Skip to main content

Drie vaste gebedstye vir elke dag

Ons lees in Handelinge 3 dat Petrus en Johannes tempel toe is vir die gebedstyd. Dit was die gebedstyd om 15:00 die middag (die negende uur van sonop af), een van die drie vaste daaglikse gebedstye van die Jode.

Die Here gebruik dié dag hierdie gebedstyd op twee besondere maniere. Op pad daarheen lei Hy hulle eerstens om ’n verlamde man in sy Naam te genees. Dit word tweedens ’n kragtige getuienis aan die volk by die tempel waarop nog 2 000 mense tot bekering gekom het. Die tempel was nie verniet die huis van gebed genoem nie (2 Kron 6:19-21; Jes 56:7; Mark 11:17; Matt 21:13; Luk 19:46)! Die getal Christene is só deur die Here aangevul tot 5 000 gelowiges (Hand 4:4).

Dit is ook waarskynlik onder andere hierdie vaste gebedstye wat as een van die vier vernaamste geloofsgewoontes van die vroeë Christene genoem word. Lukas skryf dat hulle gefokus het op die gebede saam met die leer van die apostels, die onderlinge verbondenheid, en die gemeenskaplike maaltyd (Hand 2:42). Die gebede het hierdie vaste gebedstye ingesluit.

Regdeur Handelinge lees ons daarom dat die vroeë kerk in gebed volhard het (Hand 1:14; 2:42; 3:1; 4:23-31; 6:4,6; 9:11; 10:4,9,31; 12:12; 13:3; 14:23; 16:25; 20:36; 21:5; 28:8). Dit was ’n lewensbelangrike verbintenis aan God, mekaar en hulle roeping in hierdie wêreld.

Benewens die vaste gebedstye was daar natuurlik ook vaste Bybelse gebede wat hulle gebruik het:

  • Uit die Skrifte het hulle byvoorbeeld die Psalms gebid en gesing (Mark 14:26; Matt 26:30 [Een van die Hallel Psalms, Ps 113–118]; Kol 3:16).
  • Uit Jesus se onderrig het hulle die Ons Vader as modelgebed gebruik (Matt 6:5-15; Luk 11:1-13).
  • Uit Paulus se briewe kon hulle vier van die lewensveranderende gebede gebruik wat Hy vir en namens hulle gebid het (Ef 1:17-19; 3:14-21; Fil 1:9-10; Kol 1:9-12).

Daar was natuurlik ook spontane gebede soos ons op talle plekke lees (bv Hand 4:23-31).

Al hierdie tipe gebede het dus Bybelsgesproke hulle plek in die Christelike lewe. Soos Paulus ons aanraai: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.” (Ef 6:18).

Beproef drie vaste gebedstye

Ek wil jou dus aanmoedig om die idee van vaste gebedstye te beproef. Vir dié wat op reis is met die geloofsgewoontes is dié ‘n bonus!

Ek gee hier my eie drie voorbeelde daarvan met die volledige Bybelteks wat jy kan gebruik. Jy kan dit in hierdie bydrae op jou selfoon lees of die pdf aflaai om uit te druk.

Laai dit hier af in pdf formaat: Drie vaste gebedstye.pdf

Continue reading

Omgee en dienslewering

Omgee vir of diens aan ander mense is die vervulling van die tweede liefdesgebod – om jou naaste lief te hê soos jouself (Matt 22:39). Jesus se hele bediening was ’n bediening van omgee (Luk 4:14-44; vgl Jes 58; 61). Hy het die behoeftiges en noodlydendes gehelp. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is die meesterverhaal wat vir ons wys hoe belangrik omgee is (net so belangrik soos gasvryheid). Omgee is immers in wese ’n prentjie van wie God as die barmhartige God is (Ps 145:8-9). Wanneer ons vir ander omgee, seën God die aarde; Hy gebruik ons om vir ander tot seën te wees, volgens sy belofte aan Abraham (Gen 12). Jesus verwag ook van ons om vir ander mense om te gee. Hy het gesê: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is” (Luk 6:36).

Omgee vra van ons om oë en ’n hart vir ons naaste te hê, en dan hande en voete aan ons gevoel van barmhartigheid en omgee te gee: “Wie aardse besittings het en sy broer [of suster] sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom [of haar] het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh 3:17). Omgee is ’n lewe van diens, ʼn lewe van omgee, ʼn lewe waarin ander mense se belange vir jou net so swaar weeg soos jou eie, ʼn lewe waarin jy jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik om vir ander te sorg, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom.

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Dink aan mense wat in nood is, soos weduwees, weeskinders of minderbevoorregtes. Dink biddend vir wie jy iets prakties kan doen deur jou invloed te gebruik of deur ’n uitstappie te reël, met inkopies te help of regshulp of maatskaplike hulp te verleen. Gaan doen dit dan.
  • Vra vir iemand: “Wat kan ek vandag vir jou doen?” Dit kan iemand in jou familie of in jou vriende- of werkkring wees. Dit kan iets klein of groot wees. Dit kan iets moeilik of maklik wees. Maar gaan doen dit!
  • Kies ʼn sendeling of ʼn gesin vir wie julle as gemeente in hulle bediening ondersteun. Vra vir hulle wat jy vir hulle kan doen. Miskien het hulle kruideniersware nodig wat jy vir hulle kan stuur. Dalk kan jy hulle help met hulle banksake of ander administratiewe take vir hulle doen. Vind uit wat jy kan doen … en doen dit dan.
  • Maak ’n ekstra bord kos en bêre dit in die vrieskas vir iemand wat dit dalk kan nodig kry. Bergsig, ʼn gemeente in KwaZulu-Natal, het dit hulle gemeenteprojek gemaak. Die gemeentelede bring hierdie ekstra borde kos kerk toe, waar hulle dit in ’n paar vrieskaste bêre. Hulle dien dan die gemeenskap deur hierdie borde kos aan die behoeftiges uit te deel. ʼn Mooi plakker op die yskas sal jou help om van die kos te onthou. Gaan doen dit gerus.

Daaglikse of weeklikse tye van afsondering en stilte

In ons gejaagde lewe is dit eintlik noodsaaklik om tye van “afsondering en stilte” opsy te sit om tyd met die Here alleen te spandeer. Dit is die oorspronklike bedoeling van “stiltetyd”.  Ons volg hierin die voorbeeld van die Here Jesus wat ‘n gewoonte daarvan gemaak het: “Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.” (Luk. 5:16; vgl. ook Mark. 1:35; Luk. 4:42).

Sonder dat ons egter doelbewus moeite doen om genoeg tyd te maak daarvoor – tyd waarin ons nie onderbreek word deur enigiets nie – sal ons nie hierin slaag nie.  Die wonder is egter dat as ons dit reg kry om tyd te vind om gereeld “afsondering en stilte” te beoefen, ons nie net sal vind dat dit ‘n tyd raak waarin ons van die ander geloofsgewoontes kan beoefen nie, maar dat ons inderdaad die Here daar sal ontmoet.

Hier is ‘n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel en jou eie tyd van “afsondering en stilte” te skep:

  • Begin om óf daagliks (vyftien minute of langer) óf weekliks (‘n halwe dag of meer)  tyd opsy te sit vir “afsondering en stilte”.   Hou daarby sodat jy in ‘n gereelde ritme kan kom.
  • Moet veral aanvanklik nie die tyd spandeer om te lees of selfs te luister na musiek nie. Dit sal jou steeds oorlaai met inligting.  Jou fokus is om stil te raak voor die Here en in sy teenwoordigheid te kom. Gemeenskap met Hom is die mikpunt van “afsondering en stilte”.
  • Fokus op die gedagtes en gevoelens wat God in dié tyd by jou losmaak, beide die verontrustende ervarings sowel as die bevestigende ervarings. Luister na wat God daardeur vir jou wil sê.
  • Laat jou gebede uit die gedagtes en gevoelens van hierdie stilword voor die Here voortvloei. Van die diepste werk wat God in ons binneste doen, gebeur in sulke tye van “afsondering en stilte”.
  • Indien daar in jou omgewing moontlikhede is om ‘n retraitete onderneem, kan dit baie help om dié proses te begin.
  • Mettertyd kan jy ander geloofsgewoontes deel van hierdie stiltetyd maak– daaglikse ondersoek, joernaal, geestelike lees ensomeer.  Maar as jy dit te gou doen, sal die voordeel van stilwees vir jou verlore raak.

Geloofsonderskeiding

Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktiese lewe te herken. ’n Ander woord hiervoor is wysheid (Fil 1:9-10; Jak 1:5). Dit sluit in om te luister na die getuienis van God se werk in ander mense se lewe, om aan almal die geleentheid te gee om hulle perspektief daarop te deel, en om na die Bybel te luister en alles daaraan te toets totdat daar ’n algemene instemming is oor wat God se wil is. Dit sluit ook in om by God tot ruste kom, om na ander stemme as net jou eie te luister, om as individue en gesamentlik te bid, en om bereid te wees om te gaan leef wat jy hoor.

Ons sien geloofsonderskeiding in aksie in die verhaal in Handelinge 15 waar die kerk moes onderskei wat die beste pad sou wees om te volg ten opsigte van die vraagstuk oor die insluiting van gelowiges uit die heidendom by die Christelike geloofsgemeenskap. Uit hierdie eerste geloofsonderskeidende vergadering kry ons die volgende riglyne:

Continue reading

Bemoediging

Die wêreld is baie mededingend. Dit is onvermydelik dat mense onder hierdie wedywering sal ly en swaarkry. Selfs die natuur ly daaronder. Jesus het in sy tyd op aarde vir hierdie mense omgegee, deernis met hulle gehad en hulle bemoedig. Die vroeë kerk het Hom hierin nagevolg. Die apostel Barnabas het sy omgewing en die mense daarin aangeraak met sy bemoediging (compassion), deur sy aanvanklike groot vrygewigheid in Jerusalem, en deur sy menswees en bediening in Antiogië (vgl sy verhaal in Hand 4; 9; 11; 13 – 15).

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Maak ’n lys van mense wat jou bemoedig. Skryf langs elkeen se naam een behoefte wat hulle dalk kan ervaar. Dink biddend na oor watter van hierdie behoeftes jy kan vervul en bemoedig hierdie mense deur in hulle behoeftes te voorsien.
  • Maak ’n lys van mense in jou gemeenskap wat bemoediging nodig het. Dink biddend na oor watter mense op jou lys die Here op jou hart lê en gaan bemoedig dan hierdie mense.
  • Maak ’n lys van mense wat nie deel van jou gemeenskap is nie. Dink biddend na oor watter mense op jou lys die Here op jou hart lê en gaan bemoedig hulle deur te voorsien in ’n spesifieke behoefte wat hulle ervaar.
  • Gesels met drie vriende oor jou lewensingesteldheid. Hoe ervaar ander mense jou? Is daar swak plekke in hoe jy ander mense hanteer? Hoe voel dit vir ander mense om jou vriende te wees? Wys jy dat jy in ander mense belangstel? Praat jy meestal oor jouself?

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda