Skip to main content

Joël 3:1-21 – God bring oordeel oor die nasies, maar redding vir sy volk in Sion

prayer-shawlHierdie laaste hoofstuk vestig die aandag op die tyd ná die ballingskap wanneer die Here die lot van Juda en Jerusalem sal verander. Die kosmiese tekens wat dit vergesel (3:15-16) beteken dat dit nie net vir die afsienbare toekoms betekenis het nie, maar ook vir die oordeelsdag: “die dag waarop die Here sal straf in die beslissingslaagte” (3:14).

Dit kan opgedeel word in die volgende vier dele:

  • 3:1-3 – God verander die lot van sy volk
  • 3:4-8 – God vergeld die nasies volgens hulle dade
  • 3:9-17 – God voer sy finale kosmiese oordeel uit in beslissingslaagte
  • 3:18-21 – God gee oorvloed vir sy volk in sy blywende reddende teenwoordigheid

3:1-3 – God verander die lot van sy volk

Dit is duidelik dat die Here se oordeel altyd dié twee kante het: verwoesting en voorspoed. Joël sien ‘n tyd waar die nasies geoordeel sal word vir hulle onbarmharige (lootjies) en onregverdige (handeldryf) hantering van die Godsvolk in die verstrooiing. Die feit dat dit by die Josafatlaagte sal gebeur, is nie soseer van geografiese belang nie, maar van teologiese belang, want die naam Josafat beteken “beslissing” of “veroordeling”. God sal dus sy beslissing oor die Godsvolk en die nasies deur oordeel en redding openbaar.

3:4-8 – God vergeld die nasies volgens hulle dade

Die aangrensende Fenisiërs (Tirus en Sidon) en Filistyne aan die kuslyn van die Middellandse See word uitgesonder vir hulle aandeel in die leed wat Juda en Jerusalem ervaar het. Hulle het hulle vergryp aan beide die goedere in die tempel sowel as aan die mense van Juda en Jerusalem. Waar hulle egter die Jode in die noordweste in Griekeland gaan verhandel het (vgl. Eseg. 27 wat ook hierna verwys), sal hulleself ironies genoeg ver aan die teenoorgestelde kant, die suidweste in Skeba (waarskynlik óf Jemen óf Somalië/Ethiopië), verkoop word.

Let op die retoriese vrae wat die Here vra waarop die antwoorde telkens nee is. Nee, hulle is nie die Here s’n nie. En, nee, hulle sal hulle nie kan wreek op wat die Here vir hulle beplan nie. Hy gaan hulle eie dade op hulle kop laat afkom. Presies soos hulle teenoor sy volk opgetree het, só sal die Here teenoor hulle optree. Hulle het Hom verag deur sy goed te steel, sowel as sy mense. Nou gaan die Here dieselfde aan hulle doen.

Let op dat dié deel van die profesie eintlik bedoel is as ‘n troos vir die gevoel van verontregting wat die volk kon ervaar in die wyse waarop die ballingskap en verstrooiing gebeur het. Die wrede uitbuiting en onverdiende mishandeling van die buurnasies wat eintlik Juda se belange op die hart moes dra, gaan nie ongesiens verby nie. Die Here sal regstelling bring. Hy straf onreg, al neem dit ook ‘n tyd.

3:9-17 – God voer sy finale kosmiese oordeel uit in beslissingslaagte

Kommentare wys op die ironiese karakter van dié opdrag van die Here dat die nasies hulle plaasgereedskap in oorlogsgereedskap moet verander. Daarmee demonstreer die Here egter dat sy oordeel hulle gaan tref. Hy raai hulle aan om gereed te maak, maar vir ‘n oorlog wat hulle nie kan wen nie. Hy roep hulle dus op tot aksies wat op hulle eie vernieting gemik is.

Om van ploegskare swaarde te maak en van snoeiskêre spiese laat vrede en voorspoed in die niet verdwyn, soos ons vandag nog regoor die wêreld sien, maar ook baie spesifiek in die Midde-Ooste. Waar God nie gedien word nie, daar neem eiegeregtigheid en selfverydeling oor, soos ons nou onlangs ook weer in Jemen gesien het.

Dié opdrag van die Here is dus presies die teenoorgestelde van die opdrag aan Juda en Jerusalem in Jesaja 2:2-4 en aan die nasies in Miga 4:3 om van hulle swaarde ploegskare en van hulle spiese snoeiskêre te smee. Dáár wil die Here vrede en voorspoed bring. Hiér wil die Here sy oordeelsbeslissing ten uitvoer bring. Dieselfde objekte in die metafore word dus vir radikaal teenoorgestelde bedoelings ingespan – oordeel en redding.

Let op die kort “skietgebed” van Joël in vers 11 waar hy vra dat die Here tog gereed sal wees vir dié ontmoeting met die nasies! “Bring u leërmag af daarheen, Here!” – waarskynlik slaan dit op sy hemelse leërmag – waarop die Here dan op uitgebreide wyse antwoord: “Dáár sal Ek sit om al die nasiese van die omgewing te straf …” (vers 12 vv.).

Die Here word egter nie net as Krygsman geteken wat die nasies verwoes nie, hoewel die metafore van die oes (afsny met die sekel) en parskuip (vertrap met die voete) op ‘n hardhandige insameling en geweldadige hantering dui. Hy is ook die Regter wat sy beslissing onherroeplik uitbring oor die “mense en nogmaals mense in die beslissingslaagte.

Die katastrofale kosmiese begeleidende tekens hiervan – dat die son, maan en sterre donker word – beteken dat hierdie profesie ‘n eindtydelike perspektief het wat gemik is nie net op die herstel van die Godsvolk op aarde nie, maar op die erkenning van God se heerskappy reg deur die heelal: “Die Here sal uit Sion brul … hemel en aarde sal bewe.” (vers 16).

3:18-21 – God gee oorvloed vir sy volk in sy blywende reddende teenwoordigheid

In ‘n reeks metafore van oorvloed – volop wyn, oorvloed melk, oorvloed water – word die toekoms van Juda en Jerusalem geteken. Die feit dat dit “op die berge” en “op die heuwels” en “in al die slote van Juda” gesien en ervaar sal word, dui op die oorvloed van God se blywende reddende teenwoordigheid.

Dié prentjie van paradysagtige oorvloed word gekontrasteer met die lot wat Egipte en Edom sal tref: droogte en onherbergsaamheid, weens hulle wreedheid en onregverdige hantering van die Godsvolk. Joël verwys hier moontlik na die wêreldkonflik tussen die Galdeërs en Egipte waarin Juda vasgevang was en die onderspit gedelf het, sowel as na die onbehulpsaamheid van Edom, van wie hulle weens hulle familiebande (Edom is die nakomelinge van Esau, die broer van Jakob) meer kon verwag het in die ballingskap.

Die herstel sal egter hoofsaaklik geestelik wees. Vanuit die heiligdom sal ‘n fontein uitborrel wat die dal in Sittim sal natlei. Dit kan op ‘n onbekende plek dui waar akkasia (Sittim) bome groei, soos baie vertalings dit het. Maar die woord Sittim kan moontlik ook verbind word met nie net die plek vanwaar Josua Kanaän binne gegaan het (vgl. Jos. 2) waarna Hosea 5:2 verwys nie, maar ook die plek waar Israel voorheen van Hom afvallig geword en by die Moabitiese Baäl-Peor vrugbaarheidsgodsdienste se onsedelikheid betrokke geraak het (vgl. Num. 25) waarna Hosea 9:10 verwys.

Die Here herstel dus die verhouding met Hom en vergewe hulle die afvalligheid, selfs: “die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie”. “En Ek, die Here sal op Sion woon.” Die redding wat God bring is vir altyd. Hy is by hulle vir altyd.

Boodskap

Hierdie laaste hoofstuk onderstreep die troos wat die Here tóg vir die volk wil gee, al kom die ballingskap onafwendbaar. Die brandende vraag na wat hierná sal gebeur, word op twee maniere beantwoord:

  1. God sal nie die onreg en verydeling wat die nasies aan Juda uitdeel, ongestraf laat bly nie.
  2. God sal die lot van die volk herstel en hulle weer blywend in sy teenwoordigheid verwelkom.

Die metafore wat gebruik word, dui egter op ‘n kosmiese en eindtydelike lotsverandering wat nie volledig vervul kon word met die terugkeer uit ballingskap nie. Daar bly dus ‘n uitstaande komponent van dié belofte, ‘n belofte waaraan ook ons deel sal hê, soos Openbaring 22 verder op Joël se visie sal voortborduur in die NT.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Joël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.