Joël 3:1-21 – God bring oordeel oor die nasies, maar redding vir sy volk in Sion

prayer-shawlHierdie laaste hoofstuk vestig die aandag op die tyd ná die ballingskap wanneer die Here die lot van Juda en Jerusalem sal verander. Die kosmiese tekens wat dit vergesel (3:15-16) beteken dat dit nie net vir die afsienbare toekoms betekenis het nie, maar ook vir die oordeelsdag: “die dag waarop die Here sal straf in die beslissingslaagte” (3:14).

Dit kan opgedeel word in die volgende vier dele:

  • 3:1-3 – God verander die lot van sy volk
  • 3:4-8 – God vergeld die nasies volgens hulle dade
  • 3:9-17 – God voer sy finale kosmiese oordeel uit in beslissingslaagte
  • 3:18-21 – God gee oorvloed vir sy volk in sy blywende reddende teenwoordigheid

3:1-3 – God verander die lot van sy volk

Dit is duidelik dat die Here se oordeel altyd dié twee kante het: verwoesting en voorspoed. Joël sien ‘n tyd waar die nasies geoordeel sal word vir hulle onbarmharige (lootjies) en onregverdige (handeldryf) hantering van die Godsvolk in die verstrooiing. Die feit dat dit by die Josafatlaagte sal gebeur, is nie soseer van geografiese belang nie, maar van teologiese belang, want die naam Josafat beteken “beslissing” of “veroordeling”. God sal dus sy beslissing oor die Godsvolk en die nasies deur oordeel en redding openbaar.

3:4-8 – God vergeld die nasies volgens hulle dade

Die aangrensende Fenisiërs (Tirus en Sidon) en Filistyne aan die kuslyn van die Middellandse See word uitgesonder vir hulle aandeel in die leed wat Juda en Jerusalem ervaar het. Hulle het hulle vergryp aan beide die goedere in die tempel sowel as aan die mense van Juda en Jerusalem. Waar hulle egter die Jode in die noordweste in Griekeland gaan verhandel het (vgl. Eseg. 27 wat ook hierna verwys), sal hulleself ironies genoeg ver aan die teenoorgestelde kant, die suidweste in Skeba (waarskynlik óf Jemen óf Somalië/Ethiopië), verkoop word.

Let op die retoriese vrae wat die Here vra waarop die antwoorde telkens nee is. Nee, hulle is nie die Here s’n nie. En, nee, hulle sal hulle nie kan wreek op wat die Here vir hulle beplan nie. Hy gaan hulle eie dade op hulle kop laat afkom. Presies soos hulle teenoor sy volk opgetree het, só sal die Here teenoor hulle optree. Hulle het Hom verag deur sy goed te steel, sowel as sy mense. Nou gaan die Here dieselfde aan hulle doen.

Let op dat dié deel van die profesie eintlik bedoel is as ‘n troos vir die gevoel van verontregting wat die volk kon ervaar in die wyse waarop die ballingskap en verstrooiing gebeur het. Die wrede uitbuiting en onverdiende mishandeling van die buurnasies wat eintlik Juda se belange op die hart moes dra, gaan nie ongesiens verby nie. Die Here sal regstelling bring. Hy straf onreg, al neem dit ook ‘n tyd.

3:9-17 – God voer sy finale kosmiese oordeel uit in beslissingslaagte

Kommentare wys op die ironiese karakter van dié opdrag van die Here dat die nasies hulle plaasgereedskap in oorlogsgereedskap moet verander. Daarmee demonstreer die Here egter dat sy oordeel hulle gaan tref. Hy raai hulle aan om gereed te maak, maar vir ‘n oorlog wat hulle nie kan wen nie. Hy roep hulle dus op tot aksies wat op hulle eie vernieting gemik is.

Om van ploegskare swaarde te maak en van snoeiskêre spiese laat vrede en voorspoed in die niet verdwyn, soos ons vandag nog regoor die wêreld sien, maar ook baie spesifiek in die Midde-Ooste. Waar God nie gedien word nie, daar neem eiegeregtigheid en selfverydeling oor, soos ons nou onlangs ook weer in Jemen gesien het.

Dié opdrag van die Here is dus presies die teenoorgestelde van die opdrag aan Juda en Jerusalem in Jesaja 2:2-4 en aan die nasies in Miga 4:3 om van hulle swaarde ploegskare en van hulle spiese snoeiskêre te smee. Dáár wil die Here vrede en voorspoed bring. Hiér wil die Here sy oordeelsbeslissing ten uitvoer bring. Dieselfde objekte in die metafore word dus vir radikaal teenoorgestelde bedoelings ingespan – oordeel en redding.

Let op die kort “skietgebed” van Joël in vers 11 waar hy vra dat die Here tog gereed sal wees vir dié ontmoeting met die nasies! “Bring u leërmag af daarheen, Here!” – waarskynlik slaan dit op sy hemelse leërmag – waarop die Here dan op uitgebreide wyse antwoord: “Dáár sal Ek sit om al die nasiese van die omgewing te straf …” (vers 12 vv.).

Die Here word egter nie net as Krygsman geteken wat die nasies verwoes nie, hoewel die metafore van die oes (afsny met die sekel) en parskuip (vertrap met die voete) op ‘n hardhandige insameling en geweldadige hantering dui. Hy is ook die Regter wat sy beslissing onherroeplik uitbring oor die “mense en nogmaals mense in die beslissingslaagte.

Die katastrofale kosmiese begeleidende tekens hiervan – dat die son, maan en sterre donker word – beteken dat hierdie profesie ‘n eindtydelike perspektief het wat gemik is nie net op die herstel van die Godsvolk op aarde nie, maar op die erkenning van God se heerskappy reg deur die heelal: “Die Here sal uit Sion brul … hemel en aarde sal bewe.” (vers 16).

3:18-21 – God gee oorvloed vir sy volk in sy blywende reddende teenwoordigheid

In ‘n reeks metafore van oorvloed – volop wyn, oorvloed melk, oorvloed water – word die toekoms van Juda en Jerusalem geteken. Die feit dat dit “op die berge” en “op die heuwels” en “in al die slote van Juda” gesien en ervaar sal word, dui op die oorvloed van God se blywende reddende teenwoordigheid.

Dié prentjie van paradysagtige oorvloed word gekontrasteer met die lot wat Egipte en Edom sal tref: droogte en onherbergsaamheid, weens hulle wreedheid en onregverdige hantering van die Godsvolk. Joël verwys hier moontlik na die wêreldkonflik tussen die Galdeërs en Egipte waarin Juda vasgevang was en die onderspit gedelf het, sowel as na die onbehulpsaamheid van Edom, van wie hulle weens hulle familiebande (Edom is die nakomelinge van Esau, die broer van Jakob) meer kon verwag het in die ballingskap.

Die herstel sal egter hoofsaaklik geestelik wees. Vanuit die heiligdom sal ‘n fontein uitborrel wat die dal in Sittim sal natlei. Dit kan op ‘n onbekende plek dui waar akkasia (Sittim) bome groei, soos baie vertalings dit het. Maar die woord Sittim kan moontlik ook verbind word met nie net die plek vanwaar Josua Kanaän binne gegaan het (vgl. Jos. 2) waarna Hosea 5:2 verwys nie, maar ook die plek waar Israel voorheen van Hom afvallig geword en by die Moabitiese Baäl-Peor vrugbaarheidsgodsdienste se onsedelikheid betrokke geraak het (vgl. Num. 25) waarna Hosea 9:10 verwys.

Die Here herstel dus die verhouding met Hom en vergewe hulle die afvalligheid, selfs: “die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie”. “En Ek, die Here sal op Sion woon.” Die redding wat God bring is vir altyd. Hy is by hulle vir altyd.

Boodskap

Hierdie laaste hoofstuk onderstreep die troos wat die Here tóg vir die volk wil gee, al kom die ballingskap onafwendbaar. Die brandende vraag na wat hierná sal gebeur, word op twee maniere beantwoord:

  1. God sal nie die onreg en verydeling wat die nasies aan Juda uitdeel, ongestraf laat bly nie.
  2. God sal die lot van die volk herstel en hulle weer blywend in sy teenwoordigheid verwelkom.

Die metafore wat gebruik word, dui egter op ‘n kosmiese en eindtydelike lotsverandering wat nie volledig vervul kon word met die terugkeer uit ballingskap nie. Daar bly dus ‘n uitstaande komponent van dié belofte, ‘n belofte waaraan ook ons deel sal hê, soos Openbaring 22 verder op Joël se visie sal voortborduur in die NT.

Joël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Ek vannag Walker geword en die word joe-el …..Joel gehoor en duidelik gevoel dat dit n boodskap in die Bybel vir die Afrikaner is. Ek verstaan dit nie.Ek wel gevoel DAT die boodskap dringend is……gewonder of u dalk kan help met betekenis….

    • Joël tree waarskynlik op in die tyd van Jeremia net voor die ballingskap in die 6de eeu vC. Sy profesieë is in die eerste plek gerig aan Juda en Jerusalem. Hy verkondig die oordeel van die ballingskap soos dit ‘n paar dekades later in 587 vC vervul is. Hy verkondig egter ook die verlossing uit ballingskap soos dit ná sewentig jaar in ballingskap ook vervul is. Sy boodskap het egter ook in die tweede plek op die nasies betrekking. Daar is oordeel vir dié wat Hom nie dien nie. Maar ook verlossing as hulle hulle toevlug tot Hom neem. Daarom verkondig Joël dat God se Gees op alle mense uitgestort sal word, iets wat in die NT met Pinksterdag waar geword het. Dit is ‘n boodskap vir alle mense, ook vir Afrikaanse mense. God wil dat alle mense oral tot bekering sal kom (Hand 17).

  • Goeiedag Chris.
    Brei asb uit oor die belangrikheid in Joel 1,v 14 “roep die gemeente bymekaar, bring die leiers en al die inwoners van die land na die huis van die Here en roep saam na die Here julle God toe”

    • Hi Tom – Die krisis wat die Here hier afkondig oor Juda is gemik daarop dat daar ‘n nuwe eendragtigheid onder die volk onder leiding van die priesters gevestig kan word. Die priesters moet daarom ‘n vasdag bepaal waar al die leiers en die inwoners van die land bymekaar kan kom om na die Here te roep. Wat hulle beleef, is ‘n “dag van die Here”, ‘n dag waarin Hy verwoestende bedreigings gebruik om hulle tot bekering te roep. Die verwoestende effek daarvan word weereens in terme van die tempel ekonomie uitgespel, sowel as in terme van die saaiboere se skade, maar nou ook bykomend in terme van die veeboere wie se vee bulk en blêr. Die profeet self roep hartroerend tot die Here en wys dat hy raaksien wat gebeur, dat dit hom diep raak en verklaar dat hulle almal, soos die diere, “wag op uitkoms van U af.”
      Boodskap
      Dit is regtig fundamenteel dat die boodskap van die Here van geslag tot geslag oorgedra moet word, nie net in goeie tye nie, maar ook in tye van verlies en vernietiging. ‘n Mens sou selfs kon sê, veral in tye van vernietiging. Ons staan immers in ‘n geloofsverbintenis nie net met die gelowiges wat saam met ons aanbid nie, maar veral en in die eerste plek in ‘n geloofsverbintenis met ons kinders en kleinkinders en selfs verder aan in die geslagte.
      Dit is ook net so fundamenteel deel van die boodskap van die Here dat verlies en vernietiging ‘n oproep tot samehorigheid en eendragtigheid is vir die hele geloofsgemeenskap. Dit is hierdie tye wat deur die Here gebruik word om mense tot inkeer en ‘n herverbintenis aan Hom te bring wat só noodsaaklik is as soeke na en die wag op die uitkoms van die Here. Soos Joël kan ons dan ook uitroep dat ons “wag op uitkoms van U af.” Daarom is vas en bid so belangrik.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: