word God telkens geteken as die Een wat ons gedagtewêreld ken (Ps 139:2), dit wil beheer (Jer 31:33; Fil 4:7; Heb 4:12) en gevolglik wil hê dat ons “gees en gedagtes moet nuut word” (Ef 4:23), soos ook die Psalmis bely: “laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil hê dat ek  moet lewe.” (Ps 51:6).

Ons opdrag as gelowiges is tog juis om elke gedagte gevange te neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor 10:4,5).  Hierin speel stilword en gelowige nadenke of meditasie ‘n belangrike rol, soos ‘n Psalm dit uitdruk: “my siel, keer terug tot jou rus” (Ps 116:7, letterlik vertaal), en: “ek het my siel tot rus en stilte gebring” (Ps 131:2, letterlik vertaal).  Vergelyk ook Jesus in die Nuwe Testament wat stilte as belangrike deel van sy verhouding met sy Vader gebruik het (Mat 14:13; Mrk 6:31).

3. Die ooreenkomste tussen Christelike en Oosterse gebruike, en nog nader aan die huis tussen Bybelse en mistieke piëteit, kan as sodanig natuurlik nie enige grondige basis vir ‘n argument téén sulke gebruike verskaf nie. Die feit dat mense in ander godsdienste en in die mistiek ook bid, kan ons mos nie laat ophou bid nie. Dit is tog die wyse waarop en die God tot wie gebid word, wat die deurslag gee in die betekenis wat Christene aan gebed en enige ander geloofsgewoonte kan heg.

Continue reading

Gebed van die hart

Die gebed van die hart – centering prayer of breath prayer – help jou om voor God tot rus te kom.  Dit help jou om al hoe meer “sonder ophou te bid” (1 Tess. 5:17).  Dit help veral om nie net op die inhoud (verwagtings, versoeke) van jou verhouding met God te fokus nie, maar om regtig in gemeenskap met Hom te kom.   Só kan jy in gemeenskap met God bly regdeur jou lewe.

Dit behels meesal die herhaling van ’n eenvoudige een-sin gebed – baie keer ’n sin of frase uit die Bybel – wat jou behoefte aan God uitdruk en jou help om op Hom te fokus.  Jy kan jou eie teksvers kies om in jou gebed van die hart te gebruik (Ps. 37:4-5 of Matt. 11:28 bv.).

Die gebed wat egter tradisioneel die meeste gebruik word, is die Jesus gebed: “HereJesus Christus, Seun van God …  wees my genadig, ’n sondaar.”  Die eerste frase word baie keer gebid terwyl jy inasem.  Die tweede frase word dan gebid terwyl jy uitasem.

Hier is ʼn paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Kies ’n tyd van die dag wat vir jou die beste sal werk.  ’n Kwartier is ’n goeie tyd om mee te begin.
  • Kies ’n plek waar jy nie onderbreek sal word deur telefone of jou huismense nie.
  • Gebruik simboliekom jou te herinner dat dit ’n spesiale tyd met die Here is.  Steek bv. ’n kers aan of hang vir jou ’n mooi skildery.
  • Stel miskien ’n wekker vir die tyd wat jy gaan besig wees – bv. ’n kwartier – sodat jy glad nie op die tyd hoef te fokus nie.
  • Sit gemaklik met jou voete plat op die grond, jou knieë nie hoër as jou heupe nie en laat rus jou hande gemaklik in jou skoot.
  • Raak bewus van watter gevoelens daar in jou hart is. Erken dit. Gee dit aan die Here (draai simbolies jou handpalms onder toe) sodat jy volledig dáár kan wees.
  • Kyk na jouself deur die oë van God (draai simbolies jou handpalms na bo). Dink daaroor dat God bly is oor jou. Geniet die ervaring van God se rus en vrede.
  • Bid dan die Jesus gebed. Bid: “Here Jesus Christus, Seun van God,” terwyl jy inasem. Bid: “Wees my genadig, ’n sondaar,”  terwyl jy uitasem.
  • Hou daarmee voltot aan die einde van die tyd wat jy daarvoor afstaan.
  • Gedagtes sal opkom by jou wat jou aandag wil wegneem van jou gefokusde gebed. Hou net aan met die Jesus gebed.  Dit sal help om dié indringer gedagtes te laat vervaag.
  • Baie spesifieke gedagtes oor iemand of ‘n saak sal ook soms opkom by jou, veral later in jou gebed, waarvan jy sal besef dat dit belangriker is as die indringer gedagtes. Gee dit vir die Here terwyl jy steeds aanhou met die Jesus gebed.  Skryf dit na die gebedstyd neer en hanteer dit verder.  Jy kan of verder daaroor bid, of kontak maak met die persoon, of beplan hoe jy gaan optree.
  • In jou gebed sal jy tye van eenheid met die Here beleef — ‘n diep vrede en tevredenheid; ‘n ervaring van veiligheid en rus; ‘n gevoel van liefde en eenheid met God in sy teenwoordigheid — wat met tyd langer en intenser sal word. Dit is die doel van die Jesus gebed wat jou al hoe meer in sy teenwoordigheid sal intrek.
  • Jy kan die gebed ook aanvul deur vir ander mense of ’n saak wat die Here op jou hart lê te bid. Bid eers dat die Here jou lei wat om te bid.  Formuleer dit in een-sin wat jy as die gebed van die hart kan bid.  Maak dié gebed dan jou eie deur dit te gebruik op dieselfde wyse as die Jesus gebed.

Volle luistersiklus

Hier is ‘n meer volledige weergawe van geestelik lees (Alice Fryling – The art of listening) wat meer uitgebreid met ses bewegings werk. Jy kan die tekste gebruik wat ek die eerste rondte gegee het:

1. Silencio

Kom tot rus by God en aanvaar die uitnodiging om in sy teenwoordigheid te wees. Gebruik musiek, ’n psalm, ’n meditasie-oefening, of raak net stil in jou omgewing. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) sleg was. Vra die Here vir vergifnis, verandering en vertroosting. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) goed was. Sê vir die Here dankie daarvoor. Bid vir insig wanneer jy die Bybel lees.

2. Lectio

Lees ’n Skrifgedeelte hardop, indien moontlik (of prewel dit soos die Jode dit in die tyd van die Ou Testament gedoen het). Fokus op dié verse of gedagtes wat jou tref. Dink na oor temas in die spesifieke gedeelte. Wat sê dit vir jou oor God? Wat sê dit vir jou oor mense? Wat sê dit vir jou oor die wêreld? Soek na een kerngedagte wat jou besonder diep tref. Skryf dit in jou joernaal neer.

3. Meditatio

Kies een gedagte en oordink die praktiese implikasies daarvan vir jou lewe. Dink na oor wat God vir jou deur die kerngedagte wil sê. Waar raak die gedagtes van die Bybel jou lewe prakties? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of wat moet jy daarmee doen? Wat is die boodskap van hierdie gedagte vir jou dag en lewe? Besluit hoe jy daarop gaan reageer.

4. Oratio

Antwoord God in gebed. Dink aan alles wat jy ervaar het die Here nou aan jou geopenbaar het. Bid ook vir ander mense. Skryf jou gebede in jou joernaal neer.

5. Contemplatio

Geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat. Hierdie beweging kan ’n paar minute of langer duur. Staan een keer per week ’n bietjie meer tyd hieraan af.

6. Incarnatio

Wees gehoorsaam aan wat God sê. Neem die boodskap wat God vir jou gee met jou saam deur jou dag. Leef dit uit.

Geloofsgemeenskap

Ons het begin met broer Lawrence se leefstyl van practising the presence of God. Baie mense ken dit beter as die pasmaat daarvan, die gewoonte van geloofsgemeenskap. Hierdie geloofsgewoonte om die gemeenskap van gelowiges te beoefen en te vier, is egter net so noodsaaklik. Dít doen ons deur ons in te stel daarop om gasvrye ruimtes te skep waarin elke gelowige welkom is net soos hy of sy is. Volgens Joseph Myers sluit dit veral die persoonlike (vriendskaps-) ruimtes in, maar ook die wyer sosiale en openbare ruimtes. Ons moet bereid wees om oor grense heen uit te reik met hierdie geloofsgewoonte.

Die grootste motivering om hier op aarde ʼn geloofsgemeenskap te vestig, lê in die gemeenskap wat daar in die Drie-eenheid bestaan. God staan met Homself in ʼn verhouding. Dit gee vir ons ’n voorbeeld wat ons in ons verhoudings met mekaar kan navolg. In die praktyk gebeur dit waar egte verhoudings in liefde met en vir mekaar gevestig en gebou word. Ons moet saam wees. Die inhoud hiervan lê in al die “mekaar”-tekste wat in die Nuwe Testament voorkom: “aanvaar mekaar” (Rom 15:7); “vergewe mekaar” (Ef. 4:32); “praat mekaar moed in” (1 Tess 5:11), en “bid vir mekaar” (Jak 5:16). Dit is ons gedeelde taal.

Dit sluit ook in ’n verbintenis aan die roeping van ’n spesifieke gemeenskap. Sommige noem dit ’n verbondsgemeenskap (covenant community), en ons sien ʼn voorbeeld hiervan in die gemeente in Antiogië in Sirië (Hand 13).

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel (ons fokus spesifiek op die “mekaar”-tekste in die Nuwe Testament):

  • Aanvaar mekaar: Gaan praat met iemand om vir hulle te wys jy aanvaar hulle. Aanvaarding beteken onder meer jy gun ander mense die reg om hulle standpunte oor ʼn saak te hê. Dit is maklik om selfs in jou aanvaarding steeds krities te wees. Een manier om dit te voorkom is om ’n lys te maak van iemand se positiewe eienskappe en dit vir daardie persoon te gaan gee. Wees eerlik en opreg.
  • Vergewe mekaar: Vra die Here om jou te help om iemand wat jou seergemaak het, te vergewe. Dit help om te onthou dat God jou vergewe het sonder dat jy iets daarvoor gedoen het of dit verdien. Jy sal ervaar dat vergifnis jou vrymaak van die verkeerde dinge wat aan jou gedoen is.
  • Praat mekaar moed in: Dink aan iemand wat swaarkry, moedeloos is of baie druk ervaar. Bid vir die regte woorde en gaan praat daardie persoon moed in. Bemagtig hom of haar, maar vermy dit om raad te gee.
  • Bid vir mekaar: Om vir mekaar te bid, bly een van die belangrikste maniere om aan mekaar verbind te bly. Kies een mens, vra vir hom of haar waarvoor jy vir hom of haar kan bid … en bid dan vir die persoon. Dit sal nog beter werk as julle vir mekaar bid.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda